Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel: Jerusalem Pride uiteindelik!

Egon se nuusbrief uit Israel: Jerusalem Pride uiteindelik!


Egon - 2006-11-28


Embleem

Ek sit nog en wonder oor wat om volgende te doen, toe die oproep kom. “Die Hooggeregshof het besluit: die Jerusalem Pride sal voortgaan – nie as optog nie, maar as byeenkoms in die universiteitstadion!” Ek is op en uit in my mooi Yaris op pad Jerusalem toe. Die laatmiddagverkeer deur die Aravah is druk en in een van die Arabiese dorpe is ’n groot verkeersknoop, maar met my Yehuda Poliker reis ek voort.
 
Verlede jaar ná die ernstige onderhandelinge om die World Pride na Israel te bring, toe die internasionale organiseerders gesê het: Jerusalem of niks, moes dit tog op die ou end uitgestel word, vanweë die onttrekking van die “settlements" en geweld in Gaza. Daar is op ’n datum vir hierdie jaar besluit, maar toe breek die tweede Libanon-oorlog uit. Die meegaande kongres het voortgegaan, maar die optog is weer eens uitgestel, tot Vrydag 10 November. Op 1 November het die ultra-Ortodokse protes in die vorm van gewelddadige betogings begin, met meer as 2 000 betogers. Jerusalem was in vlamme. Mense is beseer en dinge het sleg gelyk. Die hele land was aan die gons – die ja-kamp versus die nee-kamp. Die meeste van my studente, het ek gou ontdek, was in die nee-kamp.
 

’n Ortodokse betoger
 
 “Jerusalem is ’n heilige stad. Hulle kan optogte hou in Tel Aviv, want dis waar al die weirdo's van Israel woon!” sê Noga. (Van haar vertel ek in my eerste Nuusbrief uit Israel.) Bush in Amerika en die Pous vanuit die Vatikaan het elkeen iets te sê. Skielik is mense wat gewoonlik vyande is, in een kamp: die ultra-Ortodokses, die Charismatiese Christene, die Roomse Kerk en selfs die Moslems: Jerusalem is heilig, gays is onheilig – GEEN GAYS in Jerusalem. Natuurlik woon daar honderde gays in dié stad, maar nou ja.
 
Die hof sien die saak anders. As mens eenmaal toelaat dat mense deur geweld ander se vryheid beperk, dan is demokrasie in gevaar. Tog weerhou die hof sy finale besluit tot 24 uur voor die beplande tyd van die optog, en dit nie voor die ultra-Ortodokses deur die stad gemarsjeer het met diere, as simbool van wat hulle van gays dink nie. The March of the Animals. Ek hou dit op televisie dop en dink: hoe ironies - die diere is veel mooier as die mense wat hulle vergesel. Ek wil definitief liewer een van die wollerige skape wees as een van daai mans in die swart gewade!
 
Vrydag ontwikkel in ’n perfekte dag. Die son skyn helder en die stad lyk pragtig. Vroegdag is ek al uit om my geliefde te besoek en te kyk hoe sy lyk op hierdie veel bestrede dag. Mooier as ooit! Nege duisend polisie is ook uit om die arme gays te beskerm. Vir hulle is daar uiteindelik so min te doen dat hulle laatmiddag orals op grasperke gesels of slaap!  
 
 

Jerusalem-polisie                                            
Jerusalem-polisievroue
 
Die strate rondom die stadion is vir verkeer gesluit en ek parkeer anderkant die heuwel. Agter my stop ’n motor met twee mans uit Tel Aviv en al geselsend stap ons na die "happening", soos dit nou alom bekend staan. Hulle vertel dat hulle gewoonlik nie Jerusalem toe kom vir die Pride nie, maar hierdie jaar wel – “dit het meer te doen met die feit om ’n boodskap aan die ultra-Ortodokses te help oordra as enigiets anders.” Hulle vertel van hul lewe in Tel Aviv, waar hulle vrylik uit die kas kan woon en werk. Die een se partner woon eintlik in Ierland. “O, dis ook maar vir jou ’n donker plek daai. Die Rooms-Katolieke Kerk maak die wêreld vir ons gemeenskap moeilik daar!” vertel hy.
 
Na die opwinding van die Hamburg Pride is die dag in Jerusalem stil en rustig.
 
 
’n Reënboog   
Almal is in gewone klere en buiten ’n paar hoede en vlae is daar niks wat mens bewus maak van wie se dag dit is nie. By die hekke word jy van kop tot tone deur die polisie gefynkam – hulle is vasbeslote dat daar vandag geen voorval sal wees nie.
 
Die eerste ding wat my opval, is hoeveel heteroseksuele egpare – veral oueres – die dag bywoon. “We are here to support democracy!” verduidelik een ouer man aan die Kanadese televisie-nuusspan wat die geleentheid dek.
 
Meer as een ouer persoon het ’n plakkaat wat sê: “We love our gay son.” Of “We support our gay daughter, her partner en their new family.” Dis aangrypend hoeveel ouer mense, gay en straight, vandag juis as protes teen die bedreiging van swaargewonne demokratiese regte daar is.


 
 
Moeder van gay seun                       Hetero-ondersteuner
 
’n Ernstige verbetenheid vul die atmosfeer. “We respect the sensitivities of the religious communities. We ask for the same respect in return.”
 
Deurgaans het die leierskap van die Jerusalem Open House (JOH), wat ook die geleentheid georganiseer het, hul met waardigheid gedra: “If we ask for tolerance, then we must demonstrate tolerance!” is die JOH-voorsitter se mening.
 
Die koerante skryf dat omtrent 3 000 mense die geleentheid bygewoon het, maar die organiseerders meen dat die syfer meer as dubbel soveel is – ek was nr. 2385 op die teller by die hek en daar’s nog baie mense agter my. ‘n Uur later stroom hulle steeds in.
 
Verkoper 

Daar is stalletjies wat allerlei reënboogartikels verkoop; daar’s musikante op die verhoog, selfs ’n paar lede van die Knesset wat ’n boodskap van welwillendheid bring. Ek gesels met verskillende mense en hoor verskeie stories – van hulle sal ek in opkomende nuusbriewe vertel.
 
Een meisie vertel my dat sy na aanleiding van die diere-optog haar T-hemp spesiaal vir die geleentheid gemaak het. Ek hoor verstommend baie Engels en loop selfs ander Suid-Afrikaners raak! Die wêreld hier in Jerusalem is maar klein!
 
JOH-vlag wapper oor Ben Yehudastraat

 
Die aand is daar ’n afsluitingsdiens by die JOH-kantore in Ben Yehudastraat. Ons volg die normale Kabbalat Sjabbat-liturgie – die diens wat amper onveranderd oral in die wêreld gehou word aan die begin van elke Sjabbat. Die kantore is gepak en ek ontmoet verskillende mense. ’n Jong meisie vertel my dat sy as vrywilliger die afgelope maande by JOH werk “My broer is gay! Ons as gesin het hom lief, alhoewel my ouers hartseer is dat daar geen kleinkinders uit sy verhouding gebore kan word nie.” In ’n gemeenskap wie se voortbestaan vir eeue al bedreig word, is kinders en kleinkinders baie belangrik. Nou is al hulle hoop op haar.
 
Ek raak aan die gesels met Eli, ’n ouer man wat langs my kom sit. Hy vertel dat hy een van die stigterslede is en dat dit werklik harde werk was om so ver te kom. Hy is ’n argitek en ook kunstenaar. Ons gesels lekker. Ek dink ek het ’n nuwe pel gemaak!
 
Michael kom stel hom aan my voor. Hy is vir ses maande in Jerusalem uit Amerika en het intussen ’n nuwe vriend. Die twee is duidelik verlief. Maar wat veral van Michael opval, is dat hy elke woord van die diens uit sy kop ken en met totale oorgawe deelneem. Vir hom is dit geen "vorm"-godsdiens nie. Dis sy lewe. As ek sy e-pos-adres vra, glimlag hy en sê: “Ek skrywe nie op Sjabbat nie, maar ek is Woensdag hier op kantoor. Belowe jy bel my, dan gee ek dit dan vir jou!” Hy is duidelik Ortodoks, maar verwerp deur sy gemeenskap vanweë sy seksuele oriëntasie. Ek wil hom sommer summier as my seun aanneem. Hy is so pragtig en opreg.
 
Na die diens word daar ’n ete bedien, maar ek het reeds ’n afspraak by my liewe vriende Nava en Yossie. Soos ek deur die Sjabbat-stil strate van Jerusalem stap, dink ek met dankbaarheid aan wat alles vandag verkeerd kon geloop het en hoe ons almal beskerm is – natuurlik deur die harde werk van die polisie, maar verseker ook deur die hand van die goeie Vader. My dankbaarheid was weerspieël in elke gebed en elke lied wat deel was van die diens!