Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Gaza-oorlog

Gaza-oorlog


Egon Roth - 2009-02-17

Dis Donderdagoggend en ek sit nog in die bed en lees, koppie tee langs my, Mongane Wally Serote op my skoot. Dis heerlik stil, die vroeë-oggend-verkeer uit ons straatjie is weg, Judy is al kollege toe en ek het nog ’n halfuur voor ek moet regmaak en vertrek na die kollege waar ek klasgee.

Die nuus vanoggend oor die oorlog in Gaza laat die angsgevoel diep binnekant net stywer saamtrek. Ek is te bang om my liewe student Nimrod, wie se vrou swanger is met hul eerste kind, weer te probeer kontak – hy’t eergister se sms nie beantwoord nie. Hy is ’n reservis in die inligtingsafdeling van die militêr – die kanse is goed dat hy daar langs die grens van Gaza met sy UVA-vliegtuigie sit en kyk wat aangaan.

Ek is besig om in die digkuns van Mongane Wally Serote in te studeer en geniet dit om my hier ver in die wêreld in Afrika te verdiep. My poësie-lektrise se skoonvader is verlede week dood en haar seun is onbereikbaar in Gaza – net 78 km weg van die huis. Ek wil iets spesiaals voorberei vir die klas – ons doen dit almal, net sodat Linda kan beter voel.

Die lug buite die venster maak so ’n stil knettergeluid en toe BOEEEEEEEM, boem boem. Vir ’n oomblik is dit absoluut stil, asof die lug en voëls en dorp hulle gemeenskaplike asem inhou, en toe begin die voëls skree, ’n vrou onder in die straat bly prewel: “Nie weer nie! Ek kan nie weer nie.” Ek loer uit die venster – dis my buurvrou: haar beeldskone dogter is ’n paar jaar gelede in ’n busbom dood. Tydens die Lebanon 2-Oorlog moes sy elke dag as verpleegster hospitaal toe ry en het gesien hoe ’n vuurpyl amper die hospitaalbussie waarin sy gesit het, tref. Ek hoor hoe haar man haar probeer troos. Kinders oorkant die straat hardloop verwilderd rond tot ’n ouer hulle vang en die huis in lei. Ek wag vir die sirenes – as hulle stilbly, was dit dinamiet vir ’n nuwe gebou se fondament … Duidelik ken die bure die geluid beter as ek, want hulle glo dit was ’n aanval – die pers waarsku gedurig dat “the north front is heating up!” en die bomskuiling onder ons gebou is in gereedheid gebring.

Ek bel Judy, want ek weet sy is nog op pad.

“Daar was ’n ontploffing – sit jou radio op Galgalatz en laat my weet wat ek gehoor het,” vra ek haar. Galgalatz is die militêre radiostasie en speel gewoonlik baie lekker musiek om na te luister as mens so ry – hulle gee ook gereelde verkeersverslae. Nuus word elke uur uitgesaai.

“Hoe ver van ons huis, skat jy?”

“Naby, baie naby – klink soos die volgende blok, maar ek het nie krag om te gaan kyk nie. Ek gesels liewer met oom Wally.” Ek is al weke besig met Serote en ons praat nou al van hom as oom Wally.

“Ek bel jou terug. Laat ek luister - hier kom nou iets oor die lug.”

’n Paar minute later lui die foon. “Vyf aanvalle – Nahariya twee, Kabri, Musaba en Ma’alot. Skole in die gebied is gesluit en alle openbare skuilings is oopgemaak. Dis nog nie verpligtend nie. Check voor jy werk toe gaan,” sê my liewe vrou vir my. “Is jy ok?”

“Ja, en ek gaan definitief werk toe. Fok hulle,” sê ek vies.
“Wees versigtig,” is al wat sy sê. Ons is almal vasberade om nie toe te laat dat ons lewens onnodiglik van koers af gegooi word nie. Die meeste van my pelle wat kinders het, se bomskuilings is so ingerig dat hulle kan aanhou met basiese skoolaktiwiteite, al moet hulle soos molle onder die grond wegkruip. Dis hoekom mens veel minder van burgerlike sterftes onder die Israeli's hoor – ons probeer ondergronds voortleef. 

Die foon lui weer.

“Hulle het ’n ouetehuis getref op Jabotiskystraat – ek is seker dis die een waar Sonya woon,” sê Judy, “maar hulle sê niemand is dood nie.” Sonya is ’n ou dame in Judy se Engels-klas vir bejaardes. Sy het die trek ouetehuis toe as baie traumaties beleef en Judy het haar bietjie gehelp. Nou die dag in die klas het sy gesê dat sy na ’n jaar daar voel dat sy uiteindelik haar voete gevind het. “Ten minste het ek ’n kamer van my eie,” het sy die klas vertel.

“Ek is op pad werk toe,” lig ek Judy in, “en die strate is baie stil. Mens voel die angs in die lug.”

“Wees versigtig, my skattebol,” maan sy my.

“Ek belowe ek sal duck,” verseker ek haar.

“Kom ons hoop dis nie nodig nie.”

Ja, dit was Sonya se ouetehuis wat getref is – om die waarheid te sê, dit was haar kamer en sy was daarin, op pad om te gaan ontbyt eet. Die waterpype op die dak het gebars en sy vertel dat sy dog sy verdrink.
 
“Jy’s so gelukkig – jy was wonderbaarlik beskerm,” sê Judy toe sy haar drie dae later besoek in die ouetehuis waar sy nou woon – haar gebou moet natuurlik nou ’n nuwe dak ensovoorts kry – hulle sê dit sal maande vat voor die oumense kan terug trek.

“Bah,” sê Sonya. “Ek is ’n ou vrou. Dit was so moeilik om na al die jare van in my eie huis te woon, daar aan te pas, en nou sit ek hier – moet ’n kamer deel met iemand wat ek nie eers ken nie. Daai katuscha moes my op my kop getref het – dan was ek dood. Ek is te oud vir al dié dinge!”

Hoe antwoord mens iemand soos Sonya?
 
Dis nou bietjie meer as ’n maand sedert die aanval. Daar is kammakastig ’n skietstilstand in Gaza, maar dis ’n slegte grap – katuschas val elke dag in Sderot en omgewing; te veel van ons jongmans is weg uit die werk, weg van hulle studies langs die grens van Gaza; die VN stry met Hamas oor die humanitêre hulpmiddele wat hulle gesteel het uit die VN-skure en nou op die strate verkoop. Hemel, dis so weird!

Skuldig gaan soek ons vir Sonya om te hoor hoe die aanpassing in die nuwe ouetehuis gaan.

“Sonya? Watter Sonya?” vra die een assistent.

“Sonya Traub.”

"Ooo, daai Sonya – sy woon nie meer hier nie.”

“Waar is sy?”

“Sy’t weggeloop.”

“Waarheen?”

"Nee, hoe sal ek weet? Vra die matrone.”

Ons soek die matrone en vra haar.

“Nee, siestog, Sonya kon die aanpassing nie maak nie. Sy’t eendag haar goedjies gepak – sy’t mos maar alles verloor met die aanval, so daar was maar min – en sy’s hier weg in ’n huurmotor.”

“Waarheen?”

“Nee, dit weet ek nie. Vra haar dogter – hier’s die telefoonnommer.”

Ons skakel haar dogter.

“My ma trek van plek na plek, sy kan nie tot ruste kom nie, sy is maar erg getraumatiseer. Ek is self nie seker waar sy haar vandag bevind nie, maar vra haar self – hier is haar selfoonnommer.”

Ons skakel Sonya se nommer. Daar’s geen antwoord nie. Ons skakel ’n paar maal per dag, verskeie dae na mekaar. Hierdie artikel is nou al vier dae laat, maar Sonya kan ons nie vind nie.

Dis die gevolge van oorlog vir mense. Dit laat my net weer besef dat aan beide kante van die grens lewe twee verwonde nasies – gespanne, onseker oor die dag van môre, kreatief, energiek en aggressief. Die een vertrou die ander nie, en met goeie rede. Ons probeer almal leef asof daar geen oorlog is, was of sal wees nie, maar as daar ’n onverwagse boeeeem is, dan skrik jy jou koud en wonder waar die sleutel vir die bomskuiling is.

En hoekom bly ek? Want Israel bly my droom en die een plek waar ek tuis tussen al die ander vreemdelinge voel – hier kan ek skryf en dink en asemhaal soos nêrens anders nie. Soos ons in Hebreeus sê: “Mah la’asot?” – Wat kan ek maak? Ek sal bly en sal later vanoggend weer vir Sonya soek.