Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Pionierkunstenaars: Geanker in die Suid-Afrikaanse bodem
’n Unieke blik op die landskap


Pionierkunstenaars: Geanker in die Suid-Afrikaanse bodem
’n Unieke blik op die landskap


Amanda Botha - 2008-12-09

In die vorige artikel is spesifiek gekyk na grondleggers in die Suid-Afrikaanse kuns en is gefokus op die bydrae van drie uiteenlopende vroeë landskapkunstenaars: Frans Oerder, Cathcart Methven en JEA Volschenk en die meesterbeeldhouer Anton van Wouw. Hulle het aan die begin van die 20ste eeu onderskeidelik in Pretoria, Durban en Riversdal gewerk.

Die uitbeelding van die Suid-Afrikaanse landskap het by die meeste kunstenaars inslag gevind en ondanks die groot kunsproduksie rondom die tema is daar steeds vernuwende wyses waarop die landskap verken word. By die drie kunstenaars wat in hierdie artikel ter sprake kom, is die romantiek en naturalisme deel van die idioom waarin hulle gewerk het, maar was hulle ook vroeë baanbrekers wat in hul werk ook Europese tradisies verken het. Gegewe hulle agtergrond en opleiding bring die kunstenaars ’n unieke blik wat die belewenis van die landskap verbreed. Elkeen laat ’n onuitwisbare merk op die breë Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis.

Pieter Hugo Naudé (1868–1941)

Hugo Naudé was die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat professionele onderrig in Europa ontvang het. Hy was die pionier Impressionistiese skilder van Suid-Afrikaanse kuns en toe hy in 1890 ná sy Europese studie na Worcester teruggekeer het, het sy palet iets van die newelagtige kleure van die Impressionisme gehad. Hier is hy gekonfronteer met die skittering van die Suid-Afrikaanse lig. Hoewel hy aanvanklik streng by sy akademiese opleiding gehou het, het hy hom geleidelik daarvan bevry en sy eie tegniek en palet ontwikkel.

Vir hom was dit ’n eensame stryd om hom as kunstenaar te vestig. Daar was enkele kunstenaars wat voltyds probeer werk het, ondanks die min publieke of mediabelangstelling in die skilderkuns. Een van Naudé se besondere kenmerke was ’n besonderse meelewendheid teenoor sy medekunstenaars. Daar is baie getuienis van sy vriendskap met en onbaatsugtige ondersteuning aan kunstenaars soos Lippy Lipshitz, Wolf Kibel en Nita Spilhaus.

Naudé was ’n boeiende figuur en was bekend onder verskeie benamings soos Artist, Farmer en oom Pieter. Sy vrou, Julie Brown, was ’n verpleegkundige wat baanbrekerswerk gedoen het in die bruin gemeenskap van Worcester. Hierin het sy Naudé se ondersteuning gehad. Die egpaar, wat kinderloos as, was onderskeidelik leiersfigure in die Boy Scout- en Girl Guide-bewegings.

Naudé is in 1868 op die plaas Aan-de-Doorns in die distrik Worcester gebore, waar hy ook sy skoolopleiding ontvang het. Onder sy vriende was die skrywer Olive Schreiner wat hom aangemoedig het om sy kunsloopbaan oorsee voort te sit. Sy het hom trouens in 1888 na Londen vergesel en hom aan mense soos Havelock Ellis voorgestel.

In Londen studeer hy onder Alfonse Legros aan die Slade-kunsskool, daarna aan die Kunst Akademie in Münich, ? München en later in die ateljee van die porttretskilder Franz von Lenbach. Legros, wat ’n suksesvolle loopbaan in Europa gehad het, was ’n leidende figuur in die Nuwe Realisme en sy invloed op die vroeë werke van Naudé is wel merkbaar. Naudé het ook in sy loopbaan ’n groot aantal belangrike portretstudies, veral van bruin mense, gemaak.

Hy was blootgestel aan die Barbizon-skool, wat gevorm is deur ’n groepie kunstenaars wat in die middel van die 19de eeu uit Parys padgegee het omdat hulle nie die ondersteuning van die invloedryke bourgeoise geniet het nie. Naudé het byna ’n jaar in Barbizon, aan die voet van Fonteinebleau, gewerk. Onder die leidende kunstenaars was die Brit John Constable. By Barbizon is die geboortepyne van die Impressionisme gevoel en was Naudé regstreeks daaraan blootgestel. Voordat hy hom weer in 1904 op Worcester gevestig het, het hy ’n skildertog na Italië onderneem.

Naudé se ateljee, bekend as The Studio in Russellstraat, Worcester, was ’n hawe en ook die kruispad vir skilders en skrywers. In 1913 het hy ’n laaste reis na Europa vir verdere studie onderneem en via Jerusalam en Zanzibar terugkeer.

Baie van Naudé se skildertogte na die binneland, veral na die Weskus en Namakwaland, het hy ook as botanis onderneem. Hy was ’n tuinkundige en het verskeie dorpspleine in die Boland ontwerp. Soms het hy ander kunstenaars opdragte gegee om beeldhouwerke daarvoor te skep. Onder die jonger kunstenaars wat by Naudé aanklank gevind het, tel Maggie Laubser, Edward Roworth, Ruth Prowse, Florence Zerffi. Strat Caldecot, Moses Kotler, DC Boonzaier en die spotprentkunstenaar Constance Pembrooke.

Vir baie jare het Naudé kunsonderrig gegee en onder sy talle studente tel Jan  Juta wat vandag verteenwoordig word met ’n portret van DH Lawrence in die National Portrait Gallery in Londen. Sy laaste student was die landskapskilder Piet van Heerden.

Naudé se studie Sheep Watering (1901) [1] in die Sanlam Kunsversameling is ’n vroeë sleutelwerk van ons pionier-Impressionis. ’n Beskouing van sy loopbaan en van verskillende stilistiese fases in sy skilderkuns toon onmiddellik die doelgerigtheid van sowel die kunstenaar se soektog na oplossings vir formele probleme as sy strewe na ’n persoonlike styl. Kleur is die vernaamste draer van sy estetiese boodskap.

 

Gregoire Boonzaier (1909–2005)

As jong seun is Gregoire Boonzaier as ’n wonderkind gesien. Hy het op vroeë leeftyd begin skilder en toe hy slegs 14 jaar oud was, is sy eerste twee skilderye by die Ashbeys-kunslokaal in Kaapstad verkoop – ’n gebeurtenis wat vir opskrifte in al drie Kaapse koerante gesorg het. Hy was die seun van DC Boonzaier, ’n spotprentkunstenaar, wat hom met ’n ysterhand regeer het. Daar is gepraat dat sy pa hom soos “’n impresario” bestuur het – verkope van sy kunswerk toe hy nog ’n seun was, was reeds ’n bron van inkomste vir die Boonzaier-huishouding, wat finansieel swaar getrek het.

Gregoire het vanweë sy pa se invloedsfeer vroeg reeds met kunstenaars in aanraking gekom. Pieter Wenning en Anton van Wouw het hom aangemoedig, terwyl Moses Kottler sy eerste verfstel  aan hom gegee het. Tot 1932 het hy streng onder die invloed en bevele van sy pa geverf. Hy het voortdurend gewerk met die oog op uitstallings wat sy pa bestuur het. Van die inkomste het hy self min te sien gekry.

Gregoire het die houvas van sy pa afgeskud eers toe hy op 24-jarige leeftyd sy eie ateljee in Langstraat betrek het. Hierdie besluit het sy vader so verbitter dat hy sy seun hul huis belet het en nooit weer met hom gepraat het nie. Hy kon, veral met die aanmoediging van die kunskritikus Bernard Lewis en ander, onafhanklik in 1934 na Londen vir verdere studie gaan. Na twee jaar studie in die tekenkuns aan die Heartherley School of Art en ’n verdere jaar aan die Central School of Arts and Crafts, waar hy grafiese kuns bestudeer het, het hy eers besoek aan Europa gebring voordat hy in 1936 na Kaapstad teruggekeer het.

Gregoire was veral geboei met die Impressionisme en Post-impressionisme en was aangetrokke tot die Kubisme. Aanvanklik was Van Gogh ’n invloed, en later Utrillo, wat ’n blywende invloed op hom gehad het – ’n invloed wat veral in sy straattonele tot uiting kom – en ook Braque. Boonzaier was waarskynlik die eerste Suid-Afrikaanse kubis en Braque se invloed kan in sekere van sy stillewes nie misgekyk word nie.

Na sy terugkeer na Kaapstad het hy ’n leidende rol gespeel in die stigting van die Nuwe Groep wat kunstenaars verteenwoordig het wat in Europa onderrig is en toe aan die Kaap gewerk het. Onder dié kunstenaars tel Cecil Higgs, Walter Battiss, Maude Sumner, Terence McCaw en Freida Lock. Die waterverfskilder Charles Peers was die eerste voorsitter en hy is deur Gregoire opgevolg. Later is ook ’n tak in Transvaal gestig. Boonzaier was besiel met ’n drif om vernuwing te bring. Vir vyftien jaar het die Nuwe Groep met groot ywer nuwe lewe op kunsgebied in Suid-Afrika probeer aanwakker.

Vir Boonzaier was dit ook belangrik om veral op die platteland kuns te vertoon. Dekades lank het hy dit as ’n opvoedingstaak beskou om sy werk in die platteland uit te stal en om praatjies oor die skone kuns by skole aan te bied. Hy het hiermee voortgegaan ondanks die beledigende verwysings na hom as ’n “skildersmous” deur medekunstenaars. Ook interessant was Gregoire se felle kritiek op die wansmaak van die publiek. Ondanks heftige teenstand het dit tog nie op dowe ore geval nie.

In sy leeftyd het Gregoire Boonzaier verskillende kunsgenres met groot sukses beoefen. Hy het ’n prolifieke kunsproduksie gehad en was altyd getrou aan homself. Hy is aan heftige kritiek blootgestel omdat hy nie bereid sou wees om aan moderne kunsrigtinge mee te doen nie. Sy eie instelling was dat hy steeds verfynend omgaan met sy eie werk.

In latere jare het hy sy tyd net vir eie werk gereserveer, maar tog ’n laaste student gehad, die skilder Conrad Theys, aan wie hy hoë verwagtinge gestel het.

’n Studie van ’n huis in die voorstedelike Wynberg, Kaapstad, wat as Ongetiteld, 1932, [#2] in die Sanlam Kunsversameling opgeneem is, is ’n werk wat Gregoire as 23-jarige gelewer het terwyl hy en sy pa ’n ateljee gedeel het. Hy het hierdie werk geskep as deel van ’n uitstalling by Lezard in Johannesburg en dit is ’n goeie voorbeeld van Gregoire se vroeë werk – meestal studies van opstalle binne ’n landskap in die meer landelike gebied van die voorstedelike Wynberg. Die werk toon sekere stilistiese ooreenkomste met dié van Pieter Wenning, wat ’n ruk lank by die Boonzaiers ingewoon het. Hy was as seun deur sy vader aan die kunstenaars van die 17de-eeuse Haagse Skool voorgestel. In sy studies van landskappe betrek hy die drama van kleur en lyn. Deur ’n paar eenvoudige kwashale skep hy ’n illusie van bewegende wolke en bome asof hy dit vir die eerste keer sien. Sy tegniek is meesterlik en dit is sy “handtekening”.

Self het Gregoire gesê: "My werk is my handtekening en mense moet dit as my eie herken. Ek het dit deur ’n leeftyd van harde werk ontwikkel.”

 

Gerard Bhengu (1910–1990)

Gerard Bhengu is op ’n sendingstasie in Centocow, KwaZulu-Natal gebore en het as jong seun graag geteken, soveel so dat hy op skool berispe is omdat hy altyd op stukkies papier, op sy skoolboeke en in die klas geteken het. Hy het die uitgebrande steenkool by sy huis gebruik om op mure te teken, waaroor sy ma hom streng berispe het. ’n Onderwyser het op laerskool vir hom kryt gegee en later het ’n skoolinspekteur vir hom ’n waterkleurstel en ’n tekenboek gegee.

Hy is in graad 7 uit die skool toe hy met tuberkulose gediagnoseer is. Die geneesheer wat hom behandel het, dr Max Kohler, het hom in 1925 aangemoedig om met sy tekenwerk voort te gaan en dit is van Kohler dat hy sy eerste opdragte ontvang het: dit was diagramme en tekeninge wat die dokter op ’n mediese kongres voorgelê het. Hy was so beïndruk met die jong Gerard dat hy vir hom ’n waterverfstel en tekenmateriaal uit Beiere bestel het. Hy het Bhengu blootgestel aan Europese ou meesters en hom aangemoedig om die werk te kopieer, veral om tekeninge van madonnas te maak en om na Europese landskapafdrukke te kyk en dit na te teken. Gou het Benghu dit bemeester en dit so goed nageteken dat sy waterverfwerk oral bewonder is. Kohler, wat ook kuns aan die universiteit studeer het, het na die beste van sy vermoë aan die jong Bhengu oorgedra wat hy kon in ’n poging om hom as kunstenaar te bemagtig.

Daarna het Kohler, ’n entoesiastiese amateur etnoloog wat ’n studie van die Bhaca- en Kuze-stamgroepe van die Zoeloes gemaak het, Bhengu as illustreerder betrek om sy tekste te illustreer. Tussen 1926 en 1931 het Bhengu voltyds vir hom gewerk in ’n ateljee aangrensend aan die dokter se spreekkamer.

Benghu se algemene werksmetode was om ter plaatse ’n vinnige skets te maak en later in die ateljee op sy waarneming en geheue staat te maak om die werk te voltooi. Sy landskappe het hy direk van waarneming geverf en toe hy Natal later verlaat het, het hy bepaalde landskappe in herinnering geroep en dit in die ateljee geskep.

Die waterverfstudie Zululand Landscape [3] ongedateerd, wat deel van die Sanlam Kunsversameling is, het Bhengu waarskynlik in die veertigerjare geskilder toe hy in diens van Payne Brothers-afdelingswinkel in Durban was. Sy onderneming hier was dat hy betaal sou word soos hy die werk gelewer het. Dikwels het hy in die pakhuis van die winkel geskilder en ’n keer aan ’n verslaggewer gesê dat hy dit doen sodat voornemende blanke kopers kon sien dat dit sy eie werk is.

Tussen 1937 en 1942 het PW Storey, die eienaar van ’n kunsmateriaalwinkel, aan Bhengu Fabriano-waterverfpapier gegee om op te werk. Hy het kunsmateriaal aan Bhengu op rekening gegee en ook van sy werk aangekoop.

Daar was verskeie periodes in Bhengu se kunsproduksie, en tot 1966 was hy altyd in diens van privaat individue of sendingstasies of winkelgroepe. Hy het altyd opdragwerk gehad, meestal illustrasies vir boeke. Dit was nie maklik om hom as opdraggewer te bestuur nie. Dikwels het hy nagelaat om sy opdragte ten volle uit te voer. Nogtans het hy altyd die aandag van skrywers getrek deur hulle opdragte aan hom sy kuns algemeen bekend gemaak het. ? maak dié sin vir jou sin?

Onder die belangrike opdragte was dié van dr Killie Campbell tussen 1942 en 1978. Sy het hom spesifiek opdrag gegee om werk te lewer vir haar Africana-versameling. (Ook dié opdrag is nie voltooi nie; nietemin het sy gereeld van sy werk aangekoop.) In 1943 het die bekende skrywer Alan Paton verskeie skilderye van hom aangekoop. Hy het aan hom Windsor- en Newton-skilderdoeke op bord gegee waarop hy die opdragte uitgevoer het.

Twee belangrike uitstallings is Bhengu aangebied: in 1947 is ’n uitstalling van sy werk in die Durban-kunsgalery aangebied en die volgende jaar in Gallery Beaux Arts in Johannesburg.

Die opdrag waarmee Bhengu wyd bekendheid – ook in die buiteland - verkry het,  was twaalf illustrasies ('n dertiende is nooit gelewer nie) wat hy in opdrag van die skrywer Phyllis Savory gemaak het van Xhosa-vuurherdstories. In 1965 het Savory ’n boek oor Bhengu geskryf waarin 28 tekeninge en skilderye, vyf in kleur, opgeneem is. Hierdie boek is goed ontvang en met die bekendstelling daarvan op die Royal-landbouskou in Pietermaritzburg is afdrukke van sy werk ook verkoop.

In die sewentigerjare het Bhengu hoofsaaklik op sepia-portretstudies gekonsentreer. Tussen 1970 en 1993 het ’n hele aantal uitstallings van sy werk gevolg, waaronder ’n retrospektiewe uitstalling waarop 150 van sy werk te sien was.

Bhengu se werk word gekenmerk deur fotorealisme. Hy het die kleredrag en ander etniese trekke van die Zoeloes getrou weergegee. Sy werk is uniek in die sin dat dit hoofsaaklik naturalisties was en hy nooit deur medekunstenaars beïnvloed is nie.

 

Bronnelys
Alexander, FA. Art in South Africa since 1900, AA Balkema, Kaapstad, 1962.
Bekker, Martin. Gregoire. Human & Rousseau, Kaapstad, 1990.
Berman, Esmé. Art and Artists of South Africa. AA Balkema, Kaapstad, 1988.
Bouman, A.C. Kuns in Suid-Afrika. HAUM, Pretoria, 1935.
Meiring, ML. Hugo Naudé. Artikel in Ons Kuns, Pretoria, 1960.
Naudé, Adèlé: Hugo Naudé, SA Art Library-reeks onder redakteurskap van Charles du Ry. C Struik, Kaapstad, 1974.
Proud, Hayden: Revisions. Expanding the narrative of South African Art. The Campbell Smith Collection, UnisaPress, Pretoria, 2007.
Sacks, S. The Neglected Tradition, Johannesburg-kunsgalery, 1988.
Scott, FP. Gregoire Boonzaier. Tafelberg, Kaapstad, 1964.
Trümpelmann, J: Gregoire Boonzaier. Artikel in Ons Kuns, Pretoria, 1960.

 

Afbeeldings

  1. Pieter Hugo Naudé, 1868–1941, Sheep Watering, 1901, olie op seildoek, 350 x 600 mm
  2. Gregoire Boonzaier, 1909–2005, Ongetiteld (Huis in Wynberg), 1932, olie op seildoek, 380 x 430 mm
  3. Gerard Bhengu, 1910–1990, Zululand Landscape, ongedateer, waterverf op papier, 278 x 368 mm

 

<< Terug na Sanlam|LitNet: Ons kunserfenis <<