Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Koos Kombuis: Kaalkop die waarheid > ''Ubuntu'' het ook ’n donker kant

''Ubuntu'' het ook ’n donker kant


Koos A Kombuis - 2008-11-27

Voor verlede Saterdag se glorieryke Bok-oorwinning op Twickenham, so hoor ek, het kaptein John Smit elkeen van die spelers opsy geneem en individuele spanpraatjies met elkeen gehou. Dit het meer gedoen vir die manne se samespel as ’n dosyn wedstrydplanne. Omdat John Smit elke speler se selfrespek ge-boost het, kon elke speler eindelik bo sy eie talente uitstyg om deel van iets groter te word.

Daardie "groter ding" – as daar so iets is – is moeilik om te definieer. Dit was meer as bloot ’n suksesvolle wedstrydplan. Die vuur waarmee die Bokke gespeel het vir volk en vaderland, is gebore uit ’n gevoel van samehorigheid en lojaliteit teenoor ’n groter ideaal: die ideaal van Suid-Afrika, die lojaliteit teenoor die eerste bruin afrigter in die geskiedenis van Suid-Afrika, en die begeerte om te bewys dat die Springbok-embleem sy eie unieke plek het in ons gesamentlike kultuur.

Die feit dat die Springbokke soms vir lang tye bloot gemiddeld speel, en dan skielik, wanneer dit werklik saakmaak, alle bakens versit, is toe te skryf aan iets wat moeilik is om in woorde vas te vang en te definieer.

Sommige mense noem dit “Madiba magic”.

Inderdaad het die Bokke Saterdag gespeel met dieselfde oortuiging en geesdrif as in daardie beroemde eindstryd van 1995.

Ek dink mens kan dit ook noem ubuntu. Ubuntu is immers die moderne ekwivalent van Madiba magic. Dis die een ding wat ons as Suid-Afrikaners het wat ons saamsnoer, wat ons uniek maak onder die volkere van die wêreld.

Is daar ’n definisie van die woord ubuntu? Ons weet almal instinktief wat dit is, maar wat sê die woordjie rêrig?

Mag ek ook dadelik byvoeg dat my siening van ubuntu verskil van dit wat heelwat ander mense skynbaar daarmee bedoel. Ek is nie ’n Afrikanis nie, ek is ’n humanis, en dit het die afgelope paar jaar vir my pynlik ooglopend geword dat nie alle Suid-Afrikaners presies dieselfde bedoel met hierdie pragtige woordjie nie.

Ubuntu, soos die term deesdae misbruik word, is selfs vir intelligente mense – hoewel hulle dit nie maklik hardop sal erken nie - ’n vae begrip, dubbelsinnig en selfs gevaarlik.

Ubuntu berus, vanuit die suiwer Afrikanistiese pespektief, wel op sekere aannames.

Aanname sommer een is dat die groep, volgens ubuntu, te alle tye belangriker is as die individu. ’n Groep is nie meer ’n versameling individue nie, dit is ’n entiteit op sigself, die enigste entiteit wat saak maak. Wat ek dus dink as enkeling, is minder belangrik as wat my bure dink.

Dit maak nonsens van die hele idee van enige normale politieke verkiesing, met sy klem op individuele keuse, geheime stembriefies, ensovoorts. Hierdie soort "ubuntu" kan, tot op sy logiese uiterste geneem, lei nie tot persoonlike vryheid nie, maar tot ’n diktatoriale staat.

Aanname nommer twee is dat slegs swart mense werklik ubuntu verstaan. Die wit Westerse wêreld, met sy klem op kompetisie en eiebelang, het dus geen benul van ubuntu nie. Voer hierdie aanname tot sy logiese uiteinde, moet mens dan tot die absurde gevolgtrekking kom dat samespel tussen sokkerspelers van ons nasionale span – aangesien hulle oorwegend swart is – wel ubuntu is, maar dat dit ondenkbaar is vir ’n oorwegend blanke rugbyspan om ubuntu uit te straal. Enige prestasie van die Springbokspan kan dus nie as gevolg van ubuntu, of Madiba magic, wees nie, maar as gevolg van ’n misterieuse “third force” – wat dit ook al beteken.

Dus: hoewel ons rugby-Springbokke oor die algemeen baie beter vaar as Bafana Bafana, hoewel ons ons embleem met trots dra, en hoewel ons selfs bereid is om ongemaklike kompromieë betreffende die Springbok-kenteken met grasie te aanvaar, is rugbyspelers – in die oë van sekere Afrikaniste - oor die algemeen minder belangrik en minder patrioties as sokkerspelers. Om dit in die woorde van ’n sekere hooggeplaaste ANC-amptenaar te sê: “Rugby is ’n barbaarse sport.”

Mens kan eenvoudig nie wen teen sulke onsinnige redenasies nie.

Dit is maar twee van die probleme wat ek met die suiwer Afrikanistiese interpretasie van die ubuntu het. Sentraal aan sommige Afrikaniste se "ubuntu"-idee lê ander, selfs meer absurde aannames: die klem op "gelyke regte" in stede van "gelyke geleenthede", met die gepaardgaande skuldgevoel oor prestasie, die wantroue van die idee van privaat besit – in kort, die totale dwingelandy van die “mob” bo die aspirasies van die individuele gees. Suid-Afrikaners as nasie word nie meer aangevuur deur ideale van versoening of deur Madiba magic nie, maar deur oorvereenvoudigde slagspreuke soos “Kill for Zuma”.

Dat die Westerse kultuur in vele opsigte arrogant en selfsugtig is, is nie iets wat ontken kan word nie. Die Weste is egter op sy mees selfsugtige juis nie wanneer hy individualisme nastreef nie, maar wanneer hy toegee aan groepsdruk. Was George W Bush se inval in Irak werklik regverdigbaar in terme van die Amerikaanse grondwet? Waarom is Moslem-skoolkinders in Frankryk die reg geweier om sekere kledingstukke eie aan hul kultuur skool toe te dra? Hierdie, en vele ander vergrype van ontwikkeld lande, kan toegeskryf word aan ’n soort etniese meerderwaardigheidsgevoel wat nogal baie herinner aan die etniese meerderwaardigheidskompleks van baie Afrikaniste. Dit is te wyte aan afwykings van die sisteem; dit word nie veroorsaak deur die sisteem self nie. (Gelukkig het die meeste Westerse lande ’n vrye pers waarin almal na hartelus oor sulke dinge kan debatteer sonder vrees vir vervolging deur ’n mediaraad of Menseregtekommissie.)

As die ANC sulke wonderlike meesters van “ubuntu” is, hoe verklaar jy die bevoordeling van individuele politici, soos Tony Yengeni, wat hulself sien nie net as verhewe bo die reg nie, maar as belangriker as al die nietige mensies om hulle? Hoe verklaar mens die blatante ontwrigtings van wettige vergaderings deur opposisiepartye? Hoe verklaar jy die chaos en kinderverwaarlosing in ons skole en staatshospitale?
 
Indien met hierdie soort “ubuntu” bedoel word ’n sisteem van heerskappy van magsugtige, twisgierige comrades, wil ek niks daarmee te doen hê nie.

Met sulke “ubuntu” sou ons nooit Saterdag op Twickenham gewen het nie.

Hierdie soort “ubuntu” is beslis nie iets om na te streef nie, maar eerder iets om te vrees en te verafsku.