Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Noord-Kaap-herinneringe

Noord-Kaap-herinneringe


Anna S Ahllers - 2008-10-20

Spierwit klippies so ver as wat die oog kan sien en twee blinkgeskuurde blikemmers vol water op die tafeltjie by die agterdeur: dis my sterkste herinnerings aan die wêreld van my kleintyd.

Elke tweede jaar se Kersfees was dit die Kaapse familie se beurt, maar die tussenin jare se Junie-maand was vakansietyd by oupa Frans-hulle op Opwag. Voor Pa ‘n kar gehad het, het ons met die trein gery tot op De Aar. Daar het ons dan oorgeklim op die gemengde trein wat oor Draghoender na Kleinbegin toe geloop het. Hier het Oupa ons met ‘n gehuurde kar kom haal Opwag toe. Wat ek hiervan onthou, is net die donker nag waar ons op oop vlakte moes afklim - daar was nie ‘n perron nie - en die stoom wat onder die trein se wiele uitborrel in die koue nag en die sterre wat so naby hang dat jy aan hulle kan vat. Die lang, lang motorrit erf toe en wanneer ons terugkeer huis toe, moes ons weer eens in die middel van die Noord-Kaap-nag die trein haal.

Een jaar het ons in die somer gaan kuier en moes op Oujaarsdagaand die trein haal terug huis toe. Self kan ek dit nie onthou nie; ek was te klein, maar die jongklomp van die omliggende erwe het blykbaar besluit om saam te ry Kleinbegin toe, waar daar ‘n dans by een van die huise sou wees. So gesê, so gedoen. Iemand het haas tyd dat die trein moes aankom, kort-kort gaan kyk of dit al daar was. Maar dis later al Nuwejaar en nog is daar geen trein nie. Pa gaan doen toe maar navraag by die stasiemeester - net om te verneem die trein is reeds weg! Dit blyk toe dat die stasiemeester die trein vertraag het om vir die passasiers te wag (ook soos wat daardie jare gedoen is), maar toe hulle ná ‘n uur nog nie opdaag nie, is die trein sonder hulle weg. Die amptenaar was nie bewus daarvan dat sy passasiers by die buurman se partytjie is nie! Die uiteinde was dat die jongklomp toe moes deurja Draghoender toe om die trein daar voor te staan!

As jy van Groblershoop af met die ou pad Upington toe ry, kronkel dit tussen lae heuwels deur wat met erwe besaai is, maar dan skuif die heuwels dieper land in en begin die landerye almal aan jou regterkant lê op die wal van die Oranjerivier. Tussen die erwe en die huisies wat sig-sag aan jou linkerhand, loop die kanaal wat water van die Boegoebergdam af bring. Dis Opwag.

Daar is ‘n skool ook - destyds ‘n tweeman-skooltjie wat ek die voorreg gehad het om ‘n kwartaal lank te besoek. Pa is vir ‘n kortstondige projek Upington toe gestuur en ons het by Oupa gaan bly omdat die huisvesting wat die maatskappy voorsien het, te ongerieflik was. Dit was ‘n wonderlike tyd, al was dit baie moeilik. Soggens het die skool al sewe-uur begin omdat dit so warm is en dit het beteken dat ons sesuur van die huis af moes loop. Ja, loop! Vanmiddag loop jy skrefiesoog terug, ‘n myl (1,6 km) ver terwyl die son op die spierwit klippies jou verblind. Vanaand, in die donker, slaan jy die einste klippies teen mekaar om jou te verstom aan die vuurtongetjies wat oor jou hande spat. "Julle gaan in die bed piepie!" het Ma geraas omdat ons "met vuur speel".

Ander kere loop jy die warm pad daar bo na die kleinhuisie toe en vee jou met die einste spierwit, ronde klippies af net vir die snaaksigheid. Twee maal per dag stap ons saam met die vrouens wat gaan water skep in die kanaal. Tot vandag toe kan ek nog nie verstaan hoe ‘n paar gebreekte perskepitte, wat Stief-ouma bo-op elke vars emmer water gestrooi het, die rooi modderwater van die kanaal kon skoonmaak nie. Vir dors was daar nie gaskoeldrank nie, net gemmerbier uit die erdekarba of bekers vol water uit die blinkgeskuurde emmers in die kombuis - versigtig geskep om nie die modderlagie onder op die bodem te roer of die paddavissies raak te skep nie.

Ma word kwaad as ek so nostalgies raak hieroor; sy voel dit laat die familie agtertangs klink, maar ek onthou die dorstig sluk aan die koel lafenis wat na rooi grond smaak. Dis nie belangrik of die familie arm of ryk of wat ook al was nie. Die ou mense het dinge geweet wat ons moderne mense nie eens kan raai nie.

Hulle het ook bitter swaargekry en gedink dit is edel en reg. Daardie erf het braak gelê toe Oupa-hulle soontoe getrek het van Britstown af - hand-uitgedeel deur die regering vir die opbou van die na-oorlogse armblankes, maar die huisie met sy dik mure en klein venstertjies het spierwit-trots uitgestaar oor die riviererf wat stabiliteit was. Pa en sy broers, eintlik net die drie oudstes, die ander drie was te klein, was self net jong kannetjies, maar hulle moes inspring en smiddags ná skool help erf skoonmaak, ploeg en plant. Die woesteny van doringbome en bosse moes met die hand uitgegrawe word en met muile uitgesleep word. Die grond is met ‘n handploeg en muile geploeg en gelyk gesleep.

Naaste aan die rivier is die perskebome geplant. Groot, gul Alberta-perskes vir droogmaak op gaasmatte in die son. Langsaan, appelkose so soet soos nektar, ook vir droog, en dan die druiwe. Sultanas met trosse soos wat Josua laas uit die Beloofde Land uitgebring het en wat deurskynend goud glinster teen die ongenaakbare Noord-Kaap-son. Korrels wat jy met jou lippe afstroop uit pure lekkerte tot jou mond te vol is om toe te maak en jy bang is jy gaan stik aan die soetigheid.

Die buitekamer van riet het altyd die wonderlikste geur gehad. Droë perskes en appelkose, sultanas en rosyne by die mudsak vol was daarin opgestapel. Genoeg vir eie gebruik tot die volgende seisoen, die res is verkoop. Oe, en die lemoene! Van die huiserf af deur die hek oor die kanaal en anderkant die kanaalpad, daar het Oupa sy lemoenboord gemaak. Donkergoen bome wat jou omgewe met die reuk van bloeisels en die sitrus van borriegeel nawellemoene. Groot geel balle wat twee kinderhandjies oorvol lê, waarvan die klein lemoentjie aan die onderkant eintlik uitpeul van malsgeid en die sap jou mond vol spat wanneer jy dit byt. Vandag lê die hele erf onder wingerd wat deur die Kelders geoes word.

Somertyd slaap almal snags buite onder die sterre. Jy vou jou toe in jou laken teen die voornag se woestynwindjie wat oor die rooi duine anderkant die rivier kom, so asof hy ‘n pad kom oopwaai vir die son om op te kom. So wys Pa vir ons die sterre uit en leer ons hul name en terwyl jou ooglede swaar word van slaap, sak die Melkweg om jou toe en dis so mooi, so hemels, so Goddelik, dat jy kan huil.

Ek wonder of die muilwaens nog laat Saterdagmiddae in die wit pad afdraf om die jonges op te laai vir ‘n dans êrens. Mis hulle ooit die pont daar bo by Raff se winkel of gee niemand meer om oor die draai wat hulle oor Groblershoop se brug moet ry nie?

Gaps hulle nog waatlemoene vir ‘n piekniek langs die rivier en ontdek dan niemand het ‘n mes om dit te slag nie, en wanneer laas het die manne sommer met klere en al in die vinnig-vloeiende Oranje geduik?

Kap iemand nog vuurklippies teen mekaar?