Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Net amper

Net amper


Louis Lategan - 2008-10-07

Karel kry die oproep vroeg die Maandagoggend van Marydale se polisie. "Is meneer Abrahams een van julle werknemers?"

"Ja, hoekom?"

"Ons het hom Saterdagaand op 'n klag van verkragting in hegtenis geneem, maar hy word nou op borgtog vrygelaat. Hy't gevra dat ek Meneer laat weet."

"Sê vir hom ek kom; ek sal hom op die stasie kry."

Die 250 km se harde, oop wêreld van De Aar na Draghoender skuur teen Britstown langs en loop min of meer saam met die treinspoor weswaarts. Houwater, Sodium en Omdraaisvlei se naambordjies skuif verby terwyl Karel hom oor Abrahams bekommer. Redlands lê regs en by Prieska hou hy deur.

Abrahams sit op die verweerde stasiebank en wag toe hy by die murasie van die ou hotel voor Draghoender-stasie indraai. Hulle groet en gaan sit. Abrahams staar na iets tussen sy voete.

"Nou hoe dan nou, Abrahams?" vra Karel.

"Hulle sê dan nou so, dan ís dit seker maar so," sê hy half gelate met 'n ophaal van skouers.

Karel torring die storie uit hom uit.

"Payday drink almal mos maar 'n ietsie, en ons hét so 'n bietjie gevat; Meneer weet mos?" En ja, hy ken die vrou; hulle kuier maar soms 'n bietjie.

Abrahams is 58. Sou die gevoel hom dan nog so erg kon vat op sy ouderdom?

"Maar my magtig Abrahams," sê Karel, "het jy, of het jy nie? Dis gróót moeilikheid hierdie!"

Hy gee 'n verleë laggie en kyk op.

"Hoe sal ek tog nou sê, Meneer ... Ek hét nogal getraai, maar nou ook nie so watwonders laat mens sal kan sê ek het nou juis reggekom nie. Meneer weet mos maar hoe werk die wyn. En ek is ook nie meer vandag se kind nie."

'n Jaar of wat later is Abrahams toe met pensioen. Met 'n skoon rekord. Maar amper nie.