Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Agter die wynroete

Agter die wynroete


Louis Lategan - 2008-10-07

Die wynroete langs die Oranjerivier van Groblershoop tot onder duskant Augrabies is nie meer 'n geheim nie, en karre en sleepwaentjies met vreemde nommerplate karwei jaarliks vragte wyn huis toe. Groblershoop en Grootdrink se kelders, dan Upington s'n, en verder teen die rivier af, ook Keimoes en Kakamas, hou baie kele nat. En die plaaslike mense het darem self ook waardering vir die vrug van die druif, veral as hy uit 'n bottel of boks getap kan word. Maar wingerdwerk is harde werk en baie sweet val op baie veertig-plus-grade-dae voordat die oes in die kelder, uitvoerkartonne of rosyntjiefabriek beland. Teen Vrydag is mens se lyf tam gedruk deur die hitte en die week se werk en dis mos al of die humeur in die somertyd sommer so 'n soort wil van sy eie kry.

Op een so 'n bloedige Saterdagmiddag bel een van die werkers.

"Meneer sal moet kom help, die manne baklei vir hel hier onder." Dirk verdra nie 'n neukery by sy boerdery nie en sê hy kom. Klaas se mond bloei en Attie se oog is lekker toegeswel; albei is kaal bolyf en asvaal van die stof. Attie is nogal een van Dirk se staatmakers, maar hy is die een wat eerste geslaan het. Hy sê self dis so.

"Ja, ou Dirk, ja, sien jy nou, daar sê hy self! Kyk hoe't hy my bek stukkend geslaan!" beaam Klaas. Sommer so: "ou Dirk". Hy ís darem die slagoffer.

Attie kry kans om sy saak te stel. "Meneer sien mos hoe warm is hy, en dan kry hy mos daai vloek-manier oor hom as hy so gedrink is. En toe's my ma se moer mos weer soos 'n psalm op sy lippe, en dis tóé dat ek daai vuil bek van hom so toeslaan."

Ja, geen onreg sal verdra word nie. Inderdaad.