Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Waar die dooies nog tel

Waar die dooies nog tel


Flippie Jacobs - 2008-10-07
Ja ... nou onthou ek ... ek het dit een oggend in trane vir hom vertel.

Ek het gesê dat ek dit graag met hom as my oudste seun wil deel; ek het gevra dat hy vir altyd moet onthou dat ons almal van die Noord-Kaap af kom. Hy het toe vir my gevra om hom meer te vertel oor watse soort plek is hierdie Noord-Kaap dan. Ek het vir hom gesê dit is ‘n baie, baie droë plek - maar ‘n plek wat niemand ooit sal laat dors ly nie.

Ek het onthou hoe die stilte van ‘n Karoonag net deur die aankoms en vertrek van die stoomtreine in De Aar verbreek is. Skape wat die koue winternagte oorleef het, jou vroegoggend met ‘n wit lagie ryp op hulle bo-wolle kom groet het. Ek het onthou waar die Groot Gariep en die Vaal by Douglas trou, net om weer ná hul eensame huwelik in die Atlantiese Oseaan te verdwyn. Die bymekaarmaak van tsammas op die Kgalagadi se poeierrooi sandduine. Die kits blommekombers van die Namakwaland - net voor jy hom as vanselfsprekend wou aanvaar, was hy weer weg. Waar die halfmens en die kokerboom om die beurt waghou oor die barre maanlandskap van die Richtersveld. Die Augrabies, wat luidkeels aankondig dat dit iewers in die binneland gereën het. Die springbokke en die koue, koue see. Ek het die anderster Afrikaans onthou wat hulle praat van O'Kiep tot in die Goegap. Die mense van Hopetown, Prieska en Brandvlei. Plekke waar almal nog tyd maak vir mekaar, waar die verlede nog onthou word, waar begrafnisse nog groot is - waar die dooies nog tel.

Ja ... nou onthou ek ... ek het dit een oggend in Perth vir hom vertel.