Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Vögelfeder-berg

Vögelfeder-berg


Yolanda McCabe - 2008-09-16

Kom ons praat bietjie oor Vögelfeder-berg. Nee, ek het nie die naam opgemaak nie; daar's ‘n bordjie wat dit sê! Dit is omtrent 70 km van Walvisbaai af in die middel van ‘n area wat kaler en platter is as enige vlakte wat ek ken. Op 'n helder dag kan mens Walvisbaai van daar af sien! Daar is twee berge, maar dit lyk nie soos jou gemiddelde berg nie. Die een berg lyk soos ‘n massiewe, historiese olifant wat op sy sy geval het en so versteen het (‘n 4x4 lyk soos ‘n ertjie teen dit). Die ander een het holtes en selfs ‘n paar klein grotte wat skuiling bied teen die onvoorspelbare wind, en aan kinders eindelose avonture verskaf. Daar is ook ‘n misterieuse grafsteen. Maar daar is nie buite-toilette nie, so pak maar ‘n graaf in. Verder is daar ... stilte. Jy hoor die bloed in jou ore druis wanneer jy stilbly; geen gogga of geitjie, geen voëls, niks diere kan gehoor word nie. Net ongelooflike, oorverdowende stilte. Dis so stil dat toe ‘n vriend en sy skoonlief een naweek besluit om alleen te gaan kamp, hulle die skok van hulle lewens gekry het. Gedurende die nag hoor hulle voetstappe. Die man gaan soek oral, maar kry niks of niemand nie. Daar was net een verklaring: spoke! Hulle wag benoud vir die sonsopkoms. Tot hulle verleentheid ontdek hulle die volgende oggend dat dit die waterkan was wat gelek het; op die klip het die drup-drup soos voetstappe geklink!

En dan het ons nog nie eens van die maan en die sterre gepraat nie. Klink nie vreeslik interessant nie, maar het jy al ooit die maan so groot en naby gesien dat dit lyk asof dit ‘n buur-planeet is waaraan jy kan raak?

Mens beleef God by daardie plek.