Amanda Strydom - 2008-09-12
Maar God het my nog altyd styf vasgehou - die feit dat ek in my maniese fases nie verkrag of vermoor is nie, is 'n wonderwerk. Ek sou laatnag, in 1986, in Alexandra-township inry, verby die Caspirrs en polisiereserviste, met klere en kos vir die mense en het nie twee keer gedink oor my veiligheid nie.
Ek het rylopers geleenthede gegee na Soweto, Hillbrow en Pretoria - van my huis in Melville. Ek het mense van die strate af na my huis gebring om veilig in my spaarkamer te slaap. My vorige man het die horries gekry - dis te verstane, maar ek wou destyds die hele land red.
Ek het in Desember 1989 'n dokter ontmoet wat vir my presies beduie het wat met my brein gebeur wanneer ek manies word en ook die verskriklike depressiewe val ná die "high".
Toe het als vir my in plek geval. Na ek ontslaan is van die Johannesburgse Algemene Hospitaal het ek vir twee jaar gaan werk by 'n versekeringsmaatskappy waar ek net 'n doodgewone mens was. Met my toebroodjie in 'n Tupperware-bakkie het ek 07:30 ingeklok en om 5nm uitgeklok. Niemand gesien nie. Stoksielalleen vir twee jaar - die beste ding wat met my kon gebeur het.
Daar is Koos op 'n manier reg met sy medisyne van op 'n plaas gaan bly en koeie melk. Maar dit neem meer as dit - DRINK JOU MEDIKASIE. Ek doen dit al vir twee en twintig jaar en ek het nooit, nooit weer 'n maniese episode van epiese proporsies beleef nie. Hoe ouer ek word, hoe meer ken ek die tekens. En ek loop dan baie versigtig.
Dit is net genade, Deon. Nie almal het die insig nie. Ek word oorval met e-posse en mense by my vertonings wat net oor depressie wil praat. Ek weet daar is 'n verskriklike nood in ons gemeenskap wat hierdie siekte betref. En ek probeer help waar ek kan.
Natuurlik kry ek steeds gemoedsversteurings - wanneer dit gebeur, probeer ek dit skeppend aanwend, so is baie van my CD's gebore en wanneer dit my begin onderkry, is my man, Tony, en my ma, Marlene (wat ook moes leer wat hierdie aaklige-wonderlike siekte beteken - goddank sy was vir jare 'n berader by Lifeline), daar om die drake weg te jaag.
Ek is nie 'n supervrou nie; ek ly aan 'n siekte wat ongeneeslik is, maar wat beheer kan word. En ek beheer dit met medikasie, my dokter en die talent wat ek ontvang het en 'n gesonde leefstyl.
Ek het gekies om die pad alleen te loop, maar ek drink elke dag my medikasie en na twee en twintig jaar kan ek werklik sê: ek is oukei, dankie. Dank God vir Lithium en die wetenskaplikes wat dit ontdek het!
Ek is nie alleen in hierdie reis nie - groot geeste het die pad geloop - Beethoven, Van Gogh, Sylvia Plath, Winston Churchill ... daar is duisende ander.
Dankie vir jou aanbod vir 'n liriek, maar ek kan net uit my eie perspektief skryf en sing:
Strydom Amandla
Manies depressief
so staan dit opgeteken in my dokter se argief
sy praat te veel
sy lag te hard
Daar's stemme in haar kop
die wanbalans is bipolêr
ons sluit haar liewers op
My dokter is aansienlik
hy's blond en bruingebrand
'n connoiseur in psigiarie
gewerf in die buiteland
Hy vra my oor my kleintyd,my moeder en my pa
was hulle dalk ook depressief
ek antwoord toe maar - ja
Hit me with Valium
Fill me up with Lithium
Stick me full of needles
Cause I'm crazy
Die tralies voor my venster is vir veiligheid bedoel
So sê nurse Van Staden en sy glimlag ewe koel
Die dapperes bring blomme,die skugteres bly weg
Die Pers kom loer soos jakkalse
en skryf
"Meisie,dit gaan maar sleg"
Ek vleg bedags macrames
Speel smiddae terapie
en saans help ek Dolores om met waardigheid te pie
Hit me with valium
Fill me up with Lithium
Stick me full of needles
Cause I'm crazy
In Junie word ek vrygelaat
ek's vet en lui gelê
die pyn en die vernedering
wat gaan die mense sê?
Ek liefkoos nou my stilte,daar's watte in my kop
die dokters het my mak gemaak
kyk
Ek lyk nou nes die trop
Liriek : Amanda Styrydom
Musiek : Amanda Strydom/Didi Kriel
Kopiereg : In Ms Samro
Amanda Strydom