Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Toe Namibië net-net nog Suidwes was

Toe Namibië net-net nog Suidwes was


Kobie Coetzee - 2008-09-10

Ek kon nooit my studentemaats wat van Suidwes af gekom het, se begrip vir afstand verstaan nie. Vir my was dit ver om van Durban-Wes na Durban-Noord toe te ry. Hulle vertel jou hulle bly naby Windhoek, maar dan is dit ‘n dagreis ver!

Tot ons vir die eerste keer daar gaan toer het - met ons karavaantjie en vyf kinders. Dit was net voor die onafhanklikheidsverkiesing, dus nog Suidwes-Afrika en nie Namibië nie.

Niemand het ons gewaarsku dat jy liewer nie met ‘n karavaan daardie grondpaaie moet aandurf nie. Niemand het ons eers gesê om spaarwiele vir die karavaan én kar saam te vat nie.

Toe is dit ons en die klipperpaaie. Eerste pap wiel op die karavaan sommer so net anderkant die grens. Daar was nog soveel ander dat ons naderhand ophou tel het.

Maar ons Coetzees kyk altyd na die sonkant van ‘n saak. Ons drie seuns het op daardie toer blitsig geleer hoe om pap bande om te ruil ...

So na die tweede pap wiel besluit ons ons moet dan maar ‘n ekstra band vir die karavaan en nog ‘n spaarband vir die kar koop. Maar moenie dink jy skop ‘n bandeplek in Suidwes sommer agter elke bos uit nie. Dit was eers nog twee pap wiele later wat ons dié agterstandjie kon inhaal. En toe moes ons die hele wiel koop, nie net die band nie - ‘n yslike duik in ons vakansiebegroting.

Dieselfde met brood. As ons laatmiddag met vyf leeuhonger kinders op ‘n dorp aankom, sê hulle net askies, maar vandag se brood is uitverkoop, die brood kom eers môre weer. En dieselfde met petrol. Ons het nie geweet van jerriekannetjies nie. Op die kaart ry ons toe van die Visrivier Canyon af so ewe lekker na die "dorp" Seeheim toe. Daar sal ons petrol ingooi.

Wat is op Seeheim?

Niks.

Die een petrolpomp wat daar is, lyk nog soos daardie petrolmannetjies met ‘n kop en een arm wat hy so in sy sy behoort te hou met die tuit waaruit die petrol moet kom. Die ander arm is die handpomp wat jy moet woema om die petrol uit te kry. Net, hierdie een se tuit-arm hang so slap-slap langs die sy en die pomp-arm is afgebreek.

Niks tuit. Niks pomper. Niks petrol.

Terug Grunau toe? Nee ... "leen" drie liter petrol wat ons uit ‘n man se stukkende Hillman tap. As sekuriteit los ons die karavaan daar. "Free" teen die afdraandes en ligvoet op die petrolpedaal teen die opdraandes, kom ons darem tot so tien kilometer duskant Keetmanshoop. Toe maar weer wag tot iemand verbykom wat Floris na ‘n petrolpomp toe kon vat. Dit kon enigiets tussen een uur en een dag wees!

Nou, van al die kere wat ons moes wag vir iemand om verby te kom, kon ons darem daardie woestynland goed van naderby leer ken. Die kinders vaar die vlaktes in en kom met die mooiste klippe en klein-klein vetplantjies terug. Speel wegkruipertjie agter die minibossies, skiet kettie, oefen hulle gimnastiekpassies in die lekker sanderige grond en voor jy kan sê mes, is ‘n uur of drie verby en sien ons die kombi dóér in ‘n lugspieëling aangesidder kom.

Al dié belewenisse en die mooi plekke wat ons aangedoen het, maak daardie toer vir ons en die kinders die een wat ons die langste onthou. Telkens gaan ons geselse weer terug daarheen: die lugspieëlings op die vlaktes; die kameeldoringbome wat mens een-een raaksien, omdat hulle so ver uitmekaar staan. Die wilde perde. Duin 45 wat Pa en die grotes uitgestap het tot hulle net sulke stippeltjies teen die groot sand was. (Ek en jongstetjie het agtergebly om alles op film vas te lê.)

Sesriem en Sossusvleikloof, Kolmanskop en sy sand en spoke, Lüderitz wat jou eensklaps in ‘n stukkie Duitsland neersit, Spitzkoppe se rotse en spelonke waar ons ‘n dag lank rondgeklouter het.

En dan Walvisbaai.

Nou, dié wat al daar was, sal weet daar is nie ‘n boom in sig op daardie kampeerterrein nie. Net paaltjies en paaltjies wat die duisende karavaanstaanplekke aandui as die Suidwesters daar toesak. Toe ons laatmiddag daar aankom, is die kantoor al toe. Ons besluit om dan maar langs die eerste die beste ablusieblok te gaan staan, want daar is niemand anders in die kampeerterrein nie.

Ons het net die tent opgeslaan, toe kom Johannes met wapperende hempspante daar aangedraf. Die baas sê ons kan nie daar staan nie. Die plek is geboek.

Skuif toe maar na die volgende ablusieblok. Begin net weer opslaan, toe is Johannes weer daar. Ok nie hier nie. Dis ok geboek.

"Maar wanneer kom die mense? Hier's dan niemand nie en ons wil net een nag staan."

"Nee, helle kom. Helle kom. Julle kan nie hier staan nie."

Skuif toe maar tot by die verste ablusieblok. Slaan weer die tent op. Floris het net die gasbraaiertjie staangemaak, toe sien ons weer die figuurtjie doer in die verte aangehardloop kom.

"Oooooo, hier kom ou 'Bad News' weer!" brom Florie.

"Maar hierie plek is ok geboek ..."

Toe het ek genoeg gehad.

"Man, Johannes, hierdie boom wat ons nou het, is die mooiste boom in die hele park. Ons bly net hier."

Johannes kyk op. Niks boom nie. Net ope hemel.

Hy kry net so ‘n skewe glimlag, skud sy kop asof die ounooi mal is en draai om.

Douvoordag die volgende oggend pak ons op en ry. Die karavaanpark is nog net so leeg soos gisteraand en langs die pad het ons ook nie by toue en toue karre verbygegaan wat dalk soontoe op pad kon wees vir al die geboekte plekke nie.

Nouja, dis seker maar ‘n Suidwes-ding.

Anders was dit Johannes se grappie vir die dag. Kan seker maar vervelig raak daar tussen die paaltjies en ablusieblokke.