Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Uittreksels uit my Namibië-dagboek

Uittreksels uit my Namibië-dagboek


Linda Truscott - 2008-09-10

... dassies het saam met my eerste geel sonstrale gevoel ... pad net baie reguit ver voor my ... Vreemde kliprantjies, wintergeelgrasse, geharde groen doringbome, kamakazi-voëltjies op die pad ... tannie op Grünau maak twee koppies Ricoffy in polystyrene ... ek moet haar onthou van vier ... besig met bakpoeier inmeng vir karringmelkbeskuit.

... sportdag op Stampriet ... boere, Afrikaans, kerrie en rys ... winterwarmson in ons oë as die bal deur die lug trek ... spontane sportmansgees vir die opponent se harde stofdrie ... gastehuis het welkome groen gras onder ons stofvoete.

... oraloor-Afrikastalletjies, Duin 7-sand tussen my tone en sandblou lug bo my, winkels toe tussen een en twee ... kristalsteentjies by die eenkant doofstom Herero-vrou, kabeljoue op die kole met die Swakopsee nog tussen sy grate ... wind warm wanneer die kamele wiegend staan en "Caravans" in my kop begin draai ... ons 4-wheelers snel deur die mis oor die duine ...

Waar lê die jakkals knus, snuif die reënwind, draai ore spits wanneer ons oor sy land snel ... Staan die wilde perde nou mak voor die weer wat opbou? ... tussen die kliprante weet springbokke van ons ... ore skerp, neuse oopgesper in die wind ...

Luderitz met oases in die vaal strate ... Diaz-koffiewinkel se verbasende Nescafé Classic-cappucino ... Kratzplatz se eenvoudige warm kamers ... Barrels se vuur, kreef en eie pizzas ... seningrige locals by die kroeg ... toeriskat op die stoel by ons tafel strek selfversekerd uit toe die kreef kom ... deur die kombuis kamer toe keer die groot Herero-man die vuurgebakte brood uit vir môre se ontbyt ...

... oorblyfsels van Kolmanskop ... jammerlik in die sand, die trots en swier van sy eertydse Duitse inwoners ... mure met oorblyfsels van kleur, papier, patrone vergeefs geveg teen die natuur ... sand buite eentonig gekleur ... Ek kan my my kinders op ‘n stewige houttrap voorstel, met die wit son wat van agter oor hulle val.

... by Felix Unite blink die Oranjerivier koud deur die reën vanaf die beskutte kuierstoep ... beweeg stempelstamp deur die grensposte, skuif ons horlosies ‘n uur aan ...