Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions > Die Vinger

Die Vinger


Swerwer - 2008-09-10

Dis 4 Desember 1976, die pad is warm en hittegolwe veroorsaak hersenskimme van drywende water daar doerrr ver op die teer. Die Ford Escort - 1600 Sport - helder oranje, wil-wil aan die kook gaan, en die bordjie regs voor langs die pad lees Mariental (nog) 200 km. Dis 'n plat stuk aarde tussen Keetmanshoop en Mariental; jy kan môre twee dae ver sien aankom en gister is drie dae later steeds sigbaar.

Ons is moeg, warm en gatvol gery, ek en my nuwe vrou. Pasgetroud en pas uit die Polisiekollege, ekke, en op pad na my eerste stasie, Oshakati. Ons het besluit om te ry en nie met die trein te stoom soos dit die mode was nie. Nou hier tussen niks en nêrens, met 'n verlore gevoel hangend tussen ons, wens ek ons het maar eerder gestoom. Al was dit 'n sewe dag klik-klak-rit sou ek die roet enige tyd bo my nuwe vrou se moeë gesig verkies het.

Weer doem 'n bordjie aan die regterkant van die pad op. Die sweet wat oor my voorkop biggel, maak dat ek nie helder kan sien nie en dis vroulief se stille woord, "Vingerklip", wat my my voet van die petrolpedaal laat afhaal. Ons stop regoor 'n stof-afdraaipaadjie en kyk woordeloos vir mekaar. Sonder die beweging van die motor wat 'n warm windjie deur oop vensters dryf, neem die son en hitte dooierus op ons.

"Ja," sê sy en ek draai op die stofpaadjie af. Nie een van ons praat nie.
'n Swart-en-wit padbordjie geel gekleur in die son sê dis nog 25 km tot by die Vingerklip; onderaan het iemand "Mukurop" (God se Vinger) in wit verf geskryf en bo-aan Asap.

Oor 'n rantjie en daar staan hy, kiertsregop en alleen op sy koppie. Die
uitgestrekte vlakte rondom met 'n platrant-koppie agter hom verleen
statigheid aan die Vinger.

Ek en vroulief soek na koelte, maar daar is nie 'n boom in sig nie, slegs narrabossies met 'n droogheid oor hulle wat laat jou smag na lafenis. Ons klim teen die koppie uit en in die koelte van die reusagtige Vinger, wat meters hoog bo ons uittroon, sprei ons 'n kombers en ontpak die piekniek mandjie.

Dis eers wanneer die effense windjie, wat daar hoog op teen die koppie
fladder, aan my natgeswete hemp ruk en sodoende 'n koelerigheid teen my lyf veroorsaak, dat ek begin rondkyk. Onderaan die stam van die Vinger het iemand, ook in wit verf, geskryf: "Die Vinger van God" en ek kan sien hoekom dit so bekend staan. Oral om ons is 'n uitgetrekte platheid met slegs die wit-bruin rots wat baie meters hoër as enige ander baken die lug ín troon.

Ons besluit om daar te oornag. In die triomf van "God se Vinger" maak ek twee slaapsakke in 'n eenmanstent pas. Nie dat ek van plan was om beide te gebruik nie - een moes dien as buffer teen die harde klipgrond.

Daardie nag sweer ons weer ewige trou aan mekaar met die Vinger as getuie.

Die volgende oggend, met 'n gompou wat jubelend die nuwe dag aankondig, kyk en bekyk ons vir oulaas die Vinger voor ons die pad en ons begin-troulewe met 'n nuutgebore geesdrif aanpak.

Die grootsheid van die oomblik bly ons jare by, en wanneer ons in die SWA-koerant, Die Windhoek Observer, lees dat 'n sterk rukwind die Vinger op 4 Desember 1988 laat tuimel het - presies 22 jaar na ons besoek - is dit met 'n stilte en vrees dat ons die toekoms afwag. Is dit 'n voorbode?

Iemand skryf in Die Republikein, nog 'n Namibiese koerant: "Soos hy
gestaan het, so het hy geval, maar uit sy val is boustene vir ons nasie
gevorm."

Twee maande gelede besoek ek en vroulief vir die eerste keer sedert 1976 weer die terrein waar die Vingerklip eens was - dit is in duisende stukke oor 'n groot afstand onder die fel son versprei. Die koppie lyk bar en alleen sonder sy troon. Maar in die koelte van die grootste brokstukke groei die narrabossies groen en geil. Die Vinger is nie weg nie, hy't vermenigvuldig en vul die aarde.

Boustene vir 'n nasie.