Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel: Pole

Egon se nuusbrief uit Israel: Pole


Egon - 2008-09-09

Een van my studente vra my: “Egon, as ek luister wanneer jy vertel van jou en Judy se reise, is ek jaloers. Dit klink altyd so eksoties. Kan jy ons help om iets te beplan?"

“Vir seker,” sê ek, en ‘n paar dae later ontmoet ons om haar en haar man se vakansie na Duitsland te beplan. Ons verduidelik hoe om die internet te "surf" vir goedkoop vlugte.

“O nee,” sê sy verstom, “ons vlieg nie ‘charter’- of nagvlugte nie – dit neuk mens se metabolisme op!”

“Maar as mens geld wil spaar, is dit hoe jy dit doen en jy’t dan gesê dit klink so eksoties,” sê ek.

“Hmmm, maar …” mompel sy en begin oor ander dinge praat.

Natuurlik is sy reg: dit hang af hoe jy die saak beskou en hoe jy die storie oorvertel. Dit hang ook af wat is belangrik: om baie te sien en ook ongemak te verduur of min gemaklik te sien. Ons kies elke keer baie sien en vertel onsself dat die ongemak nie so lank soos die mooi foto's onthou word nie. Vat nou byvoorbeeld hierdie vakansie: Judy soek die goedkoopste kaartjies uit Israel na Duitsland want Mama wil hê ons moet kom kuier. Daar’s baie in die huis en die tuin waarmee ons kan help – wat is die langste tyd wat ons kan bly? Eers sê ons twee maande, maar dan vind Judy ‘n goedkoop nagvlug na Berlyn – sonder kos. Ons land 6 vm en ons vriendin by wie ons gaan kuier, kom tel ons op.

“Jammer julle kon nie al gister gekom het nie – dit was die Christopher Straat-parade,” vertel sy. Ons weet dit, maar dit sou oor ‘n $100 tot die prys van ons kaartjie eenrigting bygevoeg het. Later wonder ons of ons ‘n fout gemaak het om Duitsland se grootste gayparade te mis – die oudste oorlewende gay van Hitler se konsentrasiekampe het die skare van etlike duisende toegespreek! Nouja ...

Ons wil vriende in Wrawlow in Pole ook besoek, maar hulle is eers twee weke later beskikbaar. “Bly die eerste week by ons,” sê ons gasvrou in Berlyn. Ons aanvaar die uitnodiging en besluit om die tweede week te toer. Die goedkoopste week-treinkaartjie met onbeperkte myle is in Pole op die stadige treine – dit pas ons sak. Dus koop ons ‘n Lonely Planet-gids vir Pole en vertrek.

Ons ontdek drie dinge: dat die treine in Pole skoon, gemaklik en uiters stadig is; dat ons rugsakke met twee maande se klere en boeke te swaar is, of ons te oud en onfiks; en dat Niel reg was – gay is nie sjiek in Pole nie. Dis amper onmoontlik om ‘n kamer met ‘n dubbelbed te huur – net met twee enkelbeddens! Ons ontdek as ons êrens wil kom en nog iets wil sien, moet ons vroeg vertrek – ons moet die eerste trein reeds voor 6.30 vm haal. Aangekom in ‘n nuwe stad of dorp – Stettin, Leba, Gdansk, Bialystock, Kętrzyn – bly ek sit terwyl Judy die nodige inligting en verblyf gaan soek. Ek kan ‘n tesis oor treinstasies skryf. Soms gaan dit maklik en is sy gou terug, maar soms vat dit langer as wat my blaas gemaklik vind. Toilette is skoon, maar elke piepie kos jou ‘n paar rand.

Ons eerste nag is ons nog dom en betaal ons te veel vir ons mooi hotel. Gevolglik, drie nagte later, besluit ons om ‘n nagtrein te haal om verblyfkoste te spaar. Die enigste probleem is dat die volgende ‘n kort rit is – net vier uur, vanaf 1.30 vm tot 5.30 vm. Vir reisigers wat in ons voetstappe wil volg: hulle sluit die stasiegebou van Gdansk om middernag om skoon te maak en dan moet jy op die perron sit en wag – al reën dit en is die wind snerpend koud.

Dis die negatiewe sy van reis soos ons reis – dit kan lei tot seer voete, ‘n moeë lyf en veel irritasie – maar … Pole is ‘n ongelooflike mooi land met sagte heuwels soos groen golwe wat voor jou uitspoel. In die valleie lê klein gehuggies, dikwels van hout gebou en omring met damme en mere soos geen Israeli of Suid-Afrikaner aan gewoond kan raak nie. Leba, waar ons vir twee dae aan die Baltiese kus kuier, is op die rand van die Slowinski Nasionale Park met sy wandelende duine: kilometers poeierwit sand sluk aan die een kant die woude groen en welig in en spoeg hulle half dood aan die ander kant uit. Seevoëls baljaar en speel al om jou en dit voel asof jy vir ewig langs die sagte wit strande langs die Baltiese See kan stap, en die water is verbasend warm. Definitief warmer as Clifton of Hermanus.



Versteek in woude buitekant Kętrzyn is die bunker van Hitler, waar hy vir 800 dae tussen 1941 and 1944 gewoon en die oorlog teen Rusland gelei het. Dis grotesk en tog pragtig: betonmassas wat gebombardeer is en nou stadigaan deur die natuur herwin word. Daar is ligeen – geel en goud en oranje – wat op die betonblokke blink. Alles ruik na groen en nat en vreemde blomme. Ons verloor alle sin vir rigting en tyd en probeer ons voorstel hoe dit gelyk het toe Hitler hier gebly het. Die gids vertel dat die gekwaak van die paddas sy offisiere so gepla het dat hulle gif in die water gegooi het en toe gaan al hulle visse dood – so krimp mens deur dommigheid jou eie spyskaart.

Tydens die oorlog is baie van Pole se stede deur onoordeelkundige bombardering in puin gelê, maar die binnestede van Warskou en Gdansk is met baie liefde, aandag aan detail en toewyding herbou sodat vandag se reisiger nie kan glo dat die Middeleeuse stad waaraan hy hom vergaap, minder as vyftig jaar gelede gebou is nie. In Warskou bou hulle steeds. Dis ongelooflik mooi.

En so kom ons dan moeg maar tevrede by ons pelle in Wrawlow aan. Ook hier is die ou stad pragtig, maar op hierdie besoek kuier ons bietjie buite die stad – na ‘n moeilike jaar tuis, soek ons groen en stilte. Twee dae later is ons weer op pad, sit ons weer op stasies en wag vir stadige treine wat ons ná middernag op Heidelberg se stasie uitspoeg. Goddank sit skoonsus op die perron vir ons en wag.

Ons het skaars geland of Judy se ma wil weet wanneer sy die nuwe beddings in die tuin kan omspit en het ek al na die strykwerk gekyk. Sy weet dis baie, maar sedert die winter was daar nie tyd vir huiswerk nie – die tuin is groot en ons wil vars groente en vrugte geniet. Sy het reeds die johannesberen vir my in die kombuis gesit.

Ja, ons reise is eksoties en ons besef ons is geseënd om gratis ‘n tuiste en motor in die hartjie van Duitsland te hê, maar soos my liewe vriendin Dora gesê het: niks vir niks en min vir ‘n Pfennig!