Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Mama Afrika vir oulaas op die Europese verhoog by The Hague Jazz

Mama Afrika vir oulaas op die Europese verhoog by The Hague Jazz


Maryke Steenkamp - 2008-06-17
Miriam Makeba het vir oulaas die Europese verhoog betree by The Hague Jazz in Den Haag, Nederland. Maryke Steenkamp het gaan luister.

Dit was die enigste vertoning van die fees waar ons moes toustaan buite. Lank toustaan. Klaarblyklik die gewildste vertoning op die program, dus. Sekerlik die gevolg van Miriam Makeba se foto wat as hooftrekpleister vir die fees gedien het. Seker ook omdat hierdie vertoning die laaste van haar Europese toer sou wees, ook moontlik die laaste Europese optrede van haar loopbaan. In my geval, definitief vanweë die feit dat ek elke geleentheid aangryp om iemand van eie bodem hier te hoor. En as dit een van ons land se ster-uitvoerprodukte is, soveel te beter!

Uiteindelik binne was dit ‘n stryd om plek te vind tussen die honderde aanhangers, afwagting sigbaar op hulle gesigte. Sy’t ons ‘n rukkie laat wag … eers haar orkes laat speel vir ‘n interlude … en toe, skuifel-skuifel op ‘n kwêla-maat, het sy die verhoog opgekom. Die applous nog voordat sy ‘n noot gesing het, ’n bewys van haar diepte.

Met die eerste note uit haar mond was die gehoor stil, meegevoer deur die klank. Ek het verwonderd geluister na hierdie diva wat voorheen nog net vanuit CD-omslae na my gestaar het. Rillings deur my lyf het oorgespoel na my tone, die klappe van haar tong het kom lê in my huis-toe-verlang-hart.

Miriam het vermaak met liedjies van lank gelede en liedjies van onlangs, almal deurspek met haar kenmerkende ritme, uitgelig deur haar intense vertolking. Tog, op hierdie aand was Miriam moeg. ‘n Kaal houtstoel op die verhoog ‘n teken daarvan. Sy het groot om verskoning gevra, verduidelik dat die osteoartritis in haar lyf veroorsaak dat sy plek-plek sal moet rus. Maar sy’t nooit lank gesit nie; haar voete wat op die vloer tik, net nie genoeg om uiting te gee aan die musiek in haar lyf nie. En dan, sukkel-sukkel, het sy weer opgestaan en vir ons laat sien dat hierdie grande dame se bene nog nie gereed is vir stilstaan nie.

Die vertoning was ’n grootskaalse familie-affêre. Al die musikante het saamgekom van die huis af; almal speel al jare met haar saam. En haar twaalfjarige kleinkind was op die bongo-tromme. Miriam het kleurryk vertel sy kon eenvoudig nie nee sê toe hy gevra het of hy van Frankryk (waar hy en sy ouers tans bly) mag oorkom om vir “Gogo” te speel nie.

Benewens die immergroen musikant het Miriam die politieke stryder ook weer hier deurgeskemer. Die vertoning was kort na die xenofobiese geweldvlaag en Miriam het by die gehoor gepleit namens ons land. “Forgive us,” het sy gesê. “Forgive us for losing the tolerance our leaders taught us.”

Miriam het die polsende energie volgehou tot by haar laaste liedjie, maar tydens die toegif moes sy vir ‘n rukkie agter die vleuelklavier gaan wegkruip, haar lendelam heup en knie nie meer opgewasse vir nog ‘n keer se dans nie.

‘n Laaste buiging het haar weer vorentoe laat kom.

Trots, regop, grasieus.

Met hierdie vertoning het sy kom bevestig: maak nie saak waar in die wêreld jou lyf is nie, Mama Afrika neem jou hart huis toe…

Inligting oor die fees by www.thehaguejazz.com.