Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel: Oorlogstories

Egon se nuusbrief uit Israel: Oorlogstories


Egon - 2006-10-23

Home, where my thought’s escaping
Home, where my music's playing
Home, where my love lies waiting
Silently for me.
                  (Homeward Bound – Simon & Garfunkel)
 
 
Nog nooit vantevore was ek so bly om die sleutel in die slot te draai, die lig aan te skakel en by my huis te wees soos na hierdie vakansie in Europa nie. Eintlik is dit altyd lekker om na ’n lang tyd terug te kom na geliefde bekende dinge, maar hierdie keer was net anders. Dis nie dat ons vakansie nie lekker was nie; dat ons nie asemrowend mooi plekke gesien het nie, of die geselskap van vriende en geliefdes nie geniet het nie. Dit was ’n heerlike vakansie belaai met vermaak – miskien ’n bietjie warm in Europa, maar o, was ons bly om tuis te wees. Elena, ons vriendin uit Peru wat aan die begin van die vakansie saam met ons in Duitsland was, het duidelik die woonstel skoongemaak. Ons liewe buurvrou het gesorg vir kos in die yskas en ’n uitnodiging vir middagete op die tafel gelaat. Die telefoon het amper dadelik begin lui. Oproepe van studente wat vra: Is julle terug? Staan julle woonstel nog? Wanneer begin klasse?
 
My wyse vriendin Jean het vroeër uit Kaapstad geskryf: "Julle gaan tyd in die klasse moet inruim vir studente om te ontlaai. Sit solank julle luisterore aan!" En dis presies ons ervaring. Ons hoor verskriklike stories en ons ore sing van luister en vashou en troos en dan nogmaals luister. En die woorde wat soos ’n refrein herhaal word: “Dit was verskriklik! Die bomme en hitte; die vrees en die onsekerheid –waar tref dit volgende? Die ergste nuus ooit: 50 tot 70 katjushas per dag!”
 
“Daar’s drie nuwe woorde wat jy in Hebreeus sal moet leer,” vertel een vrou my: “jeziah - as die katjusha afgeskiet word, shriekah - as hy so huil deur die lug, en nefilah - as hy die grond tref. Ek leer hulle maklik, want ek hoor hulle so baie. Omdat ons dorp so naby aan die grens is, kon die mense hier ook hoor wanneer ons skiet, daar was die gedonder van die vegvliegtuie in die nag afgewissel met die doodse stilte van ’n dorp wat 75 persent van sy mense verloor het. Byna ’n miljoen Israeli’s hier uit die Bybelse Galilea het vlugtelinge geword en voor Hisbollah se katjushas gevlug na die veiliger sentrale gedeeltes van die land. Dit was moeilik - amper dertig mense van drie geslagte moes herberg vind in ’n huis wat ontwerp is vir vyf (nie Suid-Afrikaanse standaarde nie - veel kleiner). Nie uit keuse nie! Ten minste het ons geweet waar almal is! En dan nog die hitte!!!”
 
Dit help nie om ons eerste klasse, veral in die laer vlakke, in Engels te probeer hou nie. Hul harte en gemoedere loop oor van verligting en blydskap om mekaar weer te sien. Ons sukkel soms om te onderskei waar een storie eindig en ’n nuwe een begin.
 
“Ek woon in Me'onah,” vertel ’n nuwe student. (Dis ’n moshav, so ses kilometer buite Akko, waar ons altyd vars sampioene gaan koop.) “Na die eerste paar dae wou ek suid vlug, maar wie sou na my hoenders kyk? So, toe bly ek maar vir die hoenders se onthalwe.”
 
“Wat maak die hoenders as die katjushas oor kom?” wil ons almal skielik weet. Mens weet dat baie van die diere, soos katte, so diep moontlik in die huis gaan wegkruip. Honde raak buite beheer histeries, veral as hulle op ’n vreemde plek is. My kaboutermannetjie se een hond het onder ’n heining probeer deurklim en in die proses is die vel van sy rug afgestroop. Dit lyk nog steeds aardig.
 
“Hulle skree!” antwoord sy. “Dis ’n klank wat julle julle nie kan voorstel nie. Soms het ek die oorverdowende geskreeu met die klank van sirenes verwar, tot ek helaas besef dis net die
hoenders!”
 
Esti woon in Ya'ara. Dis ’n moshav sowat drie kilometer direk suid van die Libanese grens, waar Christen-Arabiere en Jode vreedsaam saam woon. Haar bure is ’n bejaarde egpaar wat versorg word deur hul jong, ongetroude dogter – “Arabiere,” vertel Esti, “met wie ons ’n baie hegte band het. Ek het byvoorbeeld al die familie se telefoonnommers, want die oubaas is regtig baie oud en mens weet nooit wat kan gebeur nie. In die week voor die oorlog het hy nog vir my ’n mandjie kraakvars groente uit sy tuin gebring. Sy tuin was sy vreugde en trots.” Esti en haar kinders het suid gevlug aan die begin van die oorlog, maar soos baie ander moes haar man vanweë sy werk by die huis bly. Sekere dienste en besighede moes aanhou funksioneer, maar volgens noodwetgewing moes hulle bomskuilings beskikbaar hê waarheen werkers kon vlug.
 
Sedert ons terug is, het ons weer ons skuiling gaan bekyk. Hier het ons buurvrou veiligheid gevind vir haar en haar kleinkinders vir twee dae voor hulle suid gevlug het. Dis ’n goeie skuiling, diep gegrawe en voorsien van alle lewensnoodsaaklikhede – water en ’n toilet. Na ’n paar weke is Esti huis toe om klere en ander benodighede te gaan haal, want soos die meeste mense het sy, met die verwagting dat hulle net ’n paar dae sou weg wees, min goed gepak. Sy was skaars in die huis toe alle hel losbars. Sy hoor bomme val. Sy hoor haar buurvrou skree: “Esti, Esti!” Voor sy nog iets kan doen, bars die buurvrou in. “Hy’s weg! Hy’s weg!” ’n Stukkie granaatkartets van die bom wat in die huis geval het, het haar bejaarde pa getref. Hy is op slag dood. ’n Paar uur later het die skietstilstand in werking getree – hy was die laaste slagoffer.
 
Ludmilla kyk haar verslae aan. “My buurvrou was die eerste,” sê sy. “Sy’t die oggend iets vreemds gehoor, en omdat sy ’n nuwe immigrant uit Argentinië is, het sy nie die geluid herken nie. Met haar koppie koffie in die hand het sy op haar balkon uitgestap om te sien wat aan die gebeur is. Die volgende katjusha het haar direk getref – sy is ook op slag dood. Haar familie het dadelik hul goed gepak en is terug Suid-Amerika toe.”
 
Vir Ludmilla self was dit ’n verskriklike tyd. Sy werk as laboratoriumtegnikus by die plaaslike hospitaal. Vroeg in die oorlog is die hele hospitaal na die massiewe bomskuiling in die kelderverdieping verskuif. Alles behalwe die laboratoriums – daar sit sy, met die lieflike uitsig oor die noorde van Galilea – direk in die gesig van Hisbollah. As die sirene afgaan, moet sy nael om by die kelderverdieping te kom.
 
Telkemale per dag moes sy met die trappe op en af! Een oggend, net na die bus haar by die hospitaal afgelaai het, skree die sirenes, en die enigste plek waar hulle vinnig kon skuiling vind, was langs die deur van die lykshuis. Terwyl hulle daar wag, begin die ambulanse aankom. Hulle bring die lyke van die gesin wat in Akko dood is. Hierop volg die lyke van soldate wat, tien kilometer verder, by die grens as slagoffers uit die stryd getree het. Verskeie ambulanse is tydens hierdie gebeure getref, dikwels indirek deur granaatkartetse van ’n katjusha wat naby geland het.
 
Die stories kry nie einde nie. Die Russiese pa van wie CNN vroeg in die oorlog vertel het, was in 'n openbare skuiling toe sy dogtertjie kla dat sy koud kry. Hy het vir haar haar kombersie gaan haal. In die paar meter tussen die deur van die skuiling en dié van hul woonstelblok is hy getref en is op slag dood. Ook hierdie gesin het teruggekeer na Rusland, met lyk en al.
 
“’n Katjusha het direk voor ons huis geval,” se Tova, “maar dit het nie ontplof nie. Dit was ’n wonderwerk.” Sy woon nie meer as 300 meter van ons af nie – in die aangrensende straat!
 
En ja, die stories is baie – van noue ontkominge; van hulp wat aangebied is; en van goeie buurmanskap. Die Russies-Israelitiese miljoenêr, Arkadi Gaydamak, het in die suide ’n tentkamp geopen waarheen mense uit die noorde kon vlug. Hier het hy alles, insluitend vermaaklikheid vir die hele gesin, kosteloos voorsien.
 
En wat hou die toekoms in? ’n Libanese student, wat vroeër in die veiligheidsmagte van Libanon gewerk het, is skepties. “Die Hisbollah sal die Weste streel soos mens ’n kat streel tot hy slaap, en dan – wanneer hulle gereed is – sal hulle weer aanval. Die Weste verstaan die Arabiese mentaliteit glad nie – ons sal nog duur betaal daarvoor!”