Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Protes en weerstand – Ekspressionistiese konvensies in werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars

Protes en weerstand – Ekspressionistiese konvensies in werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars


Amanda Botha - 2008-04-24

Sesde en voorlaaste aflewering in die reeks oor die invloed van die Duitse Ekspressionisme op Suid-Afrikaanse kuns. In hierdie artikel word spesifiek gekyk na hoe die konvensies van die Ekspressionisme protes- en weerstandstandskuns in Suid-Afrika beïnvloed het, veral ook as impuls van swart kuns.

’n Onderskeidende faktor van die Duitse Ekspressionisme was die gebruik van grafika, veral hout- en linosneë. Hierdie medium is veral suksesvol aangewend in die ontwikkeling van protes –en weerstandskuns in Suid-Afrika. Die sukses waarmee hierdie kuns bedryf is, toon ook sterker raakpunte met Ekspressionisme as net in die aanwending van die medium.
 
Tegniek en onderwerpkeuse erken die invloed van protes en weerstand wat legitiem in die kunswerk uitgedruk word. Die gebruik van Ekspressionistiese konvensies is ook sigbaar in die linosneë van die Polly Street-kunstenaars. In baie van die kuns kan die impuls van Ekspressionisme die sterkte waargeneem word in die uiting van weerstand en verset teen apartheid.

In die vorige artikels oor die invloed van die Ekspressionisme in die Suid-Afrikaanse kuns, met spesiale verwysing na kunswerke in die Sanlam-kunsversameling, is verwys na die pioniers Irma Stern en Maggie Laubser; die invloed van immigrante wat hulle tydens en na die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika gevestig het, soos Wolf Kibel, Lippy Lipshitz, Pranas Domsaitis, Alfred Krenz en Stefan Ampenberger; asook die invloed op Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Johannes Meintjes, Harry Trevor, Gladys Mgudlandlu en Gerard Sekoto. In hierdie laaste artikel in die reeks word spesifiek ook gekyk na die gebruik van drukgrafika by proteskunstenaars en die opkoms van swart kunstenaars binne die denksfeer van die Ekspressionisme.

 

Drukgrafika

Drukgrafika as ’n algemeen gewilde uitdrukkingswyse en bekende kunssoort in Suid-Afrika is relatief jonk. Kunstenaars sowel as versamelaars van kunswerke het eintlik eers sedert die jare na die Tweede Wêreldoorlog die waarde daarvan as selfstandige kunssoort in toenemende mate besef.

Die woord grafies ontstaan uit die Griekse graphē,wat beteken “om te graveer” of ook “om te skryf” of “om te teken”. Hierdie drievoudige betekenis kan die rede wees waarom die term grafiese kuns verskillend in verskeie kontekste gebruik word. ’n Poging tot ’n definisie van grafiese kuns is dat dit nie deur fotografiese of sogenaamde outografiese prosesse gereproduseer word nie. Grafiese kuns word indirek deur “gegraveerde” klipblokke of plate geproduseer. In die wyer sin van l’art graphique word grafiese kuns direk of indirek geproduseer deur tekeninge wat op plat oppervlakke gegraveer word en op papier gedruk word. Dit is essensieel lineêre kuns, teenoor skilderye of beeldhouwerk.

Die tegniek van die kunstenaar wat in drukgrafika werk, is belangrik. Tegniek word hier nie net ’n keuse van ’n proses nie, maar ’n medium om uitdrukking aan gedagtes en emosies te gee. Terwyl die kunstenaar werk, sal hy/ sy in die medium, met sy inherente beperkinge, nie net die idee of gevoel wat ervaar word, weergee nie, maar sal die kunstenaar die idee ontwikkel deur dit te omvorm om by die medium en die gereedskap waarmee gewerk word, aan te pas.

Met verwysing na werke op papier word na verskillende skeppingsprosesse verwys, byvoorbeeld akwagrafie, akwatint, ligdruk, kleurdrukwerk, kleurhoutsnee, kopergravure, krytgravure, diep-ets, diepdrukwerk, direkte ets, korreldruk, droënaald-ets, linosnee, litograaf, steendruk, metaalsnee-mezzotint, gemengde media, aftrekdruk, eenkleurige monochroom, monotipe, getinte pentekening, plastieksnee, reliëf-ets, sifdruk, staalgravure, steensnee, houtsnee en houtsneewerk.

 

Agtergrond

Die aanvanklike beoefenaars van die drukgrafika in Suid-Afrika voor die invloed van die Duitse Ekspressionisme was hoofsaaklik buitelanders wat hulle hier kom vestig het. Onder hulle is die Duitser HAH Aschenborg (1888–1931), wat hoofsaaklik linosneedrukke vervaardig het, asook Frans Oerder (1867–1921) en Pieter Wenning (1873–1921) wat, benewens talle skilderye, ook etse geskep het. Die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar van naam wat ’n aantal drukgrafiese media beoefen het, was JH Pierneef (1886–1957). Hulle werk staan egter verwyderd van die Ekspressionistiese impuls.

Tussen 1950 en 1977 het die drukgrafika hier sterk ontwikkel. Dit is onder meer te danke aan die koms van Katrine Harries (1914–1978) na Suid-Afrika. Die Duitsgebore Harries is in Berlyn opgelei. Haar doseerwerk aan die Michaelis-kunsskool aan die Universiteit van Kaapstad en haar werksmetodes het verreikende gevolge gehad. Met haar eie litografieë, etse en illustrasiewerk het sy landwyd aandag geniet. Vandag word kursusse in Drukgrafika by die meeste Suid-Afrikaanse universiteite en technikons se kunsskole aangebied.

’n Belangrike invloed op latere kunstenaars was die onderrig wat studente aan die Universiteit van Witwatersrand ontvang het onder leiding van die meester-etser Giuseppe Cattaneo. Onder kunstenaars wat hy in drukgrafika opgelei het, tel Diane Victor, William Kentridge, Deborah Bell en Robert Hodgins.

Die belangrikste bydrae – wat regstreeks ook aangesluit het by die Ekspressionisme – is die besluit van die Johannesburgse Stadsraad in 1949 om ’n finansiële bydrae te maak om die Polly Street Art Centre tot stand te bring. Hier kry die grafiese dissiplines veral tussen die jare 1952 en 1965 onder die leiding van Cecil Skotnes ’n belangrike hupstoot. Wat uniek aan die Polly Street Art Centre was, was dat daar ’n sterk interrassige vennootskap was, ondanks die feit dat die apartheidsregering in 1948 aan bewind gekom het.

Die eerste vrywillige onderwysers was Eleanor Lorimer en haar dogter June, Gideon Uys en Fred Schimmel. Hoewel verskillende kunstenaars hulle dienste van tyd tot tyd beskikbaar gestel het, was dit Skotness wat finaal beslag aan Polly Street as ’n kunsskool gegee het. Uiteindelik het politiek die oorhand gekry en is Polly Street se deure in die Johannesburgse middestad gesluit en het die sentrum na Molofo Park verskuif, waar dit tot 1975 aktief was.

In 1962/63 het ’n tweede belangrike kunssentrum tot stand gekom, en wel in die platteland van Kwazulu-Natal: die ELC Art and Craft Centre by Rorke’s Drift. Hier word kollektiewe kreatiwiteit tot betekenisvolle individualisme in die kuns ontwikkel. Om dié rede het dit ’n belangrike drukgrafiese opleidingsentrum geword wat landswyd aandag getrek het.

Die konsep van gemeenskapskunssentra en -werkswinkels het in die begin van die sewentigerjare ’n vaste voet gekry en het veral die grafiese media bevoordeel. Hier speel instansies soos die Community Arts Project (CAP) in Kaapstad (gestig 1977), die Federated Union of Black Artists (FUBA), wat in 1978 in Johannesburg gestig is, en die Community Arts Workshop (CAW) in Durban, wat in 1983 gestig is, ’n deurslaggewende rol.

 

Opkoms van swart versetkunstenaars

Onder die swart kunstenaars wat óf by Polly Street óf by van die bogenoemde gemeenskapskunssentra betrokke was, tel Osiah Masekoameng (1955-2008), Alfred Thoba (gebore 1951) en Tyrone Appollis (gebore 1959) [Tyrone Errol Appollis, Self Portrait, 2006, olie op doek]. Selwyn Pekeur (gebore 1957) en Lizo Manzi (gebore 1964) [Lizo Manzi, Civil War is a Disgrace, 1998, olie op bord] se opleiding was beide in die Oos-Kaap – Pekeur in Port Elizabeth en Manzi in Oos-Londen. 

Masekoameng, wat in Soweto gebore is, is as skrynwerker opgelei, maar danksy studiegeleenthede tussen 1983 en 1987 aan die FUBA Academy word hy in 1995 voltydse medewerker by die Artist Proof Studio in Johannesburg. In 1989 het hy aan groepuitstallings begin deelneem en geleidelik het hy erkenning verwerf. Sy werk is byvoorbeeld opgeneem in die kunsversameling van die Gautengse Wetgewer en ook die Izikio Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsgalery.

Masekoameng [Osiah Masekoameng, Inbaluwa 1, 2001, etswerk | Osiah Masekoameng, Inbaluwa 2, 2001, etswerk | Osiah Masekoameng, Inbaluwa 3, 2001, etswerk | Osiah Masekoameng, Inbaluwa 4, 2001, etswerk | Osiah Masekoameng, Inbaluwa 5, 2001, etswerk | Osiah Masekoameng, It’s Business as usual, 2001, etswerk | Osiah Masekoameng, People of the South, 2001, etswerk] werk met redelik groot ruimtes en sy werk word dikwels gekenmerk deur kleurryke tonele uit die swart gemeenskapslewe. Met dié werk vestig hy aandag op gebruike en tradisies en word hy ’n kampvegter vir die erkenning van die kultuurgoedere van swart mense.

Hierteenoor staan Tyrone Appollis se weergawes van die Kaapse bruin mense se lewe en hul kultuur. [Tyrone Errol Appollis, The Drummer Boy, circa 1991, olie op bord] Hy werk ook in olie en gemengde media. In sy werk poog hy om betekenisvolle bydraes te erken wat die gemeenskap gemaak het. Hy het ’n sterk politieke bewussyn. Sy temas roep om erkenning binne ’n groter Suid-Afrikaanse gemeenskap, waar hy met ’n gevoel van ubuntu die swart kultuurgoedere vir almal opeis. Hiervan getuig sy roerende werk We come from far away Places, wat hulde bring aan die sang-ikoon Miriam Makeba. [Tyrone Errol Appollis, We come from far away places: Tribute Miriam Makeba, 1995, gemengde media op doek]

Appollis word in sy werk ’n storieverteller en hy steun swaar op die Ekspressionistiese tradisies. Sy leefruimtes en belewing daarvan voed sy kuns. Die narratiewe van Appollis se kuns handel nie net oor die fisiese ruimtes van die township nie, maar lewer sterk polities-bewuste sosiale kommentaar. Na die 1994-verkiesing poog hy egter om deur sy werk versoenend in die breër gemeenskap te staan. Hy het tussen 1982 en 1987 by CAP in Kaapstad onder Cecil Skotness studeer. [Tyrone Errol Appollis, Mother and Child, 1988, olie op papier]

Appollis het ’n aantal solotentoonstellings op sy kerfstok; die belangrikste is die oorsigtentoonstelling wat Sanlam hom in 2006 aangebied het. Sy werk is goed verteenwoordig in openbare en korporatiewe versamelings. Hieronder tel die Izikio Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad en die Konstitusionele Hof in Johannesburg.

Alfred Thoba [Alfred Thoba, The Cattle Farmer, 1993, gemengde media op papier] geniet groot aansien in Suid-Afrika sedert die vroeë negentigerjare. Hy het in 1988 aan die projek 100 Artists Protest Detention Without Trial in die Johannesburgse Mark-teater deelgeneem. Hy figureer ook in Sue Williamson se seminale werk Resistance Art in South Africa (1989). Hy is bekend as ’n struggle-kunstenaar en sedert sy vroegste werk in die middel-tagtigerjare lewer hy sterk sosiopolitieke kommentaar, dikwels in werke op papier. Tegnies is hy ’n besonder vaardige kunstenaar. In die afgelope jare het hy ’n stewige reputasie gevestig as skilder, hoofsaaklik nou met olieverf.

Selwyn Pekeur met sy kleurvolle skilderye oor die Kaapse lewe – hy is ook ’n produk van CAP – het ook ’n sterk sosiopolitieke bewussyn, maar lewer eerder sosiale kommentaar. [Selwin Pekeur, Self Portrait with Madiba, 2003, olie op doek] Sy werk steun swaar op die tegnieke van die Ekspressionisme. Pekeur is sterk betrokke in gemeenskapsprojekte in die Paarl, waar hy woon en onderwys gee. Hy is ’n stigterslid van die E’Bezweni Art Group (EAG). Pekeur se werke het ’n sterk humoristiese element – humor ook as metafoor om die innerlike pyn van ’n apartheidsverlede te stil. Sy voedingsbron is die lewe in townships. [Selwyn Pekeur, An Evening Paradise, 1997, monoprint] Hier is soms ’n voyeuristiese aanslag as hy die kleurryke tonele van die alledaagse lewe skilder met die sterk beklemtoning van sy motto dat “black is beautiful”.

Pekeur het sy onderwysopleiding aan die Dower Opleidingskollege in Port Elizabeth ontvang. Voordat hy hom in 1990 in die Paarl gevestig het, het hy saam met Amos Langdown en Peter Clarke gewerk. Sy werk is opgeneem in openbare en korporatiewe versamelings.

 

Weerstand en verset

Diederick During (1917-1991) [Diederick During, Basotho Rider, geen datum, olie op bord | Diederick During, Women stomping grain, geen datum, olie op bord | Diederick During, Snoek Seller, circa 1950, gemengde media op karton | Diederick During, Dice Players, geen datum, gemengde media op karton | Diederick During, Cubist African Nude, geen datum, gemengde media op karton] het in sy werk ’n karnavalagtige verbeeldingswêreld geskep waarin karakters binne ’n geografies dubbelsinnige ruimte optree, soortgelyk aan die ruimtes waarin rolprente in die twintigerjare geskep is. Die patroon van ruimteverkenning is eie aan die Ekspressionisme. Later ontwikkel dit as ’n belangrike komponent in die verbeeldingslandskappe wat deur William Kentridge, Deborah Bell en Robert Hodgins ontwikkel word.

Richard Kilpert (gebore 1971) is ’n Oos-Kaapse kunstenaar wat aan Rhodes-Universiteit studeer het en eers in die begin negentigerjare aandag getrek het met sy temas wat uit die Oos-Kaapse milieu geput word. Hy is ’n veelsydige kunstenaar wat ook as fotograaf opgang gemaak het. [Richard Kilpert, Bride of the wind: Further back and faster, 1996, houtsnee op papier]

Twee eksponente van die drukgrafika onder die toonaangewende Ekspressioniste is Judith Mason (gebore 1938) en Elza Botha (gebore 1938) en hul werk het ruim uit die tradisie geput.

Judith Mason put haar onderwerpe uit ’n wye verwysingsveld. Dit is ’n teken van haar uitmuntendheid dat sy met sukses in verskeie tegnieke en media kan werk. Sy is ’n hoogs geartikuleerde persoon met ’n fyn aanvoeling vir woorde wat op sigself dikwels ’n impuls in haar werk is. Sy put inspirasie uit die digkuns en die letterkunde, maar hierdie literêre impuls is bloot ’n aanvangspunt van waar haar ryk kreatiewe verbeelding oorneem en sy eie individuele koers voltooi. [Judith Mason, Ship of Fools (Comment on Dante), geen datum, olie op doek | Judith Mason, Scream, 1989-1990, olie op bord] Sy beskik oor die vermoë om die regte beeld te vind wat by ’n spesifieke komposisie pas. Hierdie beelde of metafore waarmee sy werk besit “’n gebiedend onverklaarbare krag” wat nie alleenlik in die gebruik van die voorwerp self bestaan nie, maar ook op die manier waarop dit hanteer word om uit te lok en onderwerpe te verpersoonlik. Mason se beelde word gebruik as aanmanings en katalisators. Die simbole deur die transformerende krag van haar verbeelding word tot die uiterste grense gedryf, wat haar sterk in die Ekspressionistiese tradisie plaas.

Elza Botha, ook bekend as die kunshistorikus en skrywer Elza Miles, se proteswerk, wat uit die sestigerjare dateer, sluit ook aan by die woelinge binne die Afrikaanse literêre wêreld en veral rondom die beweging van Sestig. Haar werk spreek van sterk sosiale kommentaar. Botha, met ’n doktorsgraad in kunsgeskiedenis, werk steeds as grafiese kunstenaar en kunsnavorser. Sy het tussen 1987 en 1994 by FUBA klas gegee. [Elza Botha, Butterfly Box, circa 1971, skoolbank, linosnee en Perspex | Elza Botha, Gee ons Vandag ons Daaglikse Brood, 1982, linosnee | Elza Botha, Manifes, 1982, linosnee | Elza Botha, Politieke Gevangene, 1970, linosnee | Elza Botha, Protes, 1972, linosnee | Elza Botha, Saal C, 1970, linosnee | Elza Botha, Sonder Verhoor, 1970, linosnee] Sedert 1962 neem sy aan groeptentoonstellings deel en haar werk is wyd verteenwoordig in openbare, korporatiewe en private versamelings. Haar bydrae as grafiese kunstenaar staan egter in die skadu van haar kunspublikasies van die afgelope twaalf jaar. Onder haar publikasies tel Lifeline out of Africa, Ernest Mancoba: a resource book; Current of Africa: The Art of Selby Mvusi; The World of Jean Welz; Land and Lives; Nomfanekiso who paints at night – The Art of Gladys Mgudlandlu en Polly Street – The Story of an Art Centre. Haar boek oor Ernst Mancoba het in 1996 twee literêre bekronings ontvang – die Ou Mutual Literêre Toekenning en die Recht Malan-prys.

 

Leidende rol

Onder die voorste grafiese kunstenaars tel die bekroonde Diane Victor. Sy het by Wits studeer en die kunshistorikus Elizabeth Rankin suggereer dat Victor, wat onder Giuseppe Cattaneo studeer het, eintlik per ongeluk (“by default”) ’n etser geword het. Sy meen dat die etsnaald perfek pas by die lineêre kompulsiewe drif wat vandag ’n waarmerk van Victor se werk is. Hoewel die etsproses tydrowend is en aan verskeie fases onderwerp word voordat die eindproduk sigbaar is, bied die etskuns, veral aan Victor, die geleentheid tot eindelose intensiewe tekenwerk en obsessiewe neerlê van lae detail. Dit gee ’n verstommende intensiteit aan die finale produk. Die gebruik van akwatint, wat haar in staat stel om verskillende tonasies van kleurdigtheid te skep, bied haar ook die geleentheid om blokke swart verf neer te lê. Hiermee bereik sy ’n bepaalde tonale effek wat sy nie in tekenwerk sou kry nie. Hierdie metode verg meer tyd en presisie as tekenwerk, maar dit is juis in hierdie genre dat Victor haar onbetwiste meesterskap toon. [Diane Victor, Sleeping with the Dead, houtskool en pastel op papier]

Victor se kunsloopbaan het in die tagtigerjare begin. Haar betrokkenheid is geïnspireer deur The State of the Arts in South Africa-konferensie wat in 1979 aan die Universiteit van Kaapstad aangebied is. Hier is beklemtoon watter belangrike rol die kunstenaar het in die struggle tot ’n regverdige Suid-Afrikaanse politieke bestel. Die avant-garde rol van nie-objektiewe kuns wat eerder die klem plaas op figuratiewe werk het Victor uitstekend gepas.

Vroeg reeds, as student, het Victor die uitdaging aanvaar om groter etse te skep as die klein intieme werk wat tradisioneel met die etskuns geassosieer is. Sy het ’n metode vir haar geskep deur verskeie kleiner etsplate saam te voeg en fynafgewerkte veelvuldige komposisies oor ’n paar velle papier te skep. Hierdie grootskaalse komposisies het ’n byna monumentale aanslag sonder dat dit iets van die detailwerk prysgee wat hierdie genre verg.

Victor het ’n eie inkonografie geskep wat op historiese voorgangers soos Goya kan terugval, maar tog ’n sterk persoonlike visie het. Volgens die kunstenaar is haar vertrekpunt visuele waarnemings van individue wat duidelik in  haar geheue staan eerder as ’n voorafbepaalde narratiewe agenda. Sy erken ook ’n aansluiting by kunstenaars soos Egon Schiele, George Grosz, Max Beckman en Otto Dix, wat deur hul werk sosiaal-polities uitdagend gestaan het teen Nazisme en die vooroorlogse Duitsland. [Diane Victor, Disasters of Peace 1: Blind Justice, 2000, etswerk | Diane Victor, Disasters of Peace 2: Why Defy, 2000, etswerk | Diane Victor, Disasters of Peace 3: In Sheeps' Clothing, 2000, etswerk | Diane Victor, Disasters of Peace 4: Down on the Farm, 2000, etswerk | Diane Victor, Disasters of Peace 5: Kom Vrou en bring die kinders, 2000, etswerk | Diane Victor, Disasters of Peace 6: As easy as Pie, 2000, etswerk | Diane Victor, Disasters of Peace 7: Had You forgotten, 2000, etswerk | Diane Victor, Disasters of Peace 8: Blind Man’s Bluff 4 Boys in Blue, 2000, etswerk]

As tekenaar is Victor voortreflik. Haar groot houtskooltekeninge, waarmee sy onder andere die Volkskas Atelier-toekenning in 1988 ontvang het en wat haar ’n studie- en werksperiode by die Cité International des Artes in Parys gegee het, was van kritieke belang vir haar verdere ontwikkeling, veral as grafiese kunstenaar. In haar werk lewer sy meedoënlose kommentaar op die bourgeois vergrype ten einde ’n skynheiligheid oop te vlek. [Diane Victor, Consumer Violence, 1995, houtskool en pasta op papier-triptiek]

Kunstenaars in Suid-Afrika het in Ekspressionisme ’n ryk bron van inspirasie gevind. In die sosiaal-politieke omgewing het dit ’n dryfkrag verskaf om versetkuns te skep, maar die waarde is veel groter as dit.

  • In die laaste aflewering oor die reeks oor Ekspressionisme en Suid-Afrikaanse kuns word daar gekyk na die werk van Deborah Bell, William Kentridge en Robert Hodgins.

 

Bronnelys
Alexander, FL.: Art in South Africa since 1900 / Kuns in Suid-Afrika sedert 1900. AA Balkema, Kaapstad, 1962.
South African Graphic Art and its Techniques. Human & Rousseau, Kaapstad, 1974.
Artists (1850–1965). Catalogue, SANG, Cape Town, 1988.
Ballot, Muller: Inleiding tot katalogus, Hedendaagse Suid-Afrikaanse drukgrafika. Universititeit van Stellenbosch, 1998.
Berman, Esmé: Art and Artists of South Africa. AA Balkema, Cape Town, 1983.
Botha, Amanda: Impuls. Die Ekspressionistiese Drang in Suid-Afrikaanse Kuns. ’n Keur uit die Sanlam-Kunsversameling. Sanlam Katalogus, 2006.
Botha, Amanda: Tyrone Appollis se kuns. Narratiewe van ’n geleefde leweTyrone Appollis Today and Yesterday. Kunskatalogus, Sanlam, 2006.
Hammond-Tooke, D & Nettleton, A: African Art of Southern Africa: From Tradition to Township. Ad Donker, Johannesburg, 1989.
Hitge, Margaret: Judith Mason. Ons Kuns 3. Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie. Uitgewers van Lantern, Pretoria.
Hundt, Stefan: Impulse. The Expressionist Impulse in South African Art. A selection from the Sanlam Art Collection. Sanlam Catalogue, 2006.
Miles, Elza: Polly Street. The Story of an Art Centre. The Ampersand Foundation, Johannesburg, 2004.
Rankin, Elizabeth and Von Veh, Karen: Diane Victor. Taxa-013. David Krut Publishing, Johannesburg, 2008.
Sack, L, Spiro, L, and Bell, B: The Neglected Tradition: Towards A New History of South African Art (1930–1988). Catalogue Johannesburg Art Gallery, 1988.
Scholtz, J du P: Katrine Harries. Life and Work. Tafelberg Uitgewers, Kaapstad, 1978.

<< Terug na Sanlam|LitNet: Ons kunserfenis <<