Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Annie Klopper gesels met Lara Frances

Annie Klopper gesels met Lara Frances


Annie Klopper - 2008-04-01
Op ’n soel someroggend op Stellenbosch gesels ek met Lara Frances. Haar suksesverhaal herinner my om die een of ander rede aan ’n omgekeerde weergawe van Coyote Ugly se storielyn. Die verskil is: in plaas van die cliché van die small town girl wat die groot wrede stad aandurf om haar droom na te volg, is Lara ’n Jo'burg-girl wat eers op hierdie klein studentedorp besluit het om ’n sangloopbaan te begin: “Eintlik wou ek altyd sing; dit was ’n droom, maar ek het nooit gedink ek sal dit pursue nie – nie tot ek op Stellenbosch gekom het nie. Ek dink as jy hier kom en sien hoe baie mense dit doen, spoor dit jou aan om self jou passie en need om musiek te maak te verwesenlik. Stellenbosch is ’n music mecca.”

Anders as Coyote Ugly, het dit darem ook nie begin op ’n kroegtoonbank nie, maar eerder by die jaarlikse sêrkompetisie wat tussen koshuise op Stellenbosch gehou word. As student (sy het pas haar BA-graad in Menslike Hulpbronbestuur voltooi) het Lara in haar eerste jaar aan die kompetisie deelgeneem en daarna ’n leemte gevoel – sy het gewéét sy moet sing. “Ek het selfs vir ’n week in ’n heavy metal band gejam,” vertel sy en skerts: “... beggars can’t be choosers. Maar hulle wou hê ek moes ‘growl’, so toe los ek dit.”



Lara se aanhangers kan vandag bly wees sy het besluit om nie haar heuningsoet stem te verspil op ’n gegrom nie. Haar debuutalbum High on Life, wat verlede jaar die lig gesien het, se titelsnit het die nommer een posisie op Kfm se Homebrew Top 10 behaal. Die tweede single, “Scream”, kry ook nou speeltyd op Kfm. Buiten die gereelde speeltyd op radio, het Lara ook reeds ’n goeie dosis blootstelling op televisie gehad – van Noot vir Noot tot Dis hoe dit is, asook met die populêre musiekvideo vir “High on Life”, wat onlangs genomineer is vir ’n MK-musiektoekenning in die kategorie “beste roadtrip”.

“Die MK-platform help baie,” meen Lara. “Ek dink dis die beste ding wat met Suid-Afrikaanse musiek kon gebeur.” Sy gesels dan verder oor haar ervaring van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf: “Dit het baie gegroei oor die afgelope paar jaar, veral weens die opwek van die MK-generasie. Mense raak meer receptive en meer gewillig om bands ’n kans te gee, maar omdat daar so baie is, is dit moeilik om uit te staan. Dis ’n tricky industry, baie saturated. Maar aan die ander kant kan jy makliker ’n verskil sien tussen ’n swakker en beter band.”

Ek plaas die gesprek in trurat: Wanneer het sy besef sy kan sing?

Blykbaar was daar vóór die radio, MK, Stellenbosch en die sêr “Trippe trappe tone”. Lara vertel dit het alles begin by haar eerste deelname aan die jaarlikse eisteddfod in graad twee. Later het sy die klavier ook bemeester (sy is opgelei tot graad 7 in sang en graad 5 in klavier). ’n Paar jaar daarna het Alanis Morissette se Jagged Little Pill vir Lara permanent verslaaf gemaak aan die sing-ding. “Ek het met elke liedjie harmonies geoefen – ek was Alanis-mal,” vertel sy. Op die plaaslike toneel het Karin Zoid ook ’n invloed gehad. “Ek was by baie van haar shows. sy’t daai independence gehad toe sy op die scene kom. Daardie houding van 'I’m gonna do what I’m gonna do.'”



Nou is Lara self besig om die trippe trappe te klim op die plaaslike musiektoneel. Sy het onlangs teruggekeer van ’n wel-ontvangde toer in die Noorde (Johannesburg, Potch, Pretoria en Bloem) en het by hierdie jaar se KKNK op die MK-verhoog saam met haar band opgetree. Wanneer sy nie aan die sing, toer en opneem is nie, hou sy haar deesdae besig met ’n kursus in jazz op Stellenbosch, wat sy as ideaal beskou, aangesien sy aanvanklik in ’n musiekrigting wou studeer.

Buiten Stellenbosch en Johannesburg is daar ’n ander dorp wat duidelik ’n groot invloed op Lara gehad het. Kort nadat sy gematrikuleer het aan na ’n groot Engelse “preppy” hoërskool in Johannesburg het haar gesin die besige stadslewe verruil om hulle permanent in hul strandhuis op Glentana te gaan vestig. Die sorgelose someraande van hierdie kusdorp skemer duidelik deur in haar lirieke as sy in “Lola” sing van grootword en “ons vreugdevolle sorgvry lewe”. Ook in “Wyn” sing sy van die “goud gevlekte strande”.

Jy kan op 25 April (tussen goudgevlekte berge) gaan luister na Lara Frances en haar groep by die jaarlikse Cederbergfees op Clanwilliam.


Wat dink Annie van die CD?

Lara Frances se High on Life bied gemaklike luistermusiek. Die positiewe stemming en sorgeloosheid in baie van die lirieke maak daarvan die tipe album wat goeie atmosfeer sal skep op skemeraande met ’n koel glasie wyn. Die CD bevat beide Afrikaanse en Engelse liedjies en ek wil my verstout om te sê dat Lara liewers moet hou by die skryf en sing van Engelse lirieke (die soetheid van haar stem gly makliker oor die Engelse woorde as oor die Afrikaanses). Ek sien uit na die nuwe opnames waarmee Lara tans besig is – ek hoop om meer van die erns te hoor wat deurskemer by liedjies soos “Nomad” – asook ’n meer hardegat rock-klank: Wat is dan lekkerder as heuning op growwe toast?