Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Ramfest 2008: Rock ’n roll met horings

Ramfest 2008: Rock ’n roll met horings


Annie Klopper - 2008-03-27

Gedurende die laaste naweek van Februarie het die tweede Ramfest sy kop (met horings) uitgesteek by die Nekkies-vakansieoord naby Worcester. Ek self het spreekwoordelik my horings skerpgemaak om die moshpit aan te durf met my kamera. (Okay, ek lieg, ek sal nooit met my kamera ’n moshpit infoeter nie, ek maak altyd seker ek het ’n media pass vir die veilige hawe reg voor die stage – maar die moshpit-ding klink ten minste hardcore.)

Die Ramfest is ’n naweek lange rockfees met peper op. Swartpeper. Want buiten al die goeie rock acts en die trance party, is dit die hardebaard swaar metaal wat hierdie fees anders maak as byvoorbeeld die Aartappelfees, Rosyntjiefees en al die vleisfeeste. Terloops, hoekom moet elke dorp se produksie deesdae ingeseën word met ’n gefuif en ’n gesuip? Die enigste produksie wat gevier is tydens die Ramfest is ons land se vrugbare opbrengs van good old-fashioned rock ’n roll. Ek ontken egter nie die gefuif en gesuip nie, want wat is ’n fees sonder ’n biertent en die terloopse struikel oor ’n uitgepaaste feesganger wat nie betyds sy tent kon vind nie?

Die fees is op die Vrydagaand afgeskop met Fuzigish, aKING, Van Coke Kartel, Taxi Violence, White Buzz, Foto Na Dans en Hog Hoggidy Hog. Die hoogtepunt van die aand was sonder enige twyfel die nuutgebore aKING. Ondanks ’n paar tegniese probleme wat die begin van hulle show vertraag het, was hierdie groep se klassieke rockklanke onstuitbaar en ’n definitiewe gunsteling by die gehoor. Van Coke Kartel het teleurgestel vanweë die duidelike stremming op die voorsanger Francois van Coke se stem. Die UK-band White Buzz het ook nie aan verwagtings voldoen nie. Buiten die feit dat die band toe nie so Europees was nie (ek het minstens twee, dalk drie Suid-Afrikaners op die verhoog getel), het dit my geensins beïndruk nie, veral nie ná Taxi Violence, wat letterlik vir vuurwerke gesorg het nie. Gelukkig kon Foto en Hogs die gehoor tot laatnag laat malruk en uitsien na die volgende dag wat volgepak voorgelê het.

My enigste wesenlike teleurstelling van die naweek (wel, buiten White Buzz en natuurlik die ablusieblokke) is die feit dat ek grootliks die Saterdagmiddag se line-up misgeloop het vanweë ’n impromptu braai. Daar word egter vertel van hardcore bands met name soos Day Turns Night. Maar teen die tyd wat die dag begin muteer het tot nag (en dit wás ’n mutasie, want al wat ’n ding is kom toe weer vol henna-tattoos uit tente gekruip), was ek gereed om die nasionale Air Guitar-kampioenskap op die lens te probeer vasvang. Die wenner (ek het nie sy naam gevang nie, maar hy was die een wat nie te beskonke was om sy “kitaar” vas te hou nie) spog met ’n splinternuwe Fender en is op pad Finland toe vir die internasionale Air Guitar-kampioenskap.

Lark se swanesang was ’n emosionele affêre, maar die aardskuddende optredes van Battery 9 en KOBUS! het ’n aangename metaalsmaak in my mond gelaat en ek het besluit dis die hoogtepunt waarmee ek my aand tot ’n einde wil roep. Min het ek geweet ek sou my vasloop in die kleiner tentverhoog, waar ek aangenaam verras is deur Kidofdoom. Miskien is "aangenaam verras" ’n understatement: hierdie instrumentele groep het nie vocals nie, want enigiets so banaal sou hulle unieke, meesterlike klank bederf.

Ek was nie een van diegene wat voor ’n tent oopbek lê en gis het in die son nie. Ek het nie die swembad aangedurf nie (vrees vir smet), en ek is definitief nie die chick wat op ’n stretcher die Saterdagmiddag daar weg is nie. Maar ek het by tye my kamera weggesit om kruisbeen op die terras ver agter die gehoor te gaan sit en te aanskou hoe een van die grootste musiekfeeste in Suid-Afrika horings groei, sy hoewe skrop en brul.