Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Van die redakteur | Editorial > Op my duimnael
Van die redakteur: 12.03.08


Op my duimnael
Van die redakteur: 12.03.08


Etienne van Heerden - 2008-03-12

Ek beveel aan

Breyten Breytenbach se A Veil of Footsteps (memoir of a nomadic fictional character). Human & Rousseau.

Hoekom? Enigiets uit hierdie knorrige digter se pen is ’n ervaring. Breyten is wat die Nederlanders ’n natuurtalent noem. Binne die ekologie van ons letterkunde is sy stem ’n natuurkrag. Skaf dit aan!

’n Gedagte

’n Dag ná die polisie se klopjag op Stellenbosse studente staan ek laatnag op die stoep van ’n klein huisie aan die Weskus. Ek hoor die see druis en ek dink aan Breyten Breytenbach se onlangse woorde aan ’n Nederlandse en ’n Belgiese skrywer wat tydens die klopjag in die middel van die onverkwiklike kotiljons beland het. Sy woorde aan die twee Nederlandssprekende skrywers was dat Rome ook nie in ’n dag afgebreek kan word nie.
   
Hier waar ek aan die kus staan, is dit ver van Stellenbosch se drinkgate en kuierplekke. Die nanag is stil en swaar mis hang oor die fynbos, duine en see. Die huise is spookagtig in die straatlig en niemand roer nie. Die dorp slaap; dis net wind en mis en die klank van die branders. Elke sewe sekondes swiep die ligtoring se straal verby.
    
Daar is iets in die lug wat my aan ’n nag in Amsterdam herinner, staan ek en dink terwyl ek die nag intuur; en eers nadat die woord Amsterdam in my gedagtes opgekom het, besef ek: ja, ek het iets gehoor. ’n Geluid wat my aan Amsterdam herinner. Ja, dís wat ek gehoor het: die statiese kraakgeluid wat die oorhoofse drade maak wanneer vonke op ’n Amsterdamse trem se dak neer reën. Miskien is die Engelse woord crackling die beste beskrywing.

Ek het so ’n geluid gehoor, maar wat kon dit wees? Toe sien ek hom. Hy is een van die lede van die klein dorpswag in die stranddorpie. Snags, in swart uniforms, patrolleer die vyftal die strate omdat die naaste polisiekantoor ver weg in ’n naburige dorp geleë is.
    
Die buurtwag, afstammelinge van bruin vissersfamilies en Portugese seevaarders wat ’n eeu gelede hier vanuit ’n skeepswrak aan wal gespoel het, het pas ’n borgskap gekry. Hulle is toegerus met nuwe knuppels, borende flitsligte, kraakvars uniforms en blink fietse. Trots is ons klein gewapende mag wat die dorp moet beskerm teen die insypeling van Kaapse bendes wat toenemend hier met dwelms smokkel. Hul nuwe toerusting en hul brawe voorneme om insypeling van veral die dwelmbendes die hoof te bied, is ’n tema in die dorp se kroeë.
    
Die wag kom op sy nuwe fiets uit die mis aangejaag. Hy is ’n klein, maer mannetjie, en die uniform is te groot aan sy lyf. Maar hy maak nogtans ’n Ramboagtige indruk. Die swart stewels is blinkgevryf en in sy hand sien ek opeens iets wat vonke spuug. Dit maak dieselfde geluid as die oorhoofse drade van ’n Amsterdamse trem. Dís wat ek gehoor het! Maar hierdie stun gun spuug geváárlike vonke. Jy kan dit redelik maklik koop in Suid-Afrika, en dit vuur genoeg voltkrag uit om ’n volwasse man katswink te slaan.
     
Hy jaag verby, sy bene pomp die pedale. Daar is geen misdadiger in sig nie, dis net ek en die nag wat hom dophou. Maar knetterend vuur hy in alle rigtings. Hy ry vlak voor my verby, maar sien my nie, so diep is hy begaan oor sy nuwe speelgoed. Dis asof hy, nog voordat ’n misdadiger verskyn, reeds alle gevaar afweer. Omhul van vonkstrale jaag hy.
    
Dan, opeens, verdwyn hy in die mis en is hy weg, hierdie dapper klein soldaat van die verbrokkelende Rome.

LitNet-nuus

Ampie Coetzee, gerespekteerde akademikus en kenner van Breyten Breytenbach se oeuvre, trek op ons brieweruimte te velde teen Izak de Vries se onderhoud met Breyten Breytenbach oor laasgenoemde se A Veil of Footsteps. Die gawe Izak, ietwat uit die veld geslaan, reageer en verduidelik sy welwillendheid. Terselfdertyd skiet Herman Lategan met ’n stun gun na die Breytenbach-oeuvre, maar SêNetters is nie links nie of slaan met ’n ystervuis terug. Lees hier een van dié briewe. LitNet bly maar ’n gevaarlike ruimte, en die literêre gesprek is lank nie meer in die hande van die akademiese elite nie. Niemand se woord is wet nie, en Rome se fondamente voel dit.

Lees vorige aflewerings van Op my duimnael hier.