Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Van die redakteur | Editorial > Op my duimnael
Van die redakteur: 06.03.08


Op my duimnael
Van die redakteur: 06.03.08


Etienne van Heerden - 2008-03-06

Ek beveel aan

Prinsloo, Koos. 2008. Versamelde verhale. Human en Rousseau.

Hoekom? Eenmaal was hy ook jonk. Koos Prinsloo se oeuvre skrywe in teen machismo, patriargie en eenvoudige opvattings oor die werklikheid en die konstruksie van daardie werklikheid deur tekste – ja, ook videotekste. Sy verhale word in een uitputtende maar heerlike boek vasgevat. ’n Handleiding vir die geestesklimaat van die desperate jare tagtig van die vorige eeu.

’n Gedagte

Afrikaans is ’n nuwe woord ryker: walgvideo.

Wat het hier gebeur? Hoe moet ons hierdie video lees?
Ons kan natuurlik self kies hoe ons na die lewe wil kyk.
Jy kyk hom so vinnig en vlak, en jy’s doodtevrede. Ook met die rituele van Reitz.

Studentepret. Jong manne en hul hormone. Dis eeue al so. ’n Onskuldige ou video’tjie. Dis al. Boonop speel die swart skoonmakers heerlik mee. Waaroor dan al die bohaai?

Of jy stap ’n entjie verder en verdien jou spore as denkende mens. Deur te pieker oor die - kom ons gebruik maar ’n cliché - “diepere betekenis” van die speelfilm. Gee dit ons enige insig in die denkpatrone van die burgers van daardie klein koshuisrepubliek in die Vrystaat?

En waarom is mense so begaan oor hierdie insident? Dit terwyl moord en doodslag daagliks om ons plaasvind in hierdie republiek van agtertoe kyk waar jou lyf nooit regtig veilig voel nie?

Twee weke gelede (terwyl die Reitz-video nog soos ’n skerpioen onder ’n klip gewag het) sit ek een oggend voor die Bloemfonteinse Lughawegebou. ’n Vredige toneel. Die geboutjie is so klein dat die teenwoordigheid van ’n blou sportspan my uit die beperkte ruimte na buite dwing. Die lug ruik na testosteroon en ek is moeg nadat ek die vorige aand twee uur lank oor myself moes praat.

Dis ’n halfuur voor instaptyd. Voor die gebou is tekens van bouwerke – ook hier word op 2010 voorberei. Terwyl ons in plastiekstoele voor die gebou sit, haal die jong vrou wat die uitgewer gestuur het om my te begelei, ’n boek oor ’n Oos-Europese filosoof uit en lees daaruit voor.

Opeens, te midde van haar komplekse aanhalings, stap ’n bruingebrande wit man voor ons verby. Hy is kort en gespierd. ’n Soort kwaai energie. Terwyl sy praat oor dekonstruksie, roep hy in ’n grinterige Boere-Joe Cocker-stem in sy selfoon in: “Ek wil veertig buffels gelaai hê. Nóú.” Ek is die ene ore. Na al die boekpraatjies van die vorige aand, nou iets anders. Hy praat met die outoriteit van die veggeneraal uit die hinterland.

Op en af stap hy. Ek ruik sy sweet, sien grassies kleef aan die sokkies bo die stewels. “Het die kameelperde gister seergekry toe hulle gelaai is?” roep hy.

Die volgende oomblik hou ’n bakkie stil. Die ene machismo. Blink buffer. Dubbelkajuit. Drie manne klim uit. Safari big game hunting, lees die lapelwapens. Die lywe is gespierd en gehard. Gewere in sakke word van agter die bakkie se sitplekke uitgetrek. Die manne se bewegings is vinnig en seker. Hulle praat hard en selfversekerd. Bruingebrande bene, koper armbande en Rolexe.

Die konsert gaan voort, want die volgende oomblik kom ’n stroom passasiers uit die lughawegebou na buite. ’n Vliegtuig het klaarblyklik pas geland en hulle stap by ons verby, af by die trappe en verby die manne by die bakkie, wat nou luid en skouerblaaiklappend afskeid neem van die bestuurder.

Soos die regisseur dit wil hê, is die meeste van die passasiers wat uitstap, swart. Sotho’s, reken ek, en hulle’s klaarblyklik lede van die onlangs bemagtigde swart elite. Baie bling. Die vroue is opgetof soos kropduiwe. Die klere is van groot gebaar; die manne dra goue horlosies en goue kettings. Blink pakke. Sulke dasse sien jy net op TV. Onberispelik. Outoriteit straal uit die groep. In teenstelling met die wit grootwildjagters se gedrewe, vinnige bewegings, beweeg hierdie geselskap bestudeerd stadig. Statig. Hulle laat hulle nie haas nie. Rustig en onverstoord loop hulle met die trappe af; hulle waaier om die grootwildjagters verby terwyl die bakkie se bestuurder die pedaal trap en die enjin laat brul en die bruingebrande generaal die buffellaaiery aanvuur.

Wat is die gevaar van bostaande beskrywing? Wat skuil in die oog van die verteller? Gewoon dalk die indruk dat die teks voorgee dat alle wit mans inherent militaristies is. Hulle blaf bevele, is ingestel op logistiek en dra graag uniform, al is dit nou safarilapelle. Hulle hou van geweld, vandaar die gewere. En hulle jaag in macho bakkies rond – siedaar die lorrie op sy vierwielhurke.

En boonop konstrueer die teks dalkies alle swart mense as mense wat ’n gebrek aan doelgerigtheid het, wat inherent stadig en lui is en tydsaam hul weg vind terwyl die Westerse samelewing vinnig en doeltreffend sy gang om hulle gaan.

Ja, só word tekste – ook videotekste – dikwels gelees. Die teks doen veel meer as om net ’n ou storietjie te vertel. En hy speel sy verhaal uit binne ’n konteks.

En dis hoekom die Bloemfonteinse speelfilm vir my nogals lyk soos ’n voorprent vir iets wat hom al afgespeel het. ’n Soort lokfilm vir die verlede, wat ons al gemeen het verby is. Die Bloemfonteinse videoclip-as-konstruksie het simboliese betekenis wat ver verby die mure van die Republiek van Reitz uitsaai. Dit kaats diep die verlede in en gooi ’n skaduwee ver in die toekoms en betrek, by implikasie, alle Afrikaners en alle swart mense.

Mens sou verder kon gaan en vra: Wat verwerf die swart vroue deur hul samewerking aan die video in die Republiek van Reitz? Sonder om oor die begrip “mag” na te dink gaan jy nie ver kom met ’n antwoord nie. Dink maar net hoedat ’n eerstejaarstudent in ’n manskoshuis burgerskap en ’n gevoel van behoort kry deur hom te onderwerp aan die magsrituele van die doop. Deur te kniel voor die mag van die seniors verwerf hy burgerskap.

Net so is hierdie vroue gedoop en ingelyf by die mag van wit studente by wyse van ’n ritueel wat eie is aan die Republiek van Reitz.

Hierdie soort rituele is kenmerkend van sekere organisasies. Veral universiteite. Geen groot sakeonderneming gaan, soos ’n kampuskoshuis, van nuwe aanstellings verwag om deur ’n moddersloot te kruip ten einde “behoort” te verwerf nie.

Maar dis optrede wat magsrituele in koshuise aan baie van ons kampusse kenmerk. Terwyl almal daarvan weet, katvoet universiteitsowerhede dikwels daaromheen. En nou het die Reitzvideo doop in sy volle konsekwensie tot by CNN se nuuskantoor gebring. Die dopeling in die manskoshuis word met die intrapslag geleer om hom neer te lê by die heersende mag, die hand van die seniors. Hy sal kruip, spring en hoes om hul guns te wen.

Net so is die vier vroue geïnfantiliseer en deur allerlei magsrituele ingelyf in die Republiek van Reitz se magstrukture. Hulle moet knielend voor die kamera (wit kameraman en regisseur, minder as die helfte van hul ouderdom) hul kos eet. Hulle moet rugbypassies uitvoer, ’n interessante regisseursgreep. So word die wit Reitzers se mag gelukkig darem weer gevestig oor die nasionale spel rugby, wat so verrinneweer word deur swart administrateurs en die aandrang vir kwotaspelers van kleur. Dis ’n opstuur van swart rugby. En les bes, dis darem so komieklik om die volkies mak te maak met ’n doppie en hulle in Afrikaans te hoor vloek.

Ai, die swartgoed tog.

En net daar draai stereotipering om, só hewig dat ’n bekende Afrikaanse sanger op SêNet namens alle Afrikaners om verskoning vra, alhoewel hy dit later met ’n tweede brief kwalifiseer. Hy voel hom aanvanklik kennelik gestereotipeer deur die video, wat aan die CNN-kykers sê: Só is alle Afrikaners.

So werk tekste – die lughaweteks én die Reitzteks.

En die een wat laaste lag, is daardie omdraaispieël wat die sanger na sy muis laat gryp het. Skielik kyk die wêreld weer met geligte wenkbroue na daardie ruie spesie aan die suidpunt van Afrika, die Afrikaner.

Die lokfilm roep die verlede as toekoms op.

Maar onthou ook die ironie van die doopritueel: die eerstejaartjie laat hom die doopritueel welgeval slegs omdat hy weet dat dit hom, oor ’n jaar of drie, toegang gaan gee tot dieselfde mag wat die seniors oor hóm het.

Dan is dit sy beurt.

Oppas maar, seuns van die Republiek. Die wiel draai.

LitNet-nuus

LitNet Akademies, ons geakkrediteerde aanlynjoernaal vir die Geesteswetenskappe, se eerste artikels begin inkom. Ons wag net totdat ons ’n stewige handvol het voordat ons die eerste portuurbeoordeelde uitgawe aanlyn plaas.

Ons portuurbeoordelaars is vasbeslote om LitNet Akademies se standaarde hoog te hou en te vestig as ’n ruimte van uitnemendheid vir Afrikaanstalige navorsing. Ja-nee, dis geen walk in the park nie! Ons is dankbaar vir hul kundige advies oor ingestuurde artikels.

Ons vergoed bydraers natuurlik ruimskoots vir hul werk – laat dit ook as aansporing dien. Waar verdien jy bo en behalwe die amptelike subsidie wat jou instelling ontvang vir ’n artikel in ’n geakkrediteerde publikasie, nog boonop R8 000 daarvoor vir jou persoonlike navorsingsak?

As jy nog twyfel oor LitNet Akademies se huisstyl, lees hier.

Lees vorige aflewerings van Op my duimnael hier.