Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Eerste Suid-Afrikaner in geskiedenis om kompetisie te wen: Baanbreker Ben Schoeman slaan slag vir SA in Unisa Internasionale Klavierkompetisie

Eerste Suid-Afrikaner in geskiedenis om kompetisie te wen: Baanbreker Ben Schoeman slaan slag vir SA in Unisa Internasionale Klavierkompetisie


Ina van Rooyen - 2008-02-28
Ben Schoeman se naam was nie onder die eerste vier finaliste wat die sesde tot die derde pryse in die 11de Vodacom/Unisa Internasionale Klavierkompetisie gewen het nie. Spanning in die volgepakte ZK Matthews-ouditorium was tasbaar. Toe die naaswenner se naam, Alexey Yemtsov, genoem word, het die gejuig al losgebars, en die jong Ben Schoeman het sy gesig in sy hande verberg. Hy was die eerste Suid-Afrikaner in die geskiedenis van die Unisa Internasionale Klavierkompetisies om as wenner uit die stryd te tree.

Spencer Myer van Amerika, die vorige wenner van dié prestige-kompetisie in 2004, was in die gehoor en een van die eerstes op sy voete om die triomferende Ben toe te juig. Myer is op sy derde konsertreis in die land en gee Sondag 24 Februarie weer ‘n solo-uitvoering by Unisa in Pretoria.

Schoeman (24) van Pretoria, wat met ‘n beursgeld van R250 000 bekroon is, was maar die vierde Suid-Afrikaner wat sedert 1982 daarin kon slaag om na die finale ronde van die gesogte klavierkompetisies deur te dring. Die ander was wyle Marc Raubenheimer, Anton Nel, nou van die VSA, en Malcolm Nay van Johannesburg.
   
Die 11de Unisa Internasionale Klavierkompetisie, geborg deur Vodacom, en met ‘n totale prysgeld van R650 000, is van 24 Januarie tot 9 Februarie oor drie moordende uitdunrondes in die ZK Matthews-saal op Unisa se hoofkampus in Pretoria aangebied. Die finale ronde het die uitvoer van twee concerto’s per finalis oor twee aande behels, saam met die vergrote Kamerorkes van Suid-Afrika (COSA) met die Nederlandse dirigent, Arjan Tien op die podium. Die talentvolle musici het vir vier aande van concerto-musiek uit die boonste rakke gesorg. Die eerste twee aande was dit musiek van ‘n komponis uit die klassieke tydperk, en die tweede twee aande musiek uit die romantiese era.
  
Schoeman het naas die eerste prys van R200 000 ook die Samro-studiebeurs van R20 000, die Tucker-reisskenking van R20 000 (albei vir die belowendste Suid-Afrikaanse deelnemer) en die Samro-prys van R3 500 vir die beste uitvoering van die Suid-Afrikaanse komposisie Toccata for John Roos deur Surendran Reddy gewen.
 
Schoeman en die naaswenner, Alexey Yemtsov (26), het die Desmond Willson-gedenkprys van R14 000 vir die beste uitvoering van hul Mozart-concerto’s in die eerste deel van die eindronde gedeel. Schoeman het die Concerto nr 25 in C majeur, K503 uitgevoer, en Yemtsov dié komponis se Concerto nr 23 in A majeur, K488. Schoeman se keuse vir die romantiese tweede deel van die eindronde was Tsjaikowski se Concerto nr 1 in B-mol majeur, op 23, wat sowel met virtuositeit as met fyn, sensitiewe en musikale interpretasie gepaard gegaan het. Sy uitvoerings is deurgaans met luide toejuiging begroet, veral toe hy die pylvak binnegegaan het.
  
Alexey Yemtsov, duidelik ‘n jong Mozart-eksponent, is in die Oekraïne gebore, maar het Australiese burgerskap aanvaar. Sy prysgeld vir die tweede plek was R150 000. Hy het ook die Petronel Malan-prys van R7 000 vir die beste Mozart-sonate in die derde ronde gewen. (‘n Interessante brokkie is dat hy in 2006 die solis saam met die Sydney Symphony Orchestra was, met die beroemde pianis en dirigent Vladimir Ashkenazi op die podium, waartydens Yemtsov Rachmaninof se Concerto nr 1 uitgevoer het. Dit het tot ‘n CD-opnamekontrak met Ashkenazi gelei. Dis opmerklik dat hy vir sy romantiese tweede ronde Rachmaninof se Rapsodie op ‘n tema van Paganini, op 43 gekies het.)

Die jongste deelnemer, die talentvolle 17-jarige Chun Wang van China, het die derde plek met ‘n prysgeld van R120 000 ingeneem. Hy is boonop met die Marc Raubenheimer-prys van R14 000 (geborg deur Damaris Loubser en die Desmond Willson-gedenkfonds) vir die beste samestelling (program van eie keuse) en vertolking van ‘n solo-uitvoering bekroon.
   
Die vierde prys van R70 000 het aan die aantreklike Amerikaanse pianiste van Indiese afkoms, Pallavi Mahidhara (20), gegaan. Sy het ook die Christoe Grobbelaar-prys van R14 000 vir die beste uitvoering van ‘n concerto in die tweede deel van die finale ronde verower. Mahidhara het ‘n kragtige en musikale vertolking van Rachmaninof se Paganini-variasies gegee. Sy was ook die gehoor se gunsteling-pianis van die kompetisie en het daarvoor R7 000 uit die Desmond Willson-gedenkfonds gewen.
   
Martina Filjak (29) van Kroasië het die vyfde plek ingeneem met ‘n prysgeld van R60 000, en Szczepan Konczal (23) van Pole, ook reeds ‘n veelbekroonde pianis, het die sesde plek met ‘n prysgeld van R50 000 beklee.
   
Die finale beoordeling het oor elke uitvoering tydens die hele kompetisie gestrek. Musikaliteit, pianistiese virtuositeit, musikale uitdrukking, interpretasievermoë en begrip vir hoof stilistiese musiekperiodes is tydens die beoordeling in ag geneem. 
   
Die uitgelese jurie het drie Suid-Afrikaners ingesluit: Dianne Coutts (bekende begeleier en komponis van oa eksamenwerke), John Roos (artistieke direkteur van Unisa se Musiekstigting en die Unisa-Musiekkompetisies), en Japie Snyman (voorsitter sonder stemreg en uitvoerende direkteur: Unisa Internasionale Kompetisies). Internasionale lede was uit Brittanje, Frankryk, Italië, VSA, Georgië en China afkomstig.
   
Een van Suid-Afrika se min vrouekomponiste, Jeanne Zaidel-Rudolph,
hoogleraar by die Universiteit van die Witwatersrand, het een solo-opdragwerk gekomponeer – Partials and Pedals – wat deur die botoonsang van ‘n Xhosa-vrouegroep, die Ngqoko-vroue van Oos-Kaapland, geïnspireer is. Sy was onder meer verantwoordelik vir die  orkestrale besetting van die volkslied. Surendran Reddy het die tweede opdragwerk, Toccata for John Roos (“uit erkenning vir wat hy vir musiek in SA en die wêreld doen”) in sy kenmerkende clazz-styl gekomponeer – ‘n kombinasie van jazz, klassiek, Afrika- en wêreldmusiek. Reddy is in Durban gebore en werk as komponis en onderwyser in Konstanz, Duitsland. 
   
Wyle Hennie Joubert het Unisa se internasionale kompetisies in 1982 in die lewe geroep. Dit het sedertdien een van die wêreld se mees gesogte kompetisies ter wêreld geword – later onder aanvoering van Joubert se opvolger, John Roos. Roos was daarvoor verantwoordelik dat Nasionale Musiekkompetisies enkele jare gelede begin is, wat om die beurt geleenthede aan plaaslike pianiste, strykers en sangers bied om groot musiekpryse te wen en as nasionale kampioene uit te styg. Hulle kwalifiseer dan om die volgende jaar aan die internasionale kompetisies deel te neem. Roos tree ook gereeld as beoordelaar in buitelandse internasionale musiekkompetisies op.
   
Ben Schoeman het in 2003 as wenner in die Unisa-Vodacom Nasionale Klavierkompetisie uit die stryd getree, en in 2004 tydens die 10de Internasionale Klavierkompetisie verskeie spesiale pryse vir sy vroeëre rondes verower, hoewel hy toe nie die eindronde gehaal het nie.

Schoeman is nie verniet onder meer as die belowendste Suid-Afrikaanse pianis aangewys nie – soos trouens vanselfsprekend vanjaar weer.

Schoeman het reeds sowat ’n dekade gelede as talentvolle tiener onder die aandag gekom toe hy as ‘n veelsydige musikus (violis, pianis en orrelis) aan die jaarlikse uitvoering van die skole-simfonieorkes, Simfonia Juventi, deelgeneem het. Later het hy skoonskip van alle eerste pryse in die land se nasionale kompetisies gemaak, onder meer Unisa se DJ Roode en PJ Lemmer Oorsese Musiekstudiebeurse, asook die gesogte Samro Oorsese Musiekstudiebeurs. Tydens sy studentejare was hy onder meer konsertmeester van die UP-Simfonieorkes, en het ook in ander orkeste viool gespeel. Later het hy as klaviersolis saam met alle simfonie-orkeste in die land opgetree.
  
Die jong blouoog-pianis het in 2005 die graad BMus (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria (UP) onder leiding van die vooraanstaande klavieronderwyser, prof Joseph Stanford, behaal. Hy het hom met sy beursgeld na die gesogte klavierleerskool in Imola, Italië gewend, waar hy nou in sy derde jaar van ‘n studietyd van vier jaar onder Louis Lortie, Michel Dalberto en Boris Petrushansky studeer.
   
Sedertdien het hy talle pryse tydens internasionale kompetisies gewen, onder meer in Varna, Bulgarye. Tydens die Tbilisi Internasionale Klavierkompetisie in Georgië was hy ‘n semifinalis. Hy het ook solo-uitvoerings in Suid-Afrika, Bulgarye, die Tsjeggiese Republiek, Georgië, Frankryk, Italië, Nederland, Duitsland en Switserland gegee.

Ondertussen het die hardwerkende Schoeman hom ook as kamermusikus gevestig. In 2007 het hy aan twee vooraanstaande somerfeeste in Kanada (die Orford Arts Festival en die Ottowa Chamber Music Festival) deelgeneem, en uitvoerings by die Moritzburg-kamermusiekfees in Duitsland gegee. Dié optredes het aanleiding gegee tot ‘n hoëprofiel-kamermusiekkonsertreis wat hy einde Oktober en aanvang November vanjaar in Suid-Afrika sal gee. Hy vervang inderdaad sy een leermeester, Louis Lortie, as pianis in die Moritzburg-Feestrio saam met die tjellis Jan Vogel en violis Mira Wang. Lortie was nie beskikbaar nie, en sy student is in sy plek aanbeveel – ‘n groot pluimpie vir ons jong baanbreker wat net goed voorspel.