Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Van die redakteur | Editorial > Op my duimnael
Van die redakteur: 28.02.08


Op my duimnael
Van die redakteur: 28.02.08


Etienne van Heerden - 2008-02-28

Ek beveel aan

Klik hier vir die feesprogram

Die Stellenbosse Woordfees (3–9 Maart, dus net om die draai) – lees Naomi Bruwer se onderhoud met Dorothea van Zyl. En as jy in KwaZulu-Natal woon of wil afreis Durban toe, is die elfde Time of the Writer-fees ’n lekker bestemming. Van 25 tot 30 Maart, 18 skrywers uit tien lande.

’n Gedagte

Ek wou nog altyd ’n storie skrywe oor ’n wêreld waarin alle tekste slegs agter glas of binne plastiek bestaan. In my verhaal loop almal met glastablette rond en staar daarin terwyl hulle op lughawens wag of tuis in die hangmat lê. Vat dit eerder nie saam bad toe nie, waarsku die produketiket. So ’n tablet bevat sommer jou hele versameling tekste; tot ’n duisend romans kan jy daarin berg. Jou oggendnuus word uitgesaai na ’n dun plastiekvel waardeur volkleurbeelde en teks speel en jy kan met jou vingerpunt “omblaai” na die volgende berig of foto. As jy ’n nota wil maak, pons jy dit met jou duim in jou “handy” in. Boekrakke is onbekend in hierdie wêreld.

Dan gaan iemand eendag en kap ’n boom af (nogals ’n misdaad in die wêreld van my storie, want mense het intussen ontdek bome kan praat, hulle’t ’n geheue en huil wanneer die byl byt, maar ewenwel). Die boom lê daar en uit morbiede nuuskierigheid (want dis nie aldag dat jy ’n dooie boom sien rondlê nie) begin iemand die hout fynkap en kry dan ’n bevlieging. Die mens is mos maar ’n ontdekker, want waar kom die telefoon, koffie, die vergrootglas, die viool en penisillien vandaan? Onse ontdekker verpulp ’n stuk hout en pers dit plat en laat dit droog word. Hy pieker daarmee en neem oplaas ’n naelvyl en begin daarop krap. Hy eksperimenteer bietjie, maak die houtvelle dunner, bind hulle mettertyd saam, bedink iets waarmee mens daarop kan skrywe, en gee sy uitvindsel ’n naam: Boek.

Hy word natuurlik beroemd, want tot dusver moes almal in glasskerms staar, ’n koue stuk elektronika saamneem bed toe om The Great Gatsby te lees of soggens koffie drink met ’n grillerige stuk koue plastiek in die hande.

Maar hierdie nuwe uitvindsel! Mense is gaande daaroor. Hy ruik so lekker, en jy kan vreesloos in die bad lê daarmee! Jy kan hom sommer so ’n ent deur die lug gooi daar na die rusbank, waar hy vir jou wag. En ’n ry van hulle wat so ordelik regop staan, lyk mooi fraai in jou huiskamer!

Mettertyd, in die verhaal wat ek nog moet skrywe, word die boek een van die wêreld se mees beroemde uitvindsels, tewens, produkte. Almal grinnik oor die ou dae toe die mens soos ’n imbesiel na ’n glasskerm moes staar wanneer hy meegevoer wou word deur iets wat besonder goed geskrywe is.

En natuurlik: oor die woude wat moet sneuwel om hierdie nuwe produk oor die aardbol heen te versprei, woed ’n helse debat. As jy fyn luister, hoor jy bo die kettingsae die geweeklaag van miljoene bome, van die Amasone tot daar doer in Knysna.

LitNet-nuus

Die ses-woord-stories stroom in na SêNet, waar ons lekker wenboeke gaan uitdeel aan die beste bydraers. Elkeen van hierdie verhaaltjies-in-ses-woorde wil soos Van Wyk Louw se klein beiteltjie wees wat die aardbol laat oopkraak. Of die glasskerm voor jou in twee split.