Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Van die redakteur | Editorial > Op my duimnael
Van die redakteur: 21.02.08


Op my duimnael
Van die redakteur: 21.02.08


Etienne van Heerden - 2008-02-21

Ek beveel aan

Click and buy!

Drie Graaff-Reinetse vroue, Lynne Minnaar, Annatjie Reynolds en Albé Neethling, se Karoo Venison (Sunbird).

Hoekom? Waar kry jy soeter wildsvleis as in die Kamdebo? Die boek het die mooiste foto’s en heerlike resepte. Lae cholesterol. Foto’s van toet, byvoorbeeld van spoggerige jagekspedisies in polvye.

’n Gedagte

Hoe verskil ’n gedrukte koerant van ’n virtuele gemeenskap soos LitNet?

Toe ek LitNet meer as nege jaar gelede begin het, het ek gedag dat ek ’n webtydskrif op die been bring – ’n e-tydskrif. Dit sou die mooi geskiedenis van die jare tagtig se little magazines en literêre papierjoernale soos Standpunte verder neem op die platform van nuwe tegnologie.

Ek het dus gedag dat LitNet ’n aanlyn-boeketydskrif sou wees.

Dit het aanvanklik so gebeur, maar toe SêNet op ’n dag afskop, het LitNet se aanskyn dadelik begin verander. Gou het dié meningsruimte die hart van LitNet geword. Die warm asem van opinie het begin blaas oor die Afrikaanse www en ek moes mooi gaan nadink oor die rol van die redakteur van ’n meningsruimte op die web. Hoe verskil dit van die rol van die redakteur van ’n papierpublikasie?

Ek moes my dit afvra, want LitNet was besig om van e-tydskrif uit te groei tot virtuele gemeenskap.

Howard Rheingold - wat bekend is vir sy gedagtes oor rekenaars en gemeenskappe - omskryf virtuele gemeenskappe as “social aggregations that emerge from the Net when enough people carry on (…) public discussions long enough, with sufficient human feeling, to form webs of personal relationships in cyberspace".

As mens wonder oor die aard van LitNet, en LitNet wil vergelyk met ’n koerant, moet mens eers mooi na hierdie omskrywing kyk.

’n Belangrike aspek van Rheingold se definisie is die emosionele betrokkenheid van die lede van die virtuele gemeenskap en hul oortuiging dat hulle nie vir hul laai skrywe nie, maar vir ’n breër publiek, en veral vir mekaar. Die gemeenskap moet stry en baklei en weer en weer terugkom om mekaar te laat les opsê, te ondersteun en in te lig.

Dis mos LitNet!

Ek het bygevolg gemeen dat ek as redakteur meer moes laat begaan as wat ’n konvensionele publikasie se redakteur sou. Laat soveel moontlik opinies oor Gods akker stroom. Sny net dié wat jy voel: dit kan absoluut nie.

Ek gee my gedagtes hieroor, want met die reëlmaat van die seisoene vra mense my: "Kan jy nie asseblief sorg dat SêNetters ophou uitflap nie?"

My teenvraag is dan: "Maar is die vrymoedigheid om te klets nie juis die kern van ’n virtuele gemeenskap nie? Moet ek nou as patriargale burgemeester my gemeenskap se monde snoer?"

Punt een: SêNet is nie LitNet nie. Om net in SêNet uit te hang en LitNet daarvan te beskuldig dat LitNet niks meer as ’n kroeggeveg is nie, is verkeerd. Gaan kyk gerus weer na ons weeklikse nuusbriewe vir LitNet se weeklikse aanbod.

Na my gevoel is daar naas die uitstekende briewe wat dikwels op die Sê verskyn, en naas daardie vele minder fantastiese briewe, ook baie ander stewige bydraes op LitNet.

SêNet is daar vir wie ook al tydelik of ewiglik kwaad is, of sommer net lus is om ’n slag van die heup af te skiet. Dis natuurlik ook daar vir almal wat so dikwels teenoor my bieg dat hulle SêNet-lesers (maar nie SêNet-skrywers nie) is. Dis ernstige mense, hoor, wat mens sou reken eerder in ons SeminaarKamer sou rondhang! Maar nee, hulle vergaap hulle aan die Sê.

LitNet is immers ’n gemeenskap, en elke gemeenskap het sy helder straatligte, sy neonflikkers, sy voorste burgers, sy onderdorp, sy bevliegings en sy skinderbekke.

Ek weet nie op watter straat van LitNet jy uithang nie, maar geniet dit!

LitNet-nuus

LitNet se argief is altyd gewild. Dis ons gemeenskap se biblioteek. Selfs OuLitNet kry nog baie verkeer. As jy van wildsvleis hou, lees sommer weer in die argief "The Eland Trail", die Karoo-bydrae van LitNet se kosspoorsnyer Paul Murray. Dan sien jy hoe bok geslag word op Nooitgedacht!