Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Van die redakteur | Editorial > Op my duimnael
Van die redakteur: 14.02.08


Op my duimnael
Van die redakteur: 14.02.08


Etienne van Heerden - 2008-02-14

Ek beveel aan

Click and buy!

My Life, deur Fidel Castro, in gesprek met Ignacio Ramonet (die twee het vir ’n honderd uur gesels).

Waarom? Die knorrige oubaas dink vir meer as sewe honderd bladsye hardop oor Che Guevara, The Bay of Pigs, die ineenstorting van die Russiese beer, Jimmy Carter en baie ander dinge - en les bes, ook oor sy Kubaanse soldate se ervaringe in Angola. Jy weet mos van wie dit kom. Of jy nou hou van sy dress sense of idees of nie, hier’s die ander kant in hierdie dae dat daar steeds in Suid-Afrika nukkerigheid is oor wie dáárdie veldslag in Angola verloor het al dan nie.

’n Gedagte

’n Bloedeed vir skrywers

Ons, die skrywers van hierdie land, skrywers van romans, blogs, gedigte en sms’e
Ons, die skrywers van nuusberigte, kortverhale, draaiboeke en e-posse
Van reklameklingels en tydskrifartikels
Ons hef ons penne en ons muise en ons selfone in ons regterhande op
En verklaar tesame en afsonderlik plegtig onder eed:

Dat ons glo dat die pen magtiger is as die swaard
Dat ons die vaderland van eie taal sal verdedig teen aanslae
Dat ons die vlag van skeptisisme elke môre sal hys

Ons beskou ons biblioteke as tempels en ons blogs as vurige verklarings van onafhanklikheid
Ons beskou ons webruimtes as eie besit en ons sms’e as tonge van vuur
Ons sal ons woorde versigtig meet
En sonder aansiens des persoons skryf wat ons moet

Ons ag vryheid van mening hoër as die beleidsprogramme van politici
Ons glo in die krag van die individuele gees
En ons sweer trou aan die sagte dinamiet van versigtige denke

Ons pleit nederigheid teenoor die opgestapelde boeke van die groot geeste wat ons voorafgegaan het
Maar ons sal ons geslag se byle vreesloos slyp
Ons sal ons tjank nie laat aftrap nie
Ons sal ons nie in boeie laat slaan nie
Nie deur die verlede nie, en nie deur die toekoms nie
Ons sal kritiseer, maar met wysheid en met motivering
En ons sal aankla, maar met vernuf en ’n ratse pen

Ons glo in die krag van storie
En die vaart van verhaal
In die terugkeer, keer op keer, van die wonder van sê
Maar ons glo stilbly is ook ’n woord
Ons ag die wit vel papier hoër as die papier vol gekrabbel met minderwaardige woorde
Ons sal hardnekkig strewe na oorspronklikheid, vindingrykheid en die vonk van idees

Ons, die skeppers van gedagtes, sal mekaar se geskrifte versigtig lees
En ons kritiek met verantwoordelikheid aanbied
Want ons saai ons saad voor baie oë

Ons sal verder kyk as die voorhekkie en die straat voor ons huis
Ons sal ons verdiep in die geskrifte van ons vyande
Ons sal probeer leer en ons sal probeer verbeter
En in die poging soos kinders word en besef:
Geen woord is heeltemal nuut nie
En wie kan kopiereg op ’n pragtige skoenlapper, die spat van water in ’n waterval of die pronk van die springbok vestig?

Ons, die skrywers van hierdie land
Hef ons penne en ons muise en ons selfone in ons regterhande op
En verklaar tesame en afsonderlik plegtig:
Sonder ’n woord in die mond is ek gebore, maar met ’n woord in die mond sal ek sterwe

Amen

LitNet-nuus

Een van LitNet se mees suksesvolle subruimtes is Ondersteuningsgroepe en juis daar bieg ’n oudsoldaat oor wat hy sy “emosies en verwaarlosing” ná die Bosoorlog noem. Lees ook The World: My dad's broken life en Verslawing: Brief aan my pa, `n depressiewe alkoholis. Ondersteuningsgroepe sal ’n boekpakkie stuur aan die beste brief oor hierdie onderwerp. Stuur jou eie verhaal oor jou bosoorlogervaringe of jou advies aan Oudsoldaat en wen ’n boekpakkie wat die volgende boeke insluit: Mark Gevisser se Thabo Mbeki: The Dream Deferred (Jonathan Ball), Jonny Steinberg se Notes from a Fractured Country (Jonathan Ball), Andrew Feinstein se After the Party (Jonathan Ball) en Mandela: A Life (’n pragtige fotoboek, uitgegee deur Sunbird Publishers). Dis sommer ’n groot prys, so stuur daardie stukke góú aan [email protected]! Sluitingsdatum: 1 Maart.