Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Van Coke Kartel: Verskaffers van ’n energy trip

Van Coke Kartel: Verskaffers van ’n energy trip


Annie Klopper - 2008-02-07

Nadat Fokofpolisiekar die Suid-Afrikaanse rock scene uit sy sokkies geskud het, is dit glad nie verbasend dat daar nou ’n paar after-shocks uit hierdie legendariese groep se geledere kom nie. November verlede jaar het Mercury Live in Kaapstad behoorlik gevibreer met die begin van Van Coke Kartel se launch-toer. Die dinamiese rock-trio bestaan uit onderskeidelik voorsanger en baskitaarspeler van Fokof, Francois van Coke en Wynand Myburg, met session drummer Justin Kruger wat die tromme slaan. Kruger, van Neshamah-faam, was ook die substituut-tromspeler vir die Karre toe Jaco “Snakehead” Venter (tromspeler vir Fokofpolisiekar) sy arm tydens ’n ongeluk in 2006 gebreek het.

Die Kartel is in die producer Theo Crous (van Springbok Nude Girls en KOBUS!) se Bellville Studios in die lewe geroep en hulle eerste optrede was ook ter launch van ’n selfgetitelde debuut-album. Dit is dus ’n vreemde ondervinding vir die gehoor wat, nog onbekend met die lirieke, vir die eerste keer in ’n lang tyd nie met Francois van Coke kan saamsing nie. Maar om die woorde te leer gaan nie moeilik wees nie – en daarmee kom my enigste negatiewe kritiek in verband met die album: alhoewel die lirieke goed “gel” met die musiek, bly die temas van die liedjies (wat meestal handel oor partytjies, dronk word, die lewe in Kaapstad en verhoudings met vriende) slegs ’n deurskemering, sonder om te ontwikkel tot samehangende of konkrete liriese boodskappe. Tog behoort dit aanhangers nie te veel te pla nie, aangesien die lirieke oop is vir interpretasie en die energie in Van Coke se stem vir enige moontlike verwarrende liriek kompenseer.

Musikale sofistikasie en fyn produksie sorg dat Van Coke Kartel ’n energy trip verskaf wat enige rock ’n roll liefhebber tevrede sal stel. Die medewerking van Hunter Kennedy (kitaarspeler van Fokofpolisiekar) tot die snit “Buitenkant II” en George van der Spuy (voorsanger van Taxi Violence) se stem op “September fools” sorg vir diversiteit op die album. Crous het self ook addisionele agtergrondsang, kitaar en orrel tot sekere liedjies bygedra.

Besoek www.myspace.com/vancokekartel of www.vancokekartel.co.za vir meer inligting.