Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Maggie Laubser se bevrydende blik – die impuls van die Duitse Ekspressionisme in haar werk

Maggie Laubser se bevrydende blik – die impuls van die Duitse Ekspressionisme in haar werk


Amanda Botha - 2008-01-21

Die pastorale, as bousteen

Die werk waarmee Maggie Laubser (1886–1973) in die Sanlam Kunsversameling verteenwoordig word, toon haar by uitstek as ’n leidende eksponent van die Duitse Ekspressionisme. Haar werk kan beskryf word as ’n bevrydende siening wat haar as wegwyser op eie bodem vestig. Haar humanitêre insig plaas haar buite die postkoloniale diskoers van die eiening van figure as objekte. Vir haar word die objek medemens met wie sy empatie en meelewing toon.

Laubser se bevrydende blik lê ook daarin dat sy kardinale vormingsinvloede in voor-oorlogse Europa en haar kontak met die Duitse Ekspressionisme kon transendeer om in eie werk geen merkbare invloed te dra nie, maar bevrydend binne die Ekspressionisme die simbole van haar gelukkige jeugjare in die pastorale Swartland haar eie te maak. Haar intense meelewing in intieme verhoudinge het haar toegelaat om haar eie ikonografie te ontwikkel.

In 1924 het Laubser na meer as 'n dekade in Europa permanent na die Wes-Kaap teruggekeer. Haar tuiskoms het 'n dramatiese sprong verteenwoordig om Suid-Afrikaanse kuns binne die hoofstroom van Westerse estetiese strominge te plaas. Hoewel haar werk, soos dié van haar tydgenoot Irma Stern, aanvanklik nie hier waardeer is nie, het sy ondanks die gevoel van verwerping getrou gebly aan haar lewensvisie dat kuns “die belangrikste bousteen van ’n betekenisvolle lewe is”.

Juis hierdie visie – en geloof in wat sy as kunstenaar beleef het - het haar ’n simbool gemaak van 'n eie inheemse kunskultuur.

Laubser was van kindertyd af betrek by die rustige atmosfeer van die plaaslewe. Sy het op ’n graanplaas naby Klipheuwel in die distrik Malmesbury grootgeword. Sy het haar in die uitgestrektheid van die Swartlandse landskap verdiep. Die plaasarbeiders en hul kinders was van vroeg ten nouste betrek by haar persoonlike wêreld.

Vroeg reeds was by haar die bewussyn aanwesig hoe om haar indrukke van skoonheid in visuele beelde te vertaal. Daar was altyd ’n strewe na die openbaarmaking van haar diepere innerlike belewing op doek. Vir haar was dit om die vreugde van ontdekking van haar wêreld visueel voor te stel sodat ander dit saam met haar kan beleef. Sy was bewus daarvan dat dit nie ’n realistiese representasie kon wees nie, maar juis dat dit gestroop moet word van die kunsmatige na ’n eenvoudige skoonheid – in uiting selfs primitief-kinderlik, maar tog met integriteit.

Tussen 1903 en 1912 het Laubser min blootstelling aan kuns gehad. Sy het enkele kunslesse geneem en veral in pastel gewerk. Geleidelik het sy in Kaapstad haar eie vriendekring binne kunstenaarsgeledere opgebou, en haar kontak met Ruth Prowse het veral aan haar strewe om haar as kunstenaar uit te leef, gestalte gegee. [Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Cave Rock – The Bluff, Durban, ongedateer (1913), olie op bord, 230 x 304 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Seascape – Wave, ongedateer (circa 1914), olie op karton, 230 x 300 mm]

Europese verbreding

In 1912 ontmoet Laubser Jan Hendrik Arnold Balwé, 'n skeepsmagnaat en Nederlandse oudkonsul, in Durban. Die volgende jaar nooi hy haar na Nederland, waar sy die prominente ekspressionis Anton Mauvé en digters en skrywers uit die invloedryke Tachtiger-beweging ontmoet. In 1914, met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, gaan Laubser na Londen, waar sy aan die bekende The Slade-kunsskool studeer. Hier het sy veral in die tekenkuns studeer. [Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Scottish Landscape with Lake and Mountains, ongedateer (1916–1919), olie op seildoek, 285 x 370 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Landscape with Trees and Hills, ongedateer (1919–1920), olie op bord 220 x 310 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Landscape with Poplars, ongedateer (1916–1918), olie op seildoek, 290 x 365 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Heath in Scotland, ongedateer (1916–1919), olie op seildoek op bord, 290 x 400 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Dell with pink Shrubs, olie op seildoek, 290 x 360 mm]

Terug in Europa het sy deur haar vriendskap met Balwé se seun Arnold, self 'n skilder, kontak gehad met die Antwerpense Akademie, waar haar belangstelling in Vincent van Gogh gestimuleer is.

Die keerpunt in die ontwikkeling van Laubser as kunstenaar was die periode 1919 tot 1924, wat weer onderverdeel kan word in vier periodes: 'n Italiaanse fase onderverdeel in twee periodes wat insluit 'n vakansieverblyf in Torri-del-Benaco. [Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Blossoms, ongedateer (1920–1921), olie op karton, 360 x 420 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Lake with Boats, Italy, 1921, olie op karton, 280 x 340 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Lake with Setting Sun, ongedateer (1921), olie op karton, 290 x 355 mm] en daarna 'n byna jaar lange verblyf in San Vigilio naby die Garda Meer; 'n Suid-Afrikaanse fase met twee kort besoeke aan haar familieplaas; 'n kort verblyf in België; en 'n daaropvolgende belangrike Duitse fase. Stilisties sluit hierdie fases by mekaar aan.[Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Nude Sitting Cross Legged, 1928 (1922–1924), olie op karton, 300 x 310 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Seated Female Nude, 1924, olie op karton, 415 x 480 mm]

Die belangrikste van hierdie periode is Laubser se kontak met die Duitse Ekspressionisme. Haar eerste ontmoeting was in Münich op pad na die Garda Meer, waar sy die skilders soos Wassily Kandinsky, Franz Marc, August Macke en Paul Klee, stigters van die invloedryke Der Blaue Reiter-beweging ontmoet het. In hierdie kennismaking het die turbulente angs van die oorlogsjare lynreg gestaan teenoor die meditatiewe pastorale eenvoud van haar Swartlandse jeugjare. Die kennismaking was vir haar 'n proses van bevryding: dit het haar gedwing om haar te distansieer van haar Londense Slade-ervaring en bevry van haar onderdrukte Victoriaanse en Calvinistiese opvoeding. Sy het besef dat sy haar koers móés verander en dit het haar later laat sê dat hierdie ervaring vir haar op ’n pad van bevrydende denke geplaas het. Sy het toe draer geword van 'n bepaalde estetika wat haar 'n baanbreker in die Suid-Afrikaanse kuns gemaak het.

Haar verblyf in Torri-del-Benaco het sy as die gelukkigste tyd van haar lewe beskryf. Vanuit haar kamer het sy 'n ongehinderde uitsig gehad op die baai, waar sy die aankoms en vertrek van seilbote kon dophou. Dit het later vir haar simbole geword van vervlietende geluk. Dit was 'n besonder produktiewe periode en daar is honderde sketse, gedetailleerde studies en styleksperimente in skilderye wat uit hierdie periode dateer.

Na die dood van Balwé in 1921 keer Laubser kortliks na die plaas Oortmanspos by Klipheuwel terug om deur introspeksie en afsondering die verlies van haar vriend en weldoener te verwerk. Sy voel 'n sterk affiniteit aan met die natuur, die plaasarbeiders en die diere op die werf. Deur hierdie persepsies word sy volledig ingetrek in die sentrale filosofie van die Der Blaue Reiter-beweging wat hulle vertroue bevestig het in die onderliggende eenheid van mens en natuur.

Nog 'n herhalende tema is dié van die herder en sy skape – 'n pseudoreligieuse konsep van die beskermende vader. Ook die eend/gans en haar kleintjies word - in teenstelling met die herder - 'n primitiewe verwysing na beskermende moederliefde. Haar graanoes-tonele onderlê ook 'n religieuse herkenning van handelende rituele voor ’n Ongesiende Teenwoordigheid.

Kuns as daad van blootlegging

Laubser keer in 1922 terug na Berlyn, waar sy Irma Stern ontmoet. Haar Berlynse verblyf van twee jaar word gekenmerk deur belangrike portretstudies. [Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Portrait of a Woman, 1922, olie op karton, 290 x 270 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Portrait of a Woman with a Hat – Berlin, 1924, olie op papier op bord, 490 x 370 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Portrait of a Japanese Woman, ongedateer (1924), olie op papier op bord, 500 x 375 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Portrait of a Man Berlin, ongedateer (circa 1923), olie op bord, 595 x 475 mm] Portretstudies van verskeie vroue word die stille getuies van Laubser se empatie en identifikasie met die pyn en lyding van die na-oorlogse periode. Hierdie werk ontbloot die broosheid en vrees wat agter die masker van ’n afsydige voorkoms skuil. In hierdie werk word die karakter en houding van die vroue verenig. So gee Laubser stilisties uitdrukking aan die ekspressionistiese ideaal dat kuns 'n daad van blootlegging is.

Hierdie periode aktiveer opnuut Laubser se bewussyn. Haar kontak met die lede van Die Brücke in Dresden, veral Emil Nolde, Karl Schmidt-Rottluff en Max Pechstein, voorlopers van die Duitse Ekspressionisme, laat haar op haar eie manier na haar eie wêreld kyk. Die Ekspressionistiese filosofie vind gestalte in haar werk sonder teken van direkte invloede.

Terug uit Berlyn in 1924 het Laubser weer haar toevlug tot die plaas geneem. Haar kuns kon hier geen waardering vind nie, maar ondanks bittere jare van eensaamheid het sy volgehou in haar strewe om eerlik aan haar uitdrukking te bly. Haar palet het die kleure van die Ekspressionisme gedra – die koel bruin en skaduryke groen as kontrapunte van hul sterk, primêre kleure. [Magdalena Maria (Maggie) Laubser, A Sketch at Langebaan, ongedateer (1923), olie op karton, 283 x 350 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Landscape with Yellow Bushes in ploughed Field, ongedateer (1924–1932), olie op karton, 250 x 80 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Onrus Lagoon, ongedateer (1927–1932) olie op karton, 320 x 380 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Seascape, ongedateer (1927–1932), olie op karton, 290 x 345 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Lagoon near Hermanus, ongedateer (1927–1932), olie op karton, 288 x 265 mm]

Laubser het Afrika en sy mense as haar daaglikse norm aanvaar. Uit keuse het sy die Kaapse bruin mense geskilder, nie as eksotiese figure nie, maar as medemense in wie sy haar eie eenvoudige behoeftes van aanklank herken het. In hierdie opsig het sy by Van Gogh aangesluit. Albei was sterk aangetrokke tot die uitbeelding van menslikheid van die gewone werker binne hul pastorale omgewing. Laubser het selde net landskappe geskilder. Haar landskappe het die eksterne wêreld verbeeld van die mense wat sy daarin geplaas het. [Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Woman working at a Table, sj (1924–1932), olie op karton, 410 x 350 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Harvest Time – Rest, 1922, olie op karton, 320 x 350 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Hoeing, 1924, olie op seildoek, 505 x 605 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Red Fisherman’s Cottage, ongedateer (1932–1950), olie op bord, 460 x 500 mm]

Laubser se pastorale studies van die plaaswerf en sy mense het aan hulle ’n waardigheid verleen. Die handewerk op die plaas is deur haar uitbeelding verhoog tot ’n adellike daad. Dit was vir haar ’n blywende inspirasie – die eenheid van die geheel en die interafhanklikheid van mens en dier, natuur en elemente, wat die plaaslewe haar kon voorhou.

In ’n artikel in Die Huisgenoot van 18 Augustus 1939 het Laubser haar so uitgedruk:

Om u ’n begrip te gee van hoe ek ’n skildery begin: Ek het geleer om nie van die voorwerpe te skilder nie, nie ’n model te hê nie, nie ’n vaste tegniek te hê nie. As ek van ’n model af skilder, bederf dit byna altyd die skildery. Ek kan alleen ’n model gebruik as die skildery reeds klaar is; die model suggereer dan iets nuuts aan my. Om ’n voorbeeld te noem: Ek sien ’n gans tussen varkblomme. Die eerste wat my opval, is die kleurbeeld, dan die vorm – baie eenvoudig, maar baie beslis; daarna die harmonie van figure en lyne. Ek bekyk dit noukeurig, totdat ek die gans goed ken en totdat ek die varkblomme goed ken. Dan het ek my indruk en is ek vry om te skilder. Ek moet vry wees om te skilder; ek voel my gebonde as ek gedurig die toneel moet aanskou – dan verloor ek my eie siening daarvan. Die skildery moet in die kunstenaar se binneste kom met bewustheid van kleure, figure en lyne. Ons noem dit geheue, maar dit is meer as geheue; dit is die beeld wat lewe in die eie bewussyn, verskillend vir elke mens, lewendig soos ’n voël, maar onbekend. Geen mens kan volgens vasgestelde reëls skilder nie; dis ’n genot vir die hart, ’n persoonlike ontwaking.

[Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Landscape with Geese, Rover and Mountains, ongedateer (1932–1950) olie op bord, 460 x 560 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Landscape with River and three Geese, 1924, olie op karton, 290 x 270 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Cat and Japonicas, 1936, olie op bord, 560 x 610 mm | Magdalena Maria (Maggie) Laubser, Ducks, 1930, olie op bord, 590 x 480 mm] Vanaf haar terugkeer uit Europa in 1924 tot met haar dood in 1973 het sy getrou gebly aan die strewe van die Ekspressionisme. Sy het dit in haar latere jare so verwoord: "Om te kyk is ’n kritiese aktiwiteit van die verstand. Dit bestaan uit seleksie en wegdoen ten einde die essensie te distilleer.”

Ondanks haar breë blootstelling aan hoofstroom-kunsrigtings kon Maggie Laubser in haar lewe met eerlikheid verklaar: "Alles wat ek geweet het, het die plaas my geleer." Haar bevryding lê daarin dat sy Afrika en sy mense as 'n daaglikse norm gebruik het. Haar blik is medemenslik – met deernis en begrip gee sy gestalte aan die waardigheid van mense en bied sy erkenning aan die adel van eerlike arbeid. Haar werk is ook 'n viering van die natuur en 'n erkenning van die mens as 'n mistiese eenheid met sy wêreld.

Dromerige en poëtiese aanslag
Twee kunstenaars wat sterk aan die invloed van Laubser gedra het, was Johannes Meintjies (1923–1980) [Johannes Petrus Meintjies, Ongetitel, 1954, olie op bord, 500 x 600 mm | Johannes Petrus Meintjies, Self Portrait Smoking, 1954, olie op bord, 330 x 310 mm | Johannes Petrus Meintjies, Still Life with nocturnal Landscape, 1972, olie op bord, 610 x 610 mm] en die Langa-kunstenaar Gladys Mgudlandlu (1925–1979). Hoewel nie een van die twee direk in aanraking met die hoofstroom van Duitse Ekspressionisme was nie, is hulle sterk ten opsigte van vorm, kleur en uitdrukking deur die beweging beïnvloed. Albei het beïnvloeding van veral Laubser erken.

As seun van ’n skaapboer het Meintjies sy vroeë vormingsjare op die plaas Grootzeekoegat in die distrik Molteno deurgebring. Na sy vader se dood, toe hy vyf jaar oud was, verhuis die gesin na Riversdal. Hier ontmoet hy vir Jan Volschenk, wat hom aan die tekenkuns voorstel. Wat finaal aan sy kunstenaarsloopbaan beslag gegee het, was sy kontak met Laubser se solotentoonstelling in Kaapstad in 1940. Na ’n bewonderaarsbrief aan haar word hulle hegte vriende en as 21-jarige publiseer hy ’n monografie oor Laubser. Sy eerste solotentoonstelling in 1944 in Johannesburg is as uittartend en uitdagend beskryf, maar gunstig ontvang. In die volgende dekade het hy gereeld tentoonstellings in Kaapstad en Johannesburg aangebied.

Meintjies het as jong kunstenaar ’n skouspelagtige opkoms gehad wat die gerekende kunshistorikus Esmé Berman as “ongewoon” bestempel het, en hy as fenomeen is vergelyk met hedendaagse plaaslike popsterre en die media-aandag wat hul ontvang. Sy benadering was blatant nonkonformisties. Tog het hy ’n sekere aanklank by die publiek gevind. In Kaapstad het hy onder Florence Zerffi studeer wat hom na streng vorm dissipline gelei het. Hy het iets van Irma Stern se sin vir kleurgebruik en ten opsigte van komposisie dra sy werk die invloed van Laubser.

Hoewel verskillende invloede – ook dié van May Hillhouse, Cecil Higgs en Alexis Preller – in sy werk te bespeur is, is dit onderwerp aan ’n persoonlike, hoogs romantiese visie. Sy helder kleure, onortodokse vorme, en ’n dromerige en poëtiese aanslag het sterk aanklank by sy bewonderaars gevind.

Meintjies se skilderye het ’n melankolie wat by ’n adolessente verlange aansluit. Sy vroeë werk sluit straattonele in, maar dit is veral sy portrette van jong mans, wat ’n spieëlbeeld vorm van homself, wat die aandag getrek het. Hierdie portrette word gekenmerk deur mans met swaar ooglede wat nie direk na die kyker staan nie, maar wat ’n gevoel gee dat die figure teruggetrek is in ’n private droomwêreld. Slanke, sensitiewe hande is dikwels deel van die studies.

In hierdie introspektiewe wêreld van Meintjies het hy later toevoegings van persoonlike simbole gemaak in die vorm van romantiese voëls en blomme. Baie van hierdie metafore bly obskuur en privaat. Daar is ook trekke na die surrealisme, en sy studies van ruiters in die nag op wit perde dra Freudiaanse beelde en ’n flirtasie met die fantasie van die dood.

Hoewel Meintjies se werk in die invloed van die Ekspressionisme staan, het hy dit nooit heeltemal sy eie gemaak nie. Hy het nooit heeltemal ontsnap uit die oppervlakkige simbolisme van sy jeugstyl nie.

’n Samevloeiing van gees


Gladys "Nomfanekiso" Mgudlandlu (1917–1979) word ook as ’n belangrike eksponent van die Ekspressionisme in Suid-Afrikaanse gereken. Anders as die ander voorlopers van die beweging hier, was Mgudlandlu nooit blootgestel aan die kunsvorm nie en het sy nooit Suid-Afrika verlaat nie. Sy het geen formele kunsopleiding gehad nie en is hoofsaaklik selfgeskoold. Gedurende die dag was sy ’n onderwyseres in die Kaapse township Nyanga en snags het sy by ’n flikkerende lamp haar kuns bedryf. Haar verkenning het haar gebring by die filosofie van Ekspressionisme wat diep gewortel was in die hoofsaaklik ongekarteerde weë van inheemse kultuur. [Gladys Mgudlandlu, Birds, 1962, gouache op papier, 470 x 640 mm | Gladys Mgudlandlu, Fungi, 1962, gouache op papier, 470 x 640 mm]

Sy het die tydlose narratiewe en gewoontes van haar mense – die Fingo’s en Xhosas – in skilderye, tekeninge en etse vasgelê. Die inheemse karakter en die essensie van Afrika wat in haar kuns neerslag gevind het, is gevoed deur die legendes en folklore, sowel as die mistiese karakter van Afrika rituele en gebruike.

Mgudlandlu het ’n baie treffende styl gehad. Dit is gekenmerk deur noukeurige, gedetailleerde werk wat ’n tekstuele rykheid byna soos borduurwerk of tapisserieë skep. Die landskappe is van die verbeelding en beeld idilliese landelike tonele uit. Daar is dikwels groot mistiese voëlvorme op haar doeke en in latere jare het sy ook stadstonele geskilder wat, gestroop in eenvoud, juis tref met breë kwasstroke. Hoewel haar werk nêrens juis aansluit by die Kaapse Ekspressioniste soos Stern, Laubser, Domsaitis of Kibel nie, sluit dit in gees aan by die werk van Thomas Mukarobgwa (1924–1999) van Zimbabwe.

Hoewel Laubser en Mgudlandlu mekaar nooit ontmoet het nie, het Mgudlandlu graag getuig van haar bewondering vir die werk van Laubser. Sy het Laubser se tentoonstellings bygewoon en haar komposisies van nader bestudeer. By die eenvoudige vorme van Laubser het sy sterk aanklank gevind en in kleurgebruik by sommige van haar landskappe sterk aangesluit. Enkele onderwerpe het ook by Mgudlandlu geresoneer, soos Laubser se uitbeelding van eende.

Haar lewe as kunstenaar en mens was gekenmerk deur tragedies en rampe. Sy was innerlik sterk en het, ondanks terugslae, in haar eie kunstenaarskap geglo. Haar kuns het ’n onuitwisbare indruk gelaat as navolger van die Ekspressionisme en in die vroeë resensies van haar tentoonstellings in Kaapstad en Johannesburg is verwys na invloede van Henri Rousseau, Marc Chagall, Wassily Kandinsky en veral dié van Laubser en Domsaitis.

Die kritikus Neville Dubow het sterk ooreenkomste gesien in die werk van Mgudlandlu en Laubser en selfs verwys na “’n samevloeiing van gees”. Hulle werk was vir hom volkkuns en hy het dit bewonder dat die dinge van die grond hul onderskeie visies gevorm het. Hierin het hy ’n vorm van spiritualiteit erken.

  • Steeds binne die Duitse Ekspressionistiese tradisie word in die volgende aflewering gekyk na die werk van Harry Trevor en Gerard Sekoto.

Bronnelys
Alexander, FL. Art in South Africa since 1900 / Kuns in Suid-Afrika sedert 1900. AA Balkema, Kaapstad, 1962.
Berman, Esmé. Art & Artists of South Africa. AA Balkema, Kaapstad, 1983.
Botha, Amanda. "Laubser bly getrou aan visie." Die Burger, 11 Januarie 2005.
Botha, Amanda. "Impuls. Die Ekspressionistiese Drang in Suid-Afrikaanse Kuns. ’n Keur uit die Sanlam-Kunsversameling." Sanlam-katalogus, 2006.
Hundt, Stefan. "Impulse. The Expressionist Impulse in South African Art. A selection from the Sanlam Art Collection." Sanlam Catalogue, 2006.
Katalogus. Maggie Laubser. Oorsigtentoonstelling, Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum, 1969.
Laubser, Maggie. "Waarom en hoe ek skilder." Die Huisgenoot, 18 Augustus 1939.
Malherbe, FEJ. "Maggie Laubser. Ons Kuns 1." Stigting vir Wetenskap, Kuns en Tegnologie. Uitgewers van Lantern, Pretoria.
Meintjies, Johannes. Maggie Laubser. HAUM, Kaapstad, 1944.
Meintjies, Johannes. Lyrical Works. Anreith Press, Kaapstad, 1948.
Miles, Elza: Nomfanekiso who paints at night. The art of Gladys Mgudlandlu. Fernwood Press, Kaapstad, 2002.
Moeller, Magdalena M. Der Blaue Reiter und seine Kunstler. Brücke-Museum, Berlin, 1998.
Tobien, Felicitas. Die Künstlergruppe Brücke. Artbook International. Berghaus Verlag, 1987.
Van Rooyen, Johan. Maggie Laubser. C Struik-uitegwers, Kaapstad, 1974.

Erkenning
Radio-onderhoud: Jan Schutte met Maggie Laubser, SAUK, 1968.

<< Terug na Sanlam|LitNet: Ons kunserfenis <<