Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel: Kersfees

Egon se nuusbrief uit Israel: Kersfees


Egon - 2007-12-18
Ek het vandag my eerste Kersgroete deur die pos ontvang en dit was nogal ʼn skok.

Dis Desember. Dis ʼn matige winter met af en toe ʼn donderstorm en weerlig wat ons laat hol om die rekenaar af te sit en dan lê ons in die bed en drink sjerrie en vergeet van alles wat nie goed en vreedsaam is nie.

Maar aan Kersfees dink ons glad nie. Om die waarheid te sê hierdie nuusbrief aan LitNet het my nou gedwing om daaraan te dink. Ek onthou my eerste Kersfees hier het my dogter by ons gekuier en ons twee is Haifa toe om ʼn diens in ʼn Arabiese kerk by te woon. Om "Stille Nag" in Arabies te sing is nogal iets om te hoor! Judy het niks gesê nie, net gaan werk, en ek kon haar afsydigheid glad nie verstaan nie.

“Maar dis Kersfees, skattebol,” het ek haar aangemaan, “ons moet tog iets doen.”

En sy het mooi vir my geglimlag en gesê: “As jy ʼn paar jare langer hier woon, sal jy daaraan gewoond raak dat ons Kersfees werk. Dis net nog ʼn dag.”

Ek en dogtertjie het ons koppe meerderwaardig geskud, met ons tonge getje-tje en die trein Haifa toe gehaal.

Dis nou my sesde Kersfees hier en toe iemand my die ander dag vra of ons dit gaan vier, moes ek eers vra: “Wat?” en toe “Wanneer?” Nie soos in watter datum nie, dit vergeet mens nie so gou nie, maar op watter dag van die week dit val. Hierdie jaar is Kersfees op ʼn Dinsdag en die antwoord is heel eenvoudig: ek sal in Tel Aviv wees, want dit is die dag wat ek klas draf by Bar Ilan Universiteit, waar ek nou verder studeer en my baie geniet! Eintlik beleef ek tans elke Dinsdag as ʼn viering – al is dit van boeke en woorde en skrywe.

Om iets te doen soos Bethlehem besoek, sou ons nie oorweeg nie – al was dit ʼn dag wat ons beter sou pas – want daar gaan dit broekskeur. Die meeste Christen-Arabiere wat kon, het gevlug voor die "liefde" van hul Moslem-broers en die dorp is gewoon nie ʼn lekker of veilige plek om te besoek nie. Ek het dit net een maal gedoen en dit was saam met my hele gesin in 1994. Ons moes eers deur ʼn sekuriteitslopie gaan, toe is ons suid in gepantserde busse, en daar gekom het ons rondgestaan en wag dat die kore sing. Alles om te eet en te drink was dubbel so duur soos gewoonlik en ook nie so lekker nie. Van die konsep van Messias was daar min sprake: vrede op aarde en welbehae onder mense was daar geen teken van nie. Toe ek eers hier by Judy ingetrek het, het sy my gou laat verstaan dat Bethlehem en Hebron, waar Abraham en Sara se graf is, nie die moeite werd is nie, en met al die ander plekke waarvoor ons so lief is, het ek gou daarvan vergeet.

Maar het die student se vraag, my niggie se Kersgroete en hierdie LitNet-brief my tog daaraan laat dink? En miskien wonder julle wat beteken Kersfees vir my hier in die “Heilige Land”. Miskien net dit: dat dit, soos alle vakansiedae, my herinner aan hoe ver ek van my kinders sit, en in hierdie situasie is ek natuurlik nie alleen nie. Daar is baie ander ma’s sonder hulle kinders hierdie Kersfees en of die wete dit makliker maak, kan ek nie sê nie. Waaroor ek wel dankbaar is, is dat in soverre dit moontlik is, sal my kinders veilig en gelukkig wees: my oudste by sy meisie en haar gesin, my ander twee in Koeweit by hulle pa. Dis mos goed so.

Wat nie goed is nie, is dat ek nou gesit en kyk het op die nuus hoe ons soldate Gaza inry om die terroriste te gaan soek wat daaglikse die stede, dorpe en gehuggies van die suidelike deel van die land bestook met Katyushas. Daar sal baie ma’s wees wat nie weet of hulle seuns veilig is of terugkom nie, en een van hierdie jong mans is per toeval een van my studente. Ons het verlede week gesels oor wat vir hom voorlê.

“Natuurlik wil ek veilig terugkom,” het Oded vir my gesê, “maar dis nie my grootste kommer nie.”

“Wat is?”

“Die sestig mans vir wie ek as offisier verantwoordelikheid dra om hulle veilig uit Gaza terug te bring. Elkeen het ʼn ma, ʼn pa, broers en susters; baie van hulle is getroud met vrouens en selfs klein kindertjies. Dis waaraan ek nou vir die volgende weke sal moet dink. Dis ʼn swaar verantwoordelikheid!”

So as julle vanjaar daar om die Kerstafel vergader en in die kerk sit, dink aan Oded en die soldate wat hierdie land moet verdedig; aan die Christen-Arabiere wat dikwels in moeilike situasies aanbid, en dink aan die gesinne – die vroue en kinders, moeders en vaders – van die terroriste, dat ook hulle sal soek na vrede, en onthou dan die woorde van Ps 122:

Bid om die vrede van Jerusalem;
Mag hulle wat jou lief het,
Rustig lewe!