Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Skakerings van lig

Skakerings van lig


Melt Myburgh - 2007-11-15
Dale Yudelman se foto’s en kortfilms word tot 29 November uitgestal in SMAC (Stellenbosch Modern and Contemporary Art Gallery). Melt Myburgh het gaan rondsnuffel in die Eikestad se nuutste en kordaatste ruimte waar kunswerke tot hul reg kom.


Dale Yudelman by een van sy werke wat tans by SMAC te sien is

As jy vanuit Birdstraat deur die historiese Steeg stap, word jy van die regterkant af getormenteer deur die geur van varkribbetjies wat met tange op die Spur se braairoosters vlam nadat dit met haastige kwashale bedruip is. Aan jou linkerkant word die stoïsynse teenwoordigheid van die Standard Bankgebou onderskryf deur 'n eentonige gespin van 'n industriële lugversorgingstelsel. Kort voor lank bevind jy jou in die middel van 'n Boere-piazza waar mans in oorpakke ywerig messel aan kontemporêre gewels en fonteine. Die ou De Wet Sentrum is langsaam besig om 'n gedaanteverwisseling te ondergaan.

Om by SMAC in te kom, druk jy op 'n buzzer waaroor Laetitia von Waesberghe se stem jou met 'n kraakvrye groet verwelkom. Met die intrap besef jy reeds: hier is 'n plek waar kuns asemhaal. Wanneer jy bo kom, dink jy onwillekeurig aan dié frase uit Antjie Krog se Kleur kom nooit alleen nie: “armsvol gepelde lig”.

Want die uitstalruimte is so ontwerp dat die besoeker se bewustheid van hoeke, lyne en grense uitgedoof word sodat die kunswerk sentraal staan. 'n Plafon ontbreek. Vanuit die balke knak ontwerperligte berekend, byna onopsigtelik. Wanneer jy die trappe bestyg wat lei na die White Room, weifel jou voet, want die kleur waarmee die vloer oplos in muur en uiteindelik vervloei tot dak, is sekuur uitgesoek om die besoeker van sy balans te onthef. Alles vloei ineen. Die buitelyne van die trappies disintegreer in die intensiteit van wit. Die besoeker moet hom op die greep van die swartgeverfde reling verlaat om sy gang te rig.



Die visie wat agter dié plek lê, kom 'n lang pad. Afrikaans-Italiaans. Dekades gelede het 'n Taljaner, die heer Emiliano Sandri, hom aan die suidpunt van Afrika bevind. En wie kan hom blameer as hy homself permanent tot balling verklaar het in ruil vir die hand van 'n opregte Boerenooi? Die kêrel had geld en 'n kop vir besigheid. Met die selfvertroue waarmee 'n Mediterreense jeug jou wange blas maak en 'n tong wat weldra verknoop in die verleidelike klanke van 'n bastertaal, begin reël dié kêrel uitstallings in die Kaap vir mense soos Irma Stern.

So beland ek dan met een van heer Sandri se twee seuns, Baylon, op 'n sofa in die galery. SMAC het in November 2006 sy deure geopen. Oorsigtelike uitstallings word numeries aangebied, maar afgewissel met een-man-uitstallings en retrospektiewe. Tans word Dale Yudelman se een-man-aanbieding geakkommodeer met Versameling 6.

Daar is wel “method in the madness”, sê Baylon. Sekere rigtings binne die Suid-Afrikaanse kunswêreld wat tot dusver onderbeklemtoon is, wil hulle akkommodeer. SMAC is veral geïnteresseerd in die werk van swart kunstenaars wat as deel van die sogenaamde Durban School opgang begin maak. Onder dié kunstenaars is daar veral 'n neiging om dmv figuratiewe skilderwerk kommentaar te lewer op sosiale kwessies. Soos die neiging in die hedendaagse letterkunde, word politiek op die agtergrond geskuif en word dit eerder die doek waarteen daar krities na die alledaagse werklikheid gekyk word.

“Die breë publiek is nie geïnteresseerd genoeg in kuns om strominge te registreer en kunstenaars te kategoriseer of te organiseer nie.” Op dié manier word die plaaslike kunsgeskiedenis hoofsaaklik geskryf deur akademici en (kommersiële) besluite wat kunsgalerye neem.

“In Suid-Afrika het ons eksponente van bewegings in kuns, maar kunskritiek is iets wat onder die publiek ontwikkel moet word.”

Daar is egter hoop. Jongmense begin weer kuns koop, dui Baylon aan. Vroeg-vroeg word kunswerke as belegging oorweeg deur jong kopers wat die mark met 'n ambisieuse geesdrif betree.

Intussen word 'n sekondêre kontemporêre kunsmark gevestig deur diegene wie se oë oor internasionale rigtings dwaal. Ontluikende markte gaan saam met politieke en sosiale verwikkelinge in die nuwe wêreld oop. Kuba en Suid-Amerika figureer sterk op die bestemmingslys van kuns-entrepreneurs.

Die verskil tussen SMAC en ander kunsgalerye in Stellenbosch is dat die aanslag by dié kontemporêre galery “casual” is. 'n Supermark is hulle egter allermins. “We don’t just multi-hang,” sê Baylon. Professionaliteit is die wagwoord.

Hulle volg 'n evolusionêre benadering. Hoewel die gevoel en benadering kontemporêr is, verken SMAC verskillende temas. SMAC is 'n basis vanwaar kunsbelange uitgebrei word – ook oorsee.

Stellenbosch is die ideale basis – “'n Galery kan enige plek op die been gebring word. Die beste nuwe galerye is uit die pad uit; mense wil kuns koop in 'n rustige omgewing sonder die frenetiese en snobistiese ingesteldheid van die middestad-galerye.

"Stellenbosch het ontwikkel tot 'n bestemmingspunt.”

SMAC-galery self is deesdae die bestemming van kontemporêre kunsliefhebbers wat die Eikestad aandoen. In die “gepelde lig” van dié uitstalruimte kan besoekers nie anders as om hulle oor te gee aan die kreatiewe waansin van vorm en kleur nie.