Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel – En toe trou ons!

Egon se nuusbrief uit Israel – En toe trou ons!


Egon - 2007-11-09
“Kan u my asseblief deursit na iemand wat weet van ‘same-sex’-huwelike?” vra ek onseker.

“Jammer, Dame, wat’s dit?” vra die vrou op die skakelbord.

“U weet, as ’n man met ’n man trou en ’n vrou met ’n vrou,” sê ek half verbouereerd.

“Oeee, Dame bedoel ‘n civil union!” antwoord sy verlig.

Ek is ook verlig. My jong vriendinne wat reeds die pad by "Home Affairs" geloop het, het vertel dat die Paarl-tak die hulpvaardigste is.

Ek vermoed dat die Afrikaanse benaming van Home Affairs Binnelandse Sake is, maar ek dink net die telefoonboek en John Kannemeyer weet dit. Die dames by die skakelbord en elke ander tak wat ek geskakel het, weet net van Home Affairs. Oom John moet maar laat weet wat die korrekte vertaling van civil union is, maar hierdie brief word in twee tale geskryf, want dis in twee tale beleef.

“Dame sal met mnr L Sampson moet praat – hy weet alles van civil unions! Ek sit u deur.”

Vir die volgende paar minute word ek vermaak deur verskeie wysies, soos op Noot vir noot, waar een wysie nooit lank genoeg gespeel word vir ’n gewone luisteraar soos ek om dit te herken nie.

Mnr Sampson beantwoord uiteindelik sy telefoon en ek hou dadelik van sy stem – professioneel dog vriendelik. Ek verduidelik my situasie en hy vertel my wat nodig is.

“Dame, julle moet net julle identiteitsdokumente, twee paspoortfoto’s en twee getuies saambring en u moet vroegtydig ’n afspraak maak.”

Die twee getuies klink soos iets wat ek in ’n boks kan toedraai en saamdra. “Julle is beide Suid Afrikaners?”

“Nee, my partner is ‘n Israeli.”

“Oeee, dame, dan moet sy asseblief ‘n bewys uit Israel bring dat sy ongetroud is,” sê hy.

“Ons het reeds so ‘n dokument,” verseker ek hom met trots.

“Nou goed dan. Wil Dame ‘n afspraak maak?”

“Asseblief,” sê ek. Ek voeg nie by dat ons reeds ’n datum vir die ander helfte van die seremonie bepaal het nie en voor ek nog vir ‘n spesifieke datum kan vra, sê hy: “Die eerste opening is middel-Augustus.” Ek kan hoor hoe hy deur sy boek blaai.

“Nee, mnr Sampson, dit kan nie! Ons is dan al terug in Israel. Het u niks in Julie nie?”

“Jammer, Dame, maar ons is vol bespreek. Skakel Worcester en sê vir hulle as daar ’n probleem is, het mnr Matabula, die streekshoof, gesê dat ek vir hulle kan ‘cover’. Ek sal so lank met hom praat daaroor.”

Hoe en hoekom moet hulle vir Worcester "cover"? wonder ek. Ek hou van die idee van in Worcester trou – dis waar ek as klein dogtertjie saam met my ouma en oupa gewoon het. Worcester met sy omringende berge en die Moerderkerk se hoë spitstoring het ’n spesiale plek in my hart.

Ek bel Worcester, maar hulle antwoord nie. Ek bel die hoofkantoor in Kaapstad, maar hulle is tot middel-November vol bespreek en stel Khayelitsha voor. Dié sou verseker nie my eerste keuse wees nie, maar ek moet erken dit sal ’n goeie storie maak. Ek skakel Khayelitsha en na ’n lang gewag antwoord ’n vrou. Ek wil weet of daar iemand is wat my kan help om ’n afspraak te maak vir ’n civil union.

“Nee, Dame, hier’s niemand nie. Hulle strike!”

“Kan u dalk in die boek kyk of daar enige opening in Julie is?” vra ek half desperaat.

“Nee, Dame, ek sê mos hulle strike. Ek is alleen hier en weet van niks,” sê sy terwyl sy kou. Ek sweer ek kan slaptjips en vis ruik. Ek hoor die radio in die agtergrond speel.

“Oeee en Bellville strike oek, so Dame hoef nie vir hulle te bel nie!”

Wel, dis nuttige inligting. “Baie dankie,” sê ek en sit die telefoon neer. Ek probeer weer vir Worcester, maar kry steeds geen antwoord nie. Ek bel Caledon; hulle sit my deur na ‘n baie vriendelike vrou wat verduidelik dat daar nog niemand in hulle kantoor aangestel is om ’n civil union waar te neem nie. “Hoofkantoor het ons tot Desember kans gegee, Dame sien, maar daar’s nog niemand wat dit wil doen nie.”

Ek begin die probleem wel sien.

Ek bel weer vir mnr Sampson en vertel hom my sage. Hy gee my mnr Span, die hoof van Worcester se kantoor, se direkte nommer en voeg by: “Sê vir hom ek het u direk na hom verwys.”

Ek skakel mnr Span se nommer. Teen die derde lui antwoord hy en ek sê vir hom dat ek wil trou en ’n datum in Julie soek.

“Ons is vol, maar ek dink daar was ’n kansellasie,” sê hy vriendelik.

Ek hoor hoe hy deur die boek blaai. Die bladsye moet swaar en dik wees.

“Ja, Dame, u is gelukkig – ek het net een opening: Vrydag 20 Julie om 12.”

“Prys die Here, mnr Span! Dit is presies die dag en tyd wat ek sou gekies het as u boek leeg was!”

“Is dit nou nie wonderlik nie, Dame!”

Hy klink net so bly soos wat ek is.

Die gaste is reeds vir die aand van 21 Julie genooi. ‘n Aparte "commitment"-diens, -seremonie – geen vertaling in my woordeboek vang die volle betekenis van die Engelse woord vas nie (jammer, oom John!) - is aan huis van vriende beplan. Die spyskaart is reeds uitgewerk.

Mnr Span vra ons besonderhede en sê dan met groot formaliteit: “Ons sien mekaar dan om 12-uur op Vrydag 20 Julie hier by die kantoor op Worcester.”

“Ja dankie, mnr Span,” sê ek baie gelukkig en opgewonde. Wat was mnr Sampson se probeem?

“O, en Dame, dit is ’n gewone huwelik, nie waar nie?” Hier kom dit.

“Nee, mnr Span, dis ’n civil union.”

“Oeee, Dame, ek doen nie dit nie – ek het gewetensbesware. U sal met mevrou R moet praat.”

“Mnr Sampson het gesê dat hy met mnr Matabula gereël het om vir u te cover as daar ‘n probleem is,” sê ek vinnig.

“Nou goed, sê dan vir Sampson hy moet maar Worcester toe kom. Die saak is reg so!”

Ons is toe op Vrydag 20 Julie in die kantore van Home Affairs op Worcester wetlik getroud. Dit was verseker ’n anderse troue, maar miskien reg so. Ons het in die ingang gesit en wag saam met mamas wat babatjies voed – babas wat geregistreer moet word. Ons het gesit en wag saam met mense wat vir die eerste maal in hul lewens vir identiteitsdokumente aansoek doen. Die plaas en sy maat was daar. Elke dan en wan het iemand uit ’n ander kantoor na ons kom loer en mnr Span het die dag verlof geneem. Mnr Sampson het alles gedoen om dit vir ons so sinvol en spesiaal moontlik te maak.

Ná die tyd, toe ons aan ete op ’n olyfplaas buite die dorp sit, sê Judy: “Het julle opgemerk watter mooi, goedversorgde hande hy gehad het? Hy was ’n regte ‘motek’!”

“En dit beteken wat?” vra my seun se meisie.

“’n Skattebol," verduidelik my skattebol met ’n glimlag.

“Ek stem saam,” sê my dogter. “Hy was stunning!”

Die volgende aand was net so perfek. Dit was anders, met mooi blomme en lekker kos, vriende en liefde, goeie wense en geskenke en, buiten my seun in Londen en Judy se familie, omring deur die mense vir wie ons die liefste is.

“Om te dink ek moes 53 word voor ek trou,” sê Judy daai aand verwonderd toe ons moeg maar gelukkig in ons bed in ’n pragtige B+B op ‘n olyfplaas buite Stellenbosch klim. “Ek dink dit was die moeite werd!”

Ek is so bly.