Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Om waarderend en uitdagend te versamel: Korporatiewe Suid-Afrikaanse kunsversamelings met spesiale verwysing na die Sanlam-versameling

Om waarderend en uitdagend te versamel: Korporatiewe Suid-Afrikaanse kunsversamelings met spesiale verwysing na die Sanlam-versameling


Amanda Botha - 2007-10-04

Klik om te vergroot

Wêreldwyd is daar ’n groeiende belangstelling in Suid-Afrikaanse kuns en in die uiteenlopende skeppingsprodukte wat gelewer word. Die belangstelling was altyd daar, maar het met die kulturele-isolasie-jare gekwyn. Sedert die negentigerjare geniet Suid-Afrikaanse kuns wye internasionale aandag. ’n Treffende voorbeeld is die eeufeestentoonstelling met ’n prestige-katalogus rondom die werk van Irma Stern wat deur die Bieleveld Kunsmuseum in Berlyn aangebied is. Suid-Afrikaanse kunstenaars neem gereeld aan internasionale groeptentoonstellings deel en word as genooide kunstenaars wêreldwyd by kunsprojekte betrek. Suid-Afrikaanse kuns trek ook beduidende aandag op internasionale veilingsmarkte, hoofsaaklik in Londen.

’n Nadeel is dat daar nie openbare kunsmuseums in Suid-Afrika is wat ’n oorsig van Suid-Afrikaanse kuns kan aanbied nie. Benewens politieke beperkinge, is gebrekkige begrotings om substansiële aankope te doen, daarvoor te blameer. In hierdie konteks voorsien enkele korporatiewe versamelings in hierdie behoefte.

Die fokus van hierdie reeks artikels is Suid-Afrikaanse kunswerke in die Sanlam-versameling, wat uit meer as 2 000 werke bestaan. Die werk is verteenwoordigend van Suid-Afrikaanse kuns vanaf die 19de eeu tot vandag. Oor die jare is veel gedoen om historiese gapings in die versameling aan te vul. Werke is ook aangekoop wat die ontwikkeling van bepaalde kunstenaars aandui. Jaarliks word die versameling eietydse kuns versterk.

Agtergrond van korporatiewe versamelings

Drie kunsversamelingskategorieë word in Suid-Afrika erken: werke in openbare versamelings soos verteenwoordig in amptelike museums en galerye; korporatiewe versamelings, waar werke deur maatskappye aangekoop word vir binnenshuisversiering of as belegging; en privaat versamelings, waar enkele individue groot verteenwoordigende versamelings opgebou het wat van kunshistoriese of beleggingsbelang is. Hoewel die verskillende kategorieë onafhanklik van mekaar funksioneer, is daar tog ook raakpunte. Feitlik al die werk wat vir die onderskeie versamelings aangekoop word, kom uit die Suid-Afrikaanse kunsmark, hetsy aankope van handelsgalerye of van afslaershuise. Van die werk word ook regstreeks van kunstenaars gekoop.

Werke in openbare versamelings word gewoonlik via keurkomitees aangekoop en is in wese onvervreembaar – dit kan dus nie net weer in die mark geplaas word nie. Werke in korporatiewe versamelings, is soos in privaat versamelings, nie gewaarborgde versamelings nie. Dit funksioneer in beginsel soos ’n privaat versameling en sou op ’n besluit van die direksie van die betrokke maatskappy gestaak kon word en in sy geheel terug in die mark geplaas kon word. Openbare versamelings waarborg, in beginsel, permanensie, terwyl die werke in korporatiewe versamelings se permanensie, al dan nie, op buitebesluite kan berus.

Wêreldwyd het korporatiewe versamelings bepaalde wesenskenmerke. Die versameling word volgens die riglyne van ’n privaat versameling bestuur. Die eerste aankope van werk word gewoonlik deur ’n individu geїnisieer. Gewoonlik is die motivering om werk aan te koop vir dekoratiewe doeleindes. Die fondse word op direksievlak beskikbaar gestel en aankope word gedoen op grond van individuele of kundige advies. Om kundigheid in te bou word ’n komitee van deskundiges aangestel en ’n begroting vir aankope bewillig. Hierdie riglyne is nie noodwendig permanent nie. Dit kan verander soos individue in ’n maatskappy verander en nuwe hoofbestuurders hulle keuses van prioriteite uitoefen. Korporatiewe samesmeltings en ontbondelings het ook op die voortbestaan van sulke versamelings ’n invloed.

In geval van druk op winslewering by maatskappye is die koste verbonde aan die bestuur van ’n kunsversameling ’n uitgawe wat niemand graag wil dra nie. Die verantwoordelikheid vir die voortbestaan lê dan by ’n individu, gewoonlik by die hoofbestuurder of voorsitter van die direksie.

Die Chase Manhattan Bank in New York se kunsversameling, wat deur sy voorsitter David Rockefeller aangevoor is, word vandag alom erken as “die moeder van korporatiewe versamelings”. In wese het die versameling al die bovermelde kenmerke gedra totdat daar weggebreek is van die konsep dat kuns bloot deel van die dekoratiewe landskap van die korporatiewe omgewing is en daar besluit is dat die versameling as ’n bate vir die maatskappy bestuur word en die dienste van onafhanklike deskundiges verkry is.

Die vertoon van kunswerke aan die Suid-Afrikaanse publiek het hoofsaaklik geskied deur die aanbod van werk in kunsmuseums. Die uitstallings het weens spesfieke aankoopbeleide en die ontoereikende begrotings nie meer ’n refleksie geword van aktiwiteite in die Suid-Afrikaanse kunsmark nie. Só het die werk van gevestigde kunstenaars (dikwels word na hulle as die “ou meesters” verwys) in die bewaringskluise beland, dikwels onder die persepsie dat die werk in die demokratiese Suid-Afrika polities inkorrek sou wees omdat dit “Eurosentries” of “kolonialisties” sou wees. Hierdie beoordeling het weinig te make met die kunshistoriese waarde van hierdie werke.

Wat as ’n korrektief op hierdie siening gelees kan word, is dat korporatiewe versamelings toenemend meer beskikbaar word vir die publiek óf deur kunsgalerye te skep waar die werk vertoon word of deur die aanbieding van rondreisende uitstallings. Hier word spesifiek verwys na die Sanlam-kunsversameling wat benewens sy eie tuiste in Bellville, ook ruim gebruik maak van ander lokale landswyd om die beste werk uit die uitgebreide versameling vir besigtiging aan die publiek aan te bied. Werke uit die versameling word ook vir bruikleen aan openbare galerye beskikbaar gestel. Daarbenewens word ook ’n program gevolg om twee-jaarliks oorsigtentoonstellings van Suid-Afrikaanse kunstenaars aan te bied waarvoor daar andersins min geleenthede in Suid-Afrika is.

Kontemporêre handelsgalerye het ook na 1994 ’n bykomende funksie oorgeneem om werk van hedendaagse kunstenaars onder die aandag van die publiek te bring. Hierdie galerye, wat kommersieel bedryf word, bied jaarliks tussen vier en twaalf sulke tentoonstellings in verskeie media aan. Dit is ’n belangrike impetus in die stimulering van die Suid-Afrikaanse kunsmark en die visuele opvoeding van die kunspubliek.

Daar is landswyd ’n beduidende aantal korporatiewe versamelings wat Suid-Afrikaanse kuns ondersteun. Sommige van die versamelings is relatief jonk en fokus op kontemporêre kuns, ’n nismark van belang, maar wat nie ’n oorsig oor die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse kuns kan aanbied nie. Ander fokus op die werk van bepaalde kunstenaars, terwyl die Sanlam-kunsversameling poog om ’n oorsig van die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse kuns vanaf die 19de eeu tot vandag aan te bied.

Die Rupert-versameling, wat ’n eie tuiste in die Rupert Kunsmuseum op Stellenbosch het, is die oudste en bekendste korporatiewe/privaat versameling in die land. Binne die strukture van Rupert Internasionaal en die Rembrandt Stigting is daar verskeie internasionale versamelings wat kunswerke byeengebring het. In 1986, toe ’n aantal Suid-Afrikaanse maatskappye vir ’n dekade of meer begin het met die aankoop van kunswerke, was daar reeds 5 300 werke in die Rembrandt-versameling. In hierdie stadium was daar 19 internasionale versamelings. Dr Anton Rupert is as “die vader van kunsbeskermhere” in Suid-Afrika erken.

Heelwat van die maatskappye wat sedert die sewentigerjare met kunsversamelings begin het, het sedertdien mutasies ondergaan en het óf van hul kunsversamelings ontslae geraak, óf dit is in samesmeltings opgeneem in ander korporatiewe versamelings of deur ontbondelings versprei.

Op 2 Junie 1986 het Business Day die laaste oorsig gepubliseer oor die stand van korporatiewe kunsversamelings in Suid-Afrika. Toe is vermeld dat Tongaat se versameling uit 700 stukke bestaan het, wat meubels ingesluit het; die Standard Bank het 316 werke gehad, en Sanlam en Sasol elk 250. Volkskas, wat in 1975 met sy versameling begin het, het toe 200 werke gehad. Nege ander maatskappye is vermeld wat toe tussen tien en 150 werke besit het. Die besonderhede van die Anglo-American groep se versameling wat die Oppenheimer-familie begin het, is nie vermeld nie, maar wel dat die JCI-versameling begin is deur mnr Gordon Waddell.

Wat die posisie vandag is, 21 jaar na die laaste publieke bestekopname, is nie bekend nie. Dat daar wel groei in korporatiewe versamelings is, kan as vanselfsprekend aanvaar word. Die permanensie van sulke versamelings bly egter ’n risikofaktor.

Sedert die negentigerjare het korporatiewe versamelings gegroei met belangrike toevoegings soos Billiton, MTN, Telkom en Vodacom. ’n Siening wat onderskryf word, is dat dit goedkoper is in vergelyking met ander publieke borgskappe om kuns aan te koop. Die aankope het ook die voordeel van beeldbevordering.

Dit is belangrik om erkenning te gee aan die rol van die korporatiewe borge in die bevordering van Suid-Afrikaanse kuns. Die Rupert/Rembrandt-groep het in die jare van politieke en kulturele isolasie veel gedoen om die plaaslike kunspubliek aan die werk van gevierde internasionale kunstenaars in prestige-tentoonstellings bloot te stel. Hierdie tentoonstellings het landwyd gereis en het onder meer die werk van kunstenaars soos August Rodin, Henry Moore en Paula Morgenson-Becker asook werke uit die Duitse Ekspressionistiese kuns hier vertoon. Daarbenewens het die Rupert/Rembrandt-groep die Kaapstadse Triënnale, een van die grootste en invloedrykste kunsgebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse kunsgeskiedenis, geborg, met prestigepryse aan die wenners, en ook ruim van die werke aangekoop. Die Ruperts het ook invloedryke boekpublikasies geїnisieer en ten volle geborg, waaronder die monografieë van Irma Stern en Jean Welz en ’n aantal vroeër prestigepublikasies oor Suid-Afrikaanse kuns.

Volkskas het ’n waardevolle belegging gemaak in die bevordering van eietydse kuns deur sy Volkskas Artelier-prys, wat onder meer ’n verblyf in die Cité des Arts Internasional in Parys vir die kunstenaar ingesluit het. Hierdie borgskap bestaan steeds onder die ABSA-vaandel.

Sanlam het met die instelling van ’n jaarlikse kunskalender in 1966 ’n belangrike bydrae gelewer om die breër publiek van Suid-Afrikaanse kunswerke bewus te maak. Soos sy versameling gegroei het, is daar belangrike bruikleen-ooreenkomste met openbare galerye en ander opvoedkundige museums gevorm om werke uit sy versameling vir tentoonstellings aan te bied. Die publieke funksie om sy werk breër te vertoon, is ’n belangrike komponent van die kuratoriese beleid van die maatskappy.


Geskiedenis van die Sanlam-versameling

<< Terug na Sanlam|LitNet: Ons kunserfenis <<