Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Artikels | Articles > Ouma Grietjie ... jou dierbare ding

Ouma Grietjie ... jou dierbare ding


Naomi Bruwer - 2007-08-23

Klik hier vir nog foto's

"Lewe in vrede," sê ouma Grietjie Adams van Garies altoos. Woensdag was egter alles behalwe ’n vreedsame dag in haar 80-jarige bestaan, met flitsende kameras en vele toesprake in hoge Ingels. Ouma Grietjie is Woensdagaand by ’n gesellige geleentheid in die Distrik 6-museum deur die Instituut vir Geregtigheid en Versoening met die gesogte Versoeningstoekenning vereer.

Die Versoeningstoekenning is aan ouma Grietjie gegee vir haar rol in kulturele versoening. "Met hierdie toekenning word ’n nederige en talentvolle vrou vereer, wat haar onblusbare gees behou het ten spyte van die moeilike, dikwels ongenaakbare omstandighede eie aan ’n plattelandse dorpie," het Charles Villa-Vicencio, uitvoerende direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, gesê. Ouma Grietjie het bo haar arm omstandighede uitgestyg en het deur al die swaarkry nooit haar passie vir die lewe en haar geloof in God verloor nie.

Ouma Grietjie het blitsvinnig popsterstatus verkry toe sy op 76 haar eerste CD in die buitekombuis van ’n ou plaashuis opgeneem het. Sy is daardie jaar saam met Zirk Bergh en Isabelle du Plessis KKNK toe, en binne die eerste drie dae is die hele oplaag van haar CD uitverkoop. Van toe af was daar geen keer nie en ouma Grietjie se pienkkappie-gesiggie het in amper elke tydskrif gepryk terwyl haar fyn, helder stemmetjie deur die huise weergalm:

Dis 'n lekker ou Jan
Dis 'n lekker ou Jan
Dis 'n lekker ou Jan
Ou Jan van ding jou dierbare ding

Kom hang aan my
Kom hang aan my
Kom hang aan my soos die Kaapse heuningby.


Ouma Grietjie het diep in die harte van alle Suid-Afrikaners gekruip en binne vier jaar ’n ware ikoon geword. In 2004 is ’n dokumentêre film oor haar met die ATKV-Prys vir die Beste Afrikaanse Dokumentêr vereer en meer onlangs het die Premier van die Noord-Kaap ouma Grietjie vereer as "ikoon van die Noord-Kaap" ter erkenning van haar bydrae tot die vereniging van die mense van die omgewing.

’n Lekker gil van opgewondenheid het Woensdagaand deur Distrik Ses getrek toe ouma Grietjie die mikrofoon beetkry om in volkleur Afrikaans die Here te prys dat sy dié dag kan meemaak. Die fotograwe het erger as Kaapse heuningbye om haar gekoek en die res van die gaste kon beswaarlik die pienk kappie van hierdie klein vroutjie met die groot hart tussen al die flitsende kameras raaksien, maar haar helder stem kon niemand en niks demp nie.

Ouma Grietjie het nou ’n geraamde bewys dat dinge in Suid-Afrika vir ten beste verander het. Na al die jare van ongeregtigheid is die eerbetoon wat Woensdagaand aan hierdie vrou gegee is, ’n bewys dat die versoening in ons land ook vir doodgewone mense ’n verskil gemaak het. Volgens Villa-Vicencio "word dit al meer duidelik dat Suid-Afrika net soveel aandag aan identiteit, kultuur en taal moet gee as aan ras en klas ten einde ons saam te snoer as ’n nasie wat een is in ons verskeidenheid".

Hoekom die hele funksie rondom hierdie grootse Afrikaanse ikoon dan net in Engels aangebied is?

Wel, dis ’n vraag oor geregtigheid en versoening vir ’n ander dag.