Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Chris Chameleon se nuwe album, Ek vir jou, sorg vir platekontrak in Nederland

Chris Chameleon se nuwe album, Ek vir jou, sorg vir platekontrak in Nederland


Liny Kruger - 2007-08-16
Chris Chameleon is pas terug van Nederland  waar hy 'n kontrak met Excelsior Recordings geteken het vir die verspreiding en bemarking van sy nuwe album, Ek vir jou in die Benelux-lande (Nederland, België en Luxembourg.) Na 'n paar maande se onderhandelinge deur Chris se Nederlandse verteenwoordiger, Marcel de Groot, het Chris op Maandag 13 Augustus vir Ferry Roseboom, uitvoerende direkteur van Excelsior Recordings, ontmoet om die kontrak te onderteken.

Chris Chameleon sê dat hy baie in sy skik is met die platekontrak. “Dis 'n droom waaraan ek sedert Boo! se dae hard werk. Nou het dit uiteindelik gebeur. Ek is ook bly my nuwe plaat, Ek vir jou, is die een wat die knoop vir my deurhaak. Sedert die begin van my sololoopbaan met Ek herhaal jou skaaf ek al aan die klank wat ek nodig gehad het om my ook in Europa te laat geld. My dank aan Rhythm Records vir hul volgehoue ondersteuning, my eie span by Chameleon Produksies en laaste, maar beslis nie die minste nie, my ondersteuners in Suid-Afrika wat my die sleutels gegee het om deure oorsee oop te sluit.”

Excelsior Recordings is gebaseer in Utrecht, Nederland, en is bekend as Nederland se voorste onafhanklike platemaatskappy. Excelsior se Benelux-kunstenaars sluit oa Johan, Spinvis en Fixkes in (beide die laaste twee het al goue status bereik).

Roseboom sê dat Excelsior Recordings baie gelukkig is met die teken van hulle kontrak met Chris Chameleon. “Ons is bewus van sy ongelooflike talent en is trots daarop om deel te hê daaraan om sy musiek na die Benelux-gehore te kan bring.”

Ek vir jou sal vanaf Oktober 2007 deur Excelsior in die Benelux-lande versprei word. Chris sal vanaf 19 Oktober tot 29 November terug wees in Nederland vir `n teatertoer deur die Benelux lande saam met een van Nederland se mees gewilde groepe, Spinvis.