Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Van Coke begin ’n nuwe kartel en ’n koning word gebore

Van Coke begin ’n nuwe kartel en ’n koning word gebore


Annie Klopper - 2007-08-01

Verlede Woensdag was dit in Dorpstraat Teater, Stellenbosch, die begin van die einde, asook die begin van ’n begin. Annie Klopper het met 'n kamera in die hand gaan uitvind wat is die toekomsplanne.

Fokofpolisiekar se voorsanger, Francois van Coke, het sy laaste acoustic set in die Wes-Kaap gespeel. Die afgelope paar maande deel Van Coke die verhoog met Laudo Liebenberg (ook bekend as akteur) om gehore regoor die land te vermaak met akoestiese weergawes van Fokofpolisiekar se bekendste liedjies. Dit was ’n rustige baanwisseling tot ’n nuwe begin vir die Karre. Voortaan sal Van Coke en Fokof se baskitaarspeler, Wynand Myburg, hul aandag toespits op ’n nuwe projek: Van Coke Kartel.

 

Volgens Myburg sal die nuwe projek van September tot Oktober by Theo Crous (kitaarspeler van Springbok Nude Girls en KOBUS!) se ateljee, Bellville Studios, opgeneem word. Crous word deesdae gereken as een van die voorste producers in die bedryf, waar hy met bekende kunstenaars en groepe soos onder meer Chris Chameleon, Karin Zoid, Louise Carver, The Parlotones en Flat Stanley werk.

Van Coke Kartel se vollengte-CD behoort einde November uitgegee te word deur Rhythm Records en nuuskieriges en fans sal die driestuk rock ’n roll groep kan sien optree regoor Suid-Afrika met hulle promosietoer in Desember en aan die begin van aanstaande jaar.

Ander lede van Fokofpolisiekar, Hunter Kennedy en Jaco Venter, is ook tans besig om saam met Laudo Liebenberg 'n nuwe projek op die been bring. “Laudo is 'n ou vriend van Fokofpolisiekar en het tydens hulle pre-production van Monoloog In Stereo 'n huis met die band gedeel,” vertel Myburg. Die nuwe projek word A King genoem en dié groep se vollengte-CD sal vroeg volgende jaar deur Rhythm Records uitgegee word.

Die promosie en bestuur van beide Van Coke Kartel en A King word deur Punkskelm Productions & Artist Management hanteer. Punkskelm is al sedert die begin van 2007 aktief besig om saam met groepe soos The Dirty Skirts, Foto Na Dans, Lark en Fokofpolisekar te werk.

Vir meer inligting gaan sien www.punkskelm.co.za, www.myspace.com/punkskelm, of gaan besoek die Punkskelm-groep op Facebook.