Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Ubuntoer ’07

Ubuntoer ’07


Annie Klopper - 2007-07-17

Twee van Die Plate Kompanjie (DPK) se bands, Zinkplaat en Die Helde, het in samewerking met Beyerskloof en Bundi Productions van 14 tot 24 Junie die Ubuntoer ’07 aangepak. Annie Klopper was ook saam.

Ek het altyd gedink ’n pelgrimstog is iets wat jy jare lank kontempleer. Dan verkoop jy al jou besittings, skaf jou kierie en wit kleed aan en vaar die vertes in op soek na Die Sin van Die Lewe in ’n verre land wat drup van die mistieke.

Ek is verkeerd bewys toe ek onlangs in ‘n groot geel trok (wat dien as bus) klim saam met 26 “seerowers”, onder wie ’n vuilerige, nomadiese Mexikaan (of so beweer hy), ’n klankman, ’n ligteman, nege musikante en ek, die amptelike fotograaf. Noorde toe. En Die Sin van Die Lewe was toe altyd te vinde in ’n biertent in die Vrystaat.

Maar miskien smeek laasgenoemde vir ’n beter verduideliking …

Twee van Die Plate Kompanjie (DPK) se bands, Zinkplaat en Die Helde, het in samewerking met Beyerskloof en Bundi Productions van 14 tot 24 Junie die Ubuntoer ’07 aangepak. Vriende van DPK was welkom om aan boord te gaan mits hulle bereid was om amps en kitare te dra, op harde vloere te slaap en min te stort. Sodoende verkry jy seerower-status, en wyl jy byna so vuil mag wees soos Captain Jack Sparrow, is groot avontuur jou natuurlik terselfdertyd beskore.

Zinkplaat het vantevore self al met trokke getoer, maar onder DPK se vaandel is reeds Die Eerste Avontoer (Desember 2006) en die Ubuntoer gereël. Daar word ook ’n treintoer vir volgende jaar beplan wat volgens Beer Adriaanse van DPK (ook tromspeler vir Zinkplaat) “bedonnerd” beloof te wees. Beer het aan my verduidelik waarom die afgelope toer juis Ubuntoer heet: “Op Die Eerste Avontoer het ons op 'n stadium om die vuur by 'n plaashuis in Uitenhage gesit. Ons was 42 mense wat blikkies kos en bottels wyn saam geëet het en na elke slukkie of happie het ons die item omgestuur sodat die ander mense ook kan kry. Ek dink ek het op daardie stadium vir Bertie [Coetzee, voorsanger van Zinkplaat en stigter van DPK] gesê dat ons dit eintlik die Ubuntoer moes herdoop, toe besluit ons om die volgende een dié naam te gee, en vanweë die feit dat ons weer 'n klomp mense op 'n trok was wat alles gedeel het, was die naam gepas.”

Maar vir my sou die naam van die toer soveel meer betekenis kry namate die dae op die trok verloop het. My keuse om die toer mee te maak het gespruit uit frustrasie met die rigiditeit waarin my liefde vir Afrikaanse rock verval het sedert ek ’n akademiese studie daaroor doen. Ek wou dit wat ek bestudeer, weer vir ’n slag in aksie sien, sodat my hoogpyn met ’n goeie dosis hoendervleis weggewerk kon word. Min het ek geweet dat ek baie meer as gedeelde blikkies kos en hoendervleis sou vind op die toer. Wat ons tussen Bronkhorstspruit, Potchefstroom, Pretoria, Johannesburg, Bloemfontein en Smithfield gevind het, was inderdaad ’n gees van ubuntu.

So ver as wat ons getoer het, is daar ’n gasvrye hand uitgereik – van sop en slaapplek op vloere en banke in nuutgevonde vriende se venues, in studentehuise, storte in laasgenoemde se bure se huise, ’n krismisbed voor die kaggel in ’n ou koshuismaat se plaashuis (met koffie, beskuit én ’n monster van ’n farmstyle ontbyt op die koop toe), tot ’n helpende hand met die bars van ’n wiel, ’n braai saam met relatiewe vreemdelinge langs ’n rivier … en die lys gaan aan. Ons is selfs deur ’n verlangse neef van een van die band members ’n brunch gegee, terwyl die hele crew van MK89 se Amp sommer ook genooi is. (Laasgenoemde musiekprogram het opnames van beide Zinkplaat en Die Helde gemaak tydens die toer.) Benewens die gees van ubuntu was daar ook elke aand ’n lekker turnout en mal reaksie op die musiek. “Dit gee my hoop dat ons nuwe generasie musiekmakers dalk bietjie die mark na ons rigting toe kan swaai,” vertel Beer. “Om mense te sien wat moeite doen om na jou konserte toe te kom en wat hulle dan geniet, is 'n voorreg. Die Afrikaanse mark het ruimte vir soveel vordering en op hierdie toere beleef ons hoe die backtrack-kunstenaars besig is om die jeug se ondersteuning te verloor. Die jongmense is lus vir 'n verandering en dit is nie iets wat die doef-doef-'kunstenaars’ vir hulle kan bied nie. Generiese ritmes met Casio keyboard-klanke en simpel video's wat in die natuur geskiet word, hou die Afrikaanse Musiekontploffing terug, maar stukkie vir stukkie kan ons daardie kettings breek. Daar kom mal dinge.”

So teen dag twee het ek alreeds vergeet van my emails wat ophoop, my Facebook en my tesis wat agter raak. Ek het selfs in ’n mindere mate daarmee vrede gemaak dat my hare vuil is.

Maar die toppunt van die hele ondervinding was die laaste aand op Smithfield in die ysige Vrystaat. Met die afklim by dié dorp se Bibberfees is ons begroet met ’n skaapveiling, stalletjies, spookasem en ’n algehele gevoel van Die Klein Dorp. Ek gaan nie lieg nie. Ek is ’n suburban snob wie se snobisme aangevuur word deur my kwansuise über akademiese kennis. Wel, so besef ek nou, wás dit in elk geval nog teen die begin van die laaste dag van my pelgrimstog. Ek was nog besig om te grom vir die akkumulasie van kleindorpse stof op my suede boots, toe ek skielik meegesleur word deur die grootste gees ooit. Beer beskryf dit soos volg: “Ons was bang daar kom niemand nie, toe draai dit een van die malste aande van my lewe uit. Ons het saam met die burgemeester skaapkoppe in die stadsaal geëet en toe vir 'n volgepakte feestent gespeel, met al die mense wat jam en mal gaan. Later het ons al die orige bottels wyn klaargemaak en saam met die locals gekuier.”

As dit nie was vir die foto’s wat ek van die aand het nie, sou ek dit nie glo nie. Almal – en ek bedoel hier almal vanaf oom Boet tot die Stellenbosse snob (ahem) – het saamgekuier, saamgesnoer deur een ding: musiek.

En daarom was die Ubuntoer my pelgrimstog, want ek is in daardie biertent herinner aan hierdie magiese werking van musiek – ’n besef wat die rigiditeit van my studie gelukkig kon vervang met hernude ontsag.