Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel: Gilbert en George

Egon se nuusbrief uit Israel: Gilbert en George


Egon - 2007-06-20

We are only human sculptures in that we get up every day, walking sometimes, reading rarely, eating often, thinking always, smoking moderately, enjoying enjoyment, … loving nightly …

Jare gelede sê ’n vriendin vir my: “Wat jy nodig het, is femme vrou – nie ’n butch dyke nie!” Die stelling was vir my vreemd. Wat ek nodig gehad het, was ’n mens – "mensch", soos ons in Jiddisj sou sê. Die benaming same-sex relations het vir my juis ook beteken dat die stereotiepe rolverdelings van die heteroseksuele wêreld juis nie hier nodig is nie. En toe ontmoet ek vir Judy en sy is ’n vrou: nie femme in die sin van hoë hakke en frille nie, maar ook nie butch in die sin van leerbaadjies en Doc Martens nie – net ’n liewe, sexy en ongelooflike vrou.

Verder maak sy dit ook blitsvinnig duidelik dat sy nie in rolverdeling glo nie en dat dit om spanwerk gaan; nie wie die beste of baas is nie; of die mag het nie. Die een met tyd tot haar beskikking kook die kos of was die skottelgoed; die een wat vandag sterk voel, neem die leiding. Ons deel die lof en dra die verantwoordelikhede saam. Dit maak persoonlike groei en ontwikkeling makliker en meer natuurlik.

Daarom was ek opgewonde toe ek die advertensie sien: Gilbert & George, a major exhibition: 40 years of collaboration.Hierdie uitstalling by die Tate Modern is die eerste in sy soort. Dit is die eerste keer dat lewende kunstenaars met so ’n groot retrospektiewe uitstalling in die Tate erken word en die eerste maal dat een kunstenaar die hele vierde verdieping in beslag neem. Ons het onlangs die voorreg gehad om dit te sien.

Aangesien ons tyd baie beperk was, meen Judy dat ek die uitstalling moet gaan besigtig terwyl sy die uur lange dokumentêr kyk. Elkeen van ons maak notas sodat dit saam ’n artikel kan word. Vir dié van julle wat nie die Tate Modern ken nie, moet ek eers vertel dat dit ’n reuse-museum is – die ou Bankside-kragstasie op die suidelike oewer van die Teemsrivier in Londen, wat omskep is in ’n kunsmuseum, ruim en oop – amper soos die Karoo! Tate Modern het op 12 Mei 2000 vir die publiek geopen.

Toe ek met die roltrap op die vierde verdieping te lande kom, is ek oorweldig deur die grootte van die beelde. Van hulle is tot vyftien meter lank. Die mure is swart geverf vir die geleentheid en die beligting is op die prente gefokus. Nog voordat ek deur die ingang beweeg, begin ek aanhalings van Gilbert en George – een daarvan dien as motto tot hierdie brief – lees. In die eerste kamer is daar van hul vroeë werk – houtskoolsketse wat Gilbert en George as sentrale figure in Engelse landskappe uitbeeld. Dit is dan ook die leitmotief van hul werk – hulle, amper altyd aangetrek soos tipiese Engelse besigheidsmanne in grys pakke met ’n wit hemp en das. Op die swart-en-wit foto’s merk mens nie dat die pakke nie ’n identiese kleur is nie en wanneer hulle nie hul pakke dra nie, dra hulle niks. Verder tref dit jou dat hulle nooit glimlag nie – in die foto’s wat oor veertig jaar strek, is daar nie één van hulle wat lag nie.

Ek stap deur die reuse-uitstalling en wens dat ek die volgende dag kan terugkom. Die beelde is te veel en te kontroversieel om dit in ’n beperkte uur ten volle te waardeer. Wat wel opvallend is, is dat dit onmoontlik is om agter te kom wie neem die leiding en wie behartig watter aspek van die werk. Hulle is twee mense en tog een kunstenaar. Ek lees dat Gilbert in ’n onderhoud vertel dat dit die rede is waarom hulle van handgetekende sketse weg beweeg het en nou met foto’s eksperimenteer. Hulle het eers gewone fotomontages en later beelde wat met rekenaars geskep is, gebruik. Hy vertel dat mense alte veel wou weet wie wat geteken het, en dit het tot die gebruik van ’n volkome onpersoonlike tegniek aanleiding gegee. Hulle is, wil dit voorkom, die perfekte span en werk reeds veertig jaar saam.

Daar is al baie relase geskryf oor of hulle lovers is of nie – hulle het dit nog nooit erken nie en ignoreer vrae rondom die onderwerp. Gilbert Proesch is in 1943 in Italië gebore. Hy het in Oostenryk en Duitsland studeer voordat hy na Engeland gekom het. George Passmore is in 1942 in Devon, Engeland gebore. Gilbert en George ontmoet mekaar in 1967 terwyl hulle studente is aan die St Martin’s Kunsskool, Londen, en leef en werk sedertdien saam in Londen. Hulle huis is ’n tipiese Oos-Londense skakelhuis, ’n blok weg van die bekende Londense groentemark, Spitalfieldsmark, wat in 1991 verskuif is.

Die woonbuurt het oor die jare baie verander: dit was vir lank hoofsaaklik Joods, toe Maltees, toe Somalies en nou is dit Moslem, meestal inwoners uit Bangladesj. Dit is in hierdie woonbuurt waar Gilbert en George sedert die einde van die sestigerjare woon en werk. Hulle straat loop dood in die bekende Brick Lane. Die meeste van hul beelde is hier afgeneem en as jy geduldig in die strate rondhang, sal jy hulle te siene kry. "Nothing happens in the world that doesn't happen in the East End," het George eenmaal gesê.

Hulle het nog nooit tuis gekook nie, maar eet al drie hul maaltye in die omliggende strate se kroeë en kafees. Vir meer as twintig jaar het hulle slegs by die Markkafee geëet – ongelukkig het dit toegemaak toe die mark getrek het. Almal in die buurt ken hulle, en hul name bring outomaties ’n glimlag na vore. ’n Buurvrou, Tracey Emin, beskryf hulle as "harmless, well-mannered eccentrics".

Kunstenaars in grys pakke (met vergunning van die Modern Tate)
Na die uitstalling, terwyl ek en Judy deur hul woonbuurt stap, vergelyk ons indrukke: myne van die uitstalling, hare van wat sy in die koffiekroeg en die fliek gesien het. Hulle werk is uitdagend en ekstremisties – hulle spaar die kyker niks. In die fliek meen Gilbert dat hulle net deel is van die groot gesoek na die waarheid en die gesprek oor moraliteit. Beelde soos die kruis uit drolle saamgestel en bloed wat spat, dien om mense by hierdie gesprek te betrek op ’n wyse wat hulle kan verstaan. “Dat hulle mens forseer om oor die konflikte en die leegheid van die moderne samelewing te dink, is vir seker,” meen Judy, “maar dit maak my hartseer dat hulle geen antwoorde bied nie, geen positiewe rigting aandui nie.” Ons staan voor hulle huis en kyk na die vensters op die onderste verdieping wat met hout toegemaak is.

Ek klop en George steek sy kop by die boonste venster uit.

“Mag ons bietjie met julle gesels?” vra ek, verstom deur my eie voorbarigheid.

Hy glimlag lief en sê verskonend: “Ag, dis nie vandag moontlik nie, miskien ’n ander dag,” en verdwyn weer.

“Hy lyk net soos op al die foto’s,” sê Judy opgewonde, “selfs die brilletjies en bles wat in die laatmiddagsonnetjie blink.”

Ons stap weg en beplan wanneer ons weer kan terugkom. By daai voordeur wil ek in!