Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel: As jou suster sterf

Egon se nuusbrief uit Israel: As jou suster sterf


Egon - 2007-05-28

Wel eintlik is sy nie my suster nie, maar my stiefsuster. Dié feit het ek vir die grootste gedeelte van my lewe probeer vergeet. Want ek was lief vir haar. Haar ouers was vriende met my ouers en ons is in dieselfde kraaminrigting twee dae uitmekaar gebore. Haar ma was my pa se minnares toe beide nog getroud was en ek het al gewonder of sy my stiefsuster of my halfsuster was. Ek het altyd vermoed dat my pa haar liewer gehad het as vir my, want ek was so anders as hulle: hulle was jollers en ek was ernstig; haar ma was glamorous, my ma was slim. Eers later het ek besef my ma is slim én glamorous – ‘n vrou van formaat en integriteit.

Ek wou altyd hê my stiefsuster moes van my hou en ek dink op haar manier het sy my wel lief gehad. Sy was ook die eerste persoon in Suid-Afrika teenoor wie ek uit die kas geklim het. Dit het so gebeur: kort na my terugkoms uit Israel in 1999, nadat ek ses maande daar gewoon het met die doel om te besluit of ek soontoe wou trek, bel ek my sus. Soos altyd is sy baie besig en sal sy my dalk nie binnekort kan sien nie. Ons gesels heerlik oor die telefoon en ek sê dat ek baie het om haar te vertel.

“Soos wat?” vra sy nuuskierig.

“Nee, dis te belangrik om jou sommer so oor die telefoon te kan vertel,” sê ek.

Daar’s ‘n lang stilte en skielik sê sy: “Gonnie, moenie vir my se jy’t gay geword nie!”

“Sal dit dan so erg wees as ek sou?” vra ek.

“Nee glad nie, dit sou wonderlik wees.”

“Hoekom wonderlik?”

“Want dan het ek iets interessants om my vriendinne te vertel: nie een van hulle het ‘n gay suster nie!” sê sy opgewonde, en toe na nog ‘n stilte, terwyl ek oor my nuwe skinner-waarde dink, sê sy stil: “Dit is wat jy my wil vertel, nie waar nie?”

“Ja.”

“O, ek dink dis verstommend,” antwoord sy. “Wie weet almal?”

“Jy’s die eerste ene hier,” sê ek.

“Ek belowe ek sal vir niemand vertel tot jy sê ek mag nie,” sê sy vinnig om my gerus te stel, maar eintlik gee ek nie om nie – ons beweeg hoegenaamd nie in dieselfde kringe nie en ek beplan ook nie om dit ‘n geheim te hou nie. Ek moet net eers die regte geleentheid vind om my kinders te vertel en om goeie redes wil ek bietjie daarmee wag. In elk geval het ek geweet voor ek haar vertel het dat sy twee minute na ons klaar gesels het, iemand sou bel om te vertel: “Egon wat altyd so ‘n heilige Christen was, is nou GAY!!!”

Oor die volgende twee jaar, terwyl ek my voorberei het om Suid-Afrika te verlaat, het ons mekaar gereeld gesien en het sy my deur ‘n groot krisis gehelp. Sy het my en Judy skynbaar onvoorwaardelik aanvaar en ons het soms heerlik saam gekuier. Net voor ek hierheen getrek het, het sy en haar nuwe man na die VSA verhuis – ek het hom beswaarlik geken en eers later gehoor hulle is getroud. Ons kontak was sporadies, maar dit het my nie te erg gepla nie – dit was altyd so.

En toe in November bel my broer my op Skype – die eerste keer ooit dat hy my skakel – om my te vertel dat my sus met ‘n breinmelanoom gediagnoseer is. Ek wil dadelik na haar vlieg, maar sy weier om my te ontvang. Ek is uit die veld geslaan en huil vir twee dae aaneen. Dit is nogal moeilik om so klas te gee, glo my. Maar die lewe gaan aan. Ek praat met haar oor Skype en sy verseker my van haar liefde; dit is net nie nou geleë dat ek kom kuier nie. Later as dinge moeiliker raak, sal dit goed wees as ek kom.

Dit het nooit so gebeur nie – dit was nooit geleë nie. Ek het haar nie weer gesien nie en sy is Paasmaandag oorlede. Ek moes finaal aanvaar dat ek wel haar stiefsuster was en dat dade harder as woorde spreek.

Gedurende hierdie vyf maande het baie dinge na vore gekom en al die ou familiegeraamtes het in die kaste begin rammel en roggel en geheime, soms glad nie mooi nie, het soos die inhoud van ‘n swart sak (as die buurt se honde dit in die hande gekry het) uitgerol. Ek het die waarheid van die ou gesegde ingesien dat dit wat in donker geskied, van die dakke verkondig sal word. Ek moes dinge wat ek nooit wou glo nie, aanvaar as die waarheid en besef dat my stieffamilie my beide stief en goed behandel het oor die waarde van my erfgeld. (Altyd geld wat tussenbeide kom!) Skielik het ek al die goeie tye bevraagteken en was dit innig pynlik, maar …

Ek moes ook by ‘n punt kom waar ek my eie liefde vir my sus bevraagteken. As die liefde alles bedek en alles vergewe, kan ek nou regtig sê dat ek haar ook onvoorwaardelik liefgehad het? Ons sê so maklik: “Ek is lief vir jou”, maar skielik moes ek my afvra wat die inhoud van hierdie woorde is wanneer ek hulle gebruik. Johann het in een van sy briewe uit Taiwan geskryf oor mense wat regtig omgee en deur hul dade liewer as deur hul aksies spreek. Ek hoop dat ek nie net vir my sus gesê het dat ek haar liefhet nie, maar dat sy dit as ‘n werklikheid uit my dade ervaar het. As ek met myself eerlik moet wees, het ek altyd geweet dat ons waardes anders is, maar tog het ek gekies om dinge te glo wat ek geweet het nie waar is nie. Ek moet myself nie nou as ‘n slagoffer sien nie, maar verantwoordelikheid vir my eie naïwiteit aanvaar.

Ek het skielik na myself en na my verhouding met Judy gekyk en besef dat ek gelukkig is om ‘n lewensmaat te hê wat so pynlik eerlik en reguit is. Sy is nie bang om haar liefde deur verstommende opofferings vir my en my kinders te wys nie, en as sy vir my so mooi in haar Duits-Amerikaanse aksent sê: “I love you!”, dan krul my tone om! Ek besef dat die mense wat tel, die mense is wat met integriteit die pad saam met jou loop en ek is geseënd, want ek weet wie hulle is. Beide hier in Israel en in Suid-Afrika.

Soek hulle in jou lewe uit en wys jy gee om!