Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Kennisgewings | Notices > Afrikaans > Skryfkursus lei tot vyf nuwe boeke

Skryfkursus lei tot vyf nuwe boeke


2007-05-28

Vyf manuskripte wat in die magister vir Skeppende Skryfwerk onder Etienne van Heerden se leiding aan die Universiteit van Kaapstad voltooi is, is vir publikasie aanvaar. Die vyf boeke sal in die komende 2007/2008-publikasieseisoene deur Human en Rousseau en Tafelberg uitgegee word.

Die bekende Insig-joernalis Willemien Brümmer, agterkleindogter van CJ Langenhoven, debuteer met 'n bundel kortverhale, Die dag toe ek my hare losgemaak het. Dis verhale oor 'n jong vrou wat in Kaapstad woon.

Michael Rands debuteer met 'n roman, Praise Routine Number Four, wat 'n sosiaal-politieke ondersoek is na die leefwêreld van jongmense in Suid-Afrika. Rands is 'n skerpskertser wat sy brood op verhoë in Kaapstad en Johannesburg verdien. Hy is die seun van die bekende Jonathan Rands van Jock of the Bushveld-faam.

Ingrid Wolfaardt debuteer met 'n vuisdikke plaasroman, Heartfruit, wat ekonomiese verhoudinge in die Bolandse vrugtebedryf ondersoek. Sy is direkteur van 'n vrugte-uitvoermaatskappy in die Paarl en deeltydse model.

Quintus van der Merwe, ouddiplomaat, debuteer met 'n ontspanningsroman, Die blou van onse hemel. Die verhaal het die diplomatieke lewe in Afrika en Europa as agtergrond.

Nanette van Rooyen se roman, Chinchilla, is 'n roman wat in Sutherland en Angola afspeel. Die hoofkarakter is 'n vrou wat terugkeer na haar geboortedorp nadat haar man haar mishandel het.

Die meestersklasse in Skeppende Skryfwerk aan die UK lok jaarliks studente uit lande soos die VSA, Ierland, Nigerië, Brittanje, en so meer. Dit het al tot heelwat publikasies gelei - in sowel Engels as Afrikaans.

Oudstudente sluit Rachelle Greeff, Tom Dreyer en Jaco Botha in.

NB-Uitgewers verskaf jaarliks twee beurse van R15 000 elk vir studente wat in Afrikaans onder Van Heerden se mentorskap werk.