Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Klopjag vier hul vyfjarigheid met 5

Klopjag vier hul vyfjarigheid met 5


Naomi Bruwer - 2007-05-24

Klopjag se CD 5 is pas bekendgestel. Koop 5 nou by kalahari.net
Jan Gerber en Leon-Ben Lamprecht gesels oor die CD
Dawie de Jager en Bertie Coetzee van De Plate Kompanjie
John-Henry saam met Walter en Elizna Kleynscheldt
Heidé Knipe, Basson Laubscher en Carline Jansen van Nieuwenhuizen
Annalise De Meillon-Muller van Bowline en Sallas

Klopjag se nuwe CD, 5, is Maandagaand by die Dorpstraat Teaterkafee op Stellenbosch bekendgestel. Naomi Bruwer het ook die koue van die Kaapse winter trotseer om saam hierdie mylpaal in die band se loopbaan te vier en 'n paar kiekies te neem.

Klopjag is vanjaar vyf jaar oud, en om hierdie mylpaal te vier het hulle besluit om 5 bekend te stel. Die CD is saamgestel uit dertien liedjies vanaf Klopjag se vorige drie CD's. Die keuse van songs is deels saamgestel uit dié wat baie gewild was onder die publiek en deels uit liedjies wat na aan die harte van die band self lê.

Klopjag het vyf jaar gelede begin as ‘n band met vier musiekmakers wat skoon oorbluf was toe hulle na die KKNK 2002 genooi is. Sedertdien het hulle gegroei tot ses lede en het die stemme, klanke, instrumente, en beslis ook hul vaardigheid in al hierdie dinge, heelwat uitgebrei. En dis juis hierom dat hulle besluit het om hul vyfjarigheid te vier met nuwe opnames van hul beste songs.

“Elke song gaan deur ‘n ewolusie,” vertel hulle; “elke song is soos ‘n kind wat jy sien groot raak.”

Meer instrumente, meer tegnologie, meer behendigheid, meer ondervinding – dit was die dinge wat Klopjag laat besluit het om na slegs vyf jaar hul “kinders” se nuwer weergawe aan hul volgers en die CD-mark bekend te stel.

Met vier songwriters in die band wat elkeen ‘n unieke stem én stemming binne die eenheid van Klopjag weergee, was die keuse van songs vir dié verjaarsdag-CD nie eenvoudig nie. Op 5 is daar vier songs deur John-Henry Opperman, beter bekend in die band as Johnas, vier deur Salmon de Jager, of liewer Sallas, drie songs deur Marie-Louise Pretorius en twee deur Dawie de Jager, wat ook meegewerk het aan twee van Sallas se songs. ’n Paar gunsteling Klopjag-songs het in die slag gebly in dié demokratiese samestelling en 5 vervang beslis nie die eerste drie CD's nie.

Die uitverkore songs wat die dertiental op die CD gehaal het, is:

  1. Dalk ’n Boerseun
  2. 24 Uur
  3. Toe dit ek en jy was
  4. Karloos in Arcadia
  5. Stof
  6. Wens jy wil
  7. Liedjie vir die besemtannie
  8. Vervang
  9. Boks
  10. Skree!
  11. Deel 2
  12. Houtskool
  13. Nie Langer
5 is presies wat Klopjag met hierdie CD wou bereik. Die CD is tegnies beter versorg as sy voorgangers en dit is duidelik dat die band sedert die eerste opnames baie gegroei het wat hul instrument- en stemvaardigheid betref. Die songs is afgerond en die nuwe verwerkings van songs soos “Nie langer” en “Deel 2” is ’n bonus. Met hierdie CD ontgroei Klopjag sy kinderskoene.

5 is beskikbaar is alle goeie CD-winkels of kan bestel word by Kalahari.net.