Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Artikels | Features > Die fyn lyn tussen woedend en hartseer: Lukraaketaar se nuwe CD

Die fyn lyn tussen woedend en hartseer: Lukraaketaar se nuwe CD


Annie Klopper - 2007-05-16

Lukraaketaar se nuwe album, Lukraaketaar. Luister na grepe en koop hul musiek by Rhythm Record Online Music Sales
Gerdus Oosthuizen het die verhoog geopen
Luado Liebenberg en Jaco van der Riet
Pierre en Alwyn - Lukraaketaar
Alex Fourie van Foto na dans en Lindie Geldenhuys
Bok van Blerk kuier lekker saam met Alwyn en Pierre

Lukraaketaar se nuwe CD is verlede week by die Klein Libertas-teater op Stellenbosch bekendgestel. Annie Klopper het met 'n kamera in die hand meer gaan uitvind oor dié nuwe CD.


“Hier is hulle! Twee splinternuwe sterre aan die plate-horison. Twee jongmanne met die sprankel van vonkelwyn in hul stemme wat strelend die gedagtes wegvoer na goudgeel sande en wuiwende palmbome van die verste lande agter die horison. Pierre Greeff en Alwyn Kotze … In Stellenbosch en Bellville is hulle beter bekend as ‘LUKRAAKETAAR’.”

Dít dan ’n uittreksel uit ’n promosiestyl-teks in die CD-omslag van die akoestiese-rock duo, Lukraaketaar, se nuwe (selfgetitelde) uitreik. Die kunstige omslagontwerp (deur Merwe Marchand) is treffend en herinner aan die langspeelplaat-omslae van ouds. Ook die inhoud van die album besit ’n nostalgiese kwaliteit.

Maar ’n aanhanger wat die groep se debuut-EP, Fop Genade, goed ken, sal saamstem dat die vollengte-album tesame met nostalgie ook ’n gevoel van déjà-vu wek. Dit is omdat sewe van die tien snitte op die nuwe uitreik ook vervat is in Fop Genade en slegs “Welsynhart”, “Tussen Murg en Been” en “Bitterwyn” nuwe opnames is.

Hierdie samestelling kom egter as gevolg van geen lukrake besluit nie. Die drukopslag van Fop Genade was uitgeput en in plaas daarvan om bloot ’n nuwe opslag te druk, het Alwyn en Pierre voorgestel om die EP uit te brei met hulle nuwe komposisies en bonusmateriaal. Daarbenewens het Johnny de Ridder (van Fokofpolisiekar-faam) met Soft Light City Studios die geleentheid gebied om die nuwe snitte te produce.

“Ons was keen om met Johnny te werk,” vertel Pierre tydens Lukraaketaar se CD launch in die Klein Libertas-teater te Stellenbosch verlede week. Tussen vele onderbrekings deur aanhangers wat wil vertel hoe baie hulle die show geniet het en hulle CD’s geteken wil hê, vra ek meer uit oor die besluit om die EP op hierdie wyse as’t ware te herdruk.

“’n Geharde fan sal byvoorbeeld die nuwe album koop en sy ou Fop Genade aan-passna sy nefie toe,” meen Pierre. “Ons wou ook ons fans reward. Die bonus content op die album is van goeie gehalte. Gewoonlik is bonus content mediocre, maar hierdie is goeie-kwaliteit video's – dis nie te klein nie, jy kan dit lekker groot op jou rekenaarskerm kyk.”

Die bonusmateriaal op die album bestaan uit die bekende eerste video vir “Om te kan” (wat ’n treffer was op beide MK89 en Pitstop), sowel as die een vir “Passievol” wat tans op MK89 draai, en ’n nuwe, voorheen ongesiene video vir “Taranangi Junkie”.

Deesdae eksperimenteer Lukraaketaar ook met ’n tamboeryn as ligte perkussie-element in hulle akoestiese aanslag. “Die tamboeryn bring ’n welkome afwisseling,” meen Alwyn, wat dan spottend voortgaan: “… en ek’s damn goed daarin.”

Die drie nuwe snitte stel nie teleur nie. Dis uitstekende komposisies wat, tesame met die puik produksie van De Ridder en die re-mastering van die ou liedjies, van hierdie album ’n topgehalte produk maak. “Soos die persuitreiking tereg sê: "Die fyn lyn tussen woedend en hartseer is iets uniek aan Lukraaketaar en die nuwe snitte is ’n sprekende voorbeeld daarvan.”

Lukraaketaar mag maar in die nostalgiese kategorie tussen Simon & Garfunkel en Coleske van jou CD-rak ingeskuif word. Dit is beskikbaar is alle goeie CD-winkels of kan per snit afgelaai word by Rhythm Records Online Music Sales.