Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Rubrieke | Columns > Egon se nuusbrief uit Israel > Egon se nuusbrief uit Israel: Bat mitzvah en partytjies

Egon se nuusbrief uit Israel: Bat mitzvah en partytjies


Egon - 2007-03-28

Gewoonlik hou ons nie daarvan om ons vir die Sabbat aan vaste reëlings te verbind nie, maar verlede week was ’n uitsondering. Dit was Daphne se bat mitzvah, amper soos om “voorgestel” te word in die Gereformeerde tradisie, en iets wat gebeur as ’n dogter twaalf en ’n seun dertien is. By seuns heet dit bar mitzvah. Dis ’n spesiale geleentheid as die dogter of seun vorentoe geroep word om vir die eerste maal voor die gemeente uit die Torah te lees.
 
Toe ons die uitnodiging ontvang het om die bat mitzvah van Daphne by te woon, was daar geen twyfel nie – ons het met groot vreugde ons sabbatsrus prysgegee. Die oggenddiens is pragtig, want amper alles word gesing – baie van die gebede, die kort geloofsbelydenis – “Hoor o Israel die Here ons God die Here is een!” – en die psalms, en dan breek die oomblik aan waarvoor ons almal gewag het: “Sal Daphne, die dogter van Hanna en Elizabeth, vorentoe kom.”
 
Daphne lees uit die Torah                                       Daphne hou die Torah vas
 
Ja, Daphne is die dogter van die gay egpaar wat ons die eerste aand by die sinagoge in Haifa ontmoet het en van wie ek al vertel het. Dit was soms ’n moeilike pad wat die twee moes loop om by hierdie besonderse dag uit te kom en baie van ons moes trane wegvee. Na Daphne uit die Torah gelees het en iets oor die dag se skrifgedeelte met die gemeente gedeel het, dra sy die Torahrolle deur die gemeente sodat almal dit kan aanraak.
 
Daphne vooraan die dansende kinders
’n Groot oomblik vir enige mens, maar veral die eerste keer vir iemand wat so jonk is, en in dié geval, so klein. “Die Torah is amper groter as sy!” terg iemand haar ma.
 
Maar soos met baie Joodse feeste word die heilige met die gewone gekombineer en na afloop van die diens is daar ’n groot buffetete bedien. Musiek speel en die kinders dans in ’n lang ry tussen die gaste deur – Daphne vooraan. Hanna meen dis lekker vir haar om te sien dat daar ook etlike "dyke"-tafels is. Saam met ons sit Batya, wat ons destyds by die vrouekongres ontmoet het, en sy nooi ons dadelik na ’n Purimpartytjie op die Karmel die volgende naweek uit. 

Haifabaai - uitsig vanaf die Karmel
So gebeur dit dat ons die ander aand om tienuur van die huis af saam met ons gay buurvrou na Bustan HaCarmel hoog op die rug van die Karmelberg vertrek. Langs die pad stop ons om die uitsig oor die noordelike industriële gebied van Haifa te geniet.  
 
 
Daar is klaar motors voor die kroeg toe ons omtrent elfuur arriveer en met tyd word die plek stampvol – vroue van alle ouderdomme gesels, dans en kuier saam.


 
Kaggelvuur                                                                  Drankies by kerslig
 
Tussen die jonger klomp is daar verskeie in Purim-kostuums. Daar was seker so amper twee honderd vrouens altesaam. In ’n gesellige sitkamer gesels ons om ’n kaggel en geniet ’n drankie, terwyl ander om die kroeg saamdrom. Nie lank na ons aankoms nie is daar ’n kort optrede deur twee vrouens wat oor die liefde tussen vroue sing – dit skep ’n romantiese atmosfeer vir die aand.
 
Kort vertoning                                                        Purim-engel en duiwel
 
“Dis drie jaar sedert ons so ’n partytjie gehou het,” vertel die een organiseerder, Tali, ’n oulike blondekopvrou, heel waarskynlik van Russiese afkoms.
 
“Vroeër het ons ’n klub in Haifa gehad en gereeld sulke byeenkomste vir die gay vrouens gereël,” voeg haar voormalige partner, Renat, by. “Ons hoop om dit nou weer so een maal per maand te doen – sorg dat julle name op ons lys is!”
Judy verseker haar dit is.
 
Toe Batya en haar nooi arriveer, kyk hulle verstom na die klomp vrouens. “Dis ’n heel ander groep! Hulle is jonger, en kyk die klere!” sê Batya, wat soos ’n tipiese dyke in swart jeans en ’n swart hemp geklee is. Reeds vroeër die aand het ons buurvrou opgelet dat die jong lesbiese vrouens heel anders aantrek. Ek vertel hulle van my eerste gayfilmfees in Kaapstad en hoe verbaas ek was om al die vrouens in hulle dyke-monderings te sien. Hierdie geslag "gay girls" trek met veel meer verbeelding aan en daar’s geen sprake van ’n spesifieke beeld nie. Ons verkyk ons aan hulle – ek kan nie help om die skoene op te let nie!
 
Tradisionele en modieuse skoene       Kyk daai hakke 
                         
Daar is die seunsagtige meisies met kort hare en mansklere, sodat jy mooi moet kyk: Het ek hier te doen met ‘n man of meisie? Dan is daar die "glamour girls" met hul kort rompies, hoë hakke en lang hare. Daar is ’n blonde vrou in ’n vollengte sari wat die grootste deel van die aand in haar eie wêreld beweeg en dans en net soms iemand met ’n drukkie groet – sy het die mooiste blou oë. Daar is ’n paartjie, so in hul middeljare, wat lyk asof hulle uit die ortodokse gemeenskap kom. Hoe het hulle op hierdie aand hulle gesinsverpligtinge ontsnap? Hulle beweeg meestal in die skaduwees en ek kom vinnig agter dat ’n kamera hier baie onwelkom is. Net die jong DJ en kelnerin gee nie om dat ek hulle afneem nie.
 
Kroegkelnerin                                   DJ                  
Vir die jong klomp studente is dit veel makliker as vir die ouer vrouens uit ’n tradisionele agtergrond. Ons dans lekker terwyl ons ons verkyk aan alles om ons. Ja, besef ek, dit is anders as mens eers op 45 uit die kas klim en jou skielik in hierdie wêreld bevind. Weg van die kleindorpie-oë van ons tuisdorp geniet ons ons as egpaar baie en sien ek weer ’n sy van Judy wat ek laas in München se klubs ervaar het – dis erg lekker! Hmmmm!
 
Later sit ons buite op die stoep in die koel naglug en gesels – Batya en Dorit, ek en Judy en Giselle, ons buurvrou. Ons het die aand geniet en dit was goed om net saam te kuier, sonder om heeltyd oor jou skouer te kyk.
 
Stadig vat ons die pad huis toe deur die laatnag-, vroegoggend-verkeer. By die huis gekom, besluit ons dis al amper tyd vir ontbyt. Ons eet Weetabix met joghurt voor ons omkap in die bed. Die ver rit was verseker die moeite werd!