Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Foto's | Photos > Foto's: LAPA Leeskring-seminaar by Bloemdal-restaurant

Foto's: LAPA Leeskring-seminaar by Bloemdal-restaurant


Maggie van Eeden - 2011-10-26

LAPA Uitgewers het op 25 Oktober ’n Leeskring-seminaar by die Bloemdal-restaurant in Durbanville aangebied. LAPA-lesers is getrakteer op ’n driegang-ontbyt, praatjies deur van LAPA se mees gewilde skrywers en ’n keuse van twee van die betrokke skrywers se boeke.

Pieter Aspe (Pierre Aspeslag), die Nederlandse skrywer wie se eerste twee boeke (Vierkant van die wraak en Die Midasmoorde) in sy misdaadreeks onlangs deur LAPA vertaal is, was in gesprek met Daniel Hugo. Aspe het onder meer vertel hoe hy gedurende die vroeë tagtigs weens ’n geldelike verknorsing Suid-Afrikaanse wyn verkoop het – dit in ’n tyd toe dit nie polities aanvaarbaar was om Suid-Afrikaanse produkte te koop nie. Hy kry sy storie-idees uit die daaglikse lewe en het ook vertel waarom Bruggen, sy geboortestad, soveel prominensie in sy boeke kry. Daarna het Riette Rust met Marinda van Zyl (naaswenner in dié jaar se LAPA Romanwedstryd) gesels oor haar debuutroman, Wilhelmina Radebe kom tuis. Van Zyl het gesê sy was letterlik stomgeslaan toe LAPA haar ingelig het dat sy die naaswenner van hul romankompetisie was. “Ek het niks sinvols gesê nie,” het sy gelag. Van Zyl het M-grade in beide biblioteekkunde en geskiedenis, en dit was tydens die navorsing vir haar geskiedenis-verhandeling dat sy besluit het om ook ’n roman oor haar bevindinge te skryf. “Met geskiedenis, soos met enige ander wetenskap, werk mens maar met statistieke, en ek wou die mense agter daardie statistieke ook ’n stem gee.”

’n Paneelbespreking oor spanningsverhale het daarna gevolg, en Karin Brynard (skrywer van die misdaadroman Plaasmoord) het die gesprek tussen Pieter Aspe, Chanette Paul (skrywer van die gewilde Gys Niemand-reeks) en Corlia Fourie (Die geheime kamer) gelei. Paul het op Brynard se vraag oor waarom sy misdaadfiksie skryf, geantwoord dat sy in haar misdaadverhale die realiteit kan regskryf, “die boef aan die pen laat ry”. Fourie, daarenteen, het besluit om misdaadfiksie aan te pak omdat sy nog nie vantevore so iets probeer het nie. Haar hoofkarakter, die psigopaat Gert Cloete, het “sukkel-sukkel” ontwikkel. Oor taboes met die skryf van misdaadfiksie het Aspe genoem dat hy nooit oor kinders sal skryf nie.

Daarna het musikant Valiant Swart die gaste vermaak met ’n paar bekkige liedjies en het hy ook voorgelees uit sy liriek-bundel Toorwoorde roep my, wat onlangs deur LAPA uitgegee is.

Madri Victor het afgesluit met ’n praatjie oor Fransi Phillips se jongste roman, wenner van vanjaar se LAPA Romanwedstryd, Net ’n lewe.

Van die LAPA Leeskring-seminaar se gaste saam met die deelnemende skrywers.

Daniel Hugo en Pieter Aspe lees voor uit onderskeidelik die Afrikaanse en Nederlandse vertalings van Die vierkant van die wraak.

Daniel Hugo en Pieter Aspe
Pieter Aspe beantwoord vrae uit die gehoor. Marinda van Zyl en Riette Rust

Riette Rust gesels met Marinda van Zyl oor haar debuutroman, Wilhelmina Radebe kom tuis.

Riette Rust en Marinda van Zyl

Pieter Aspe en Karin Brynard tydens die spanningsverhaal-paneelbespreking.

Karin Brynard en Chanette Paul
Karin Brynard, Chanette Paul en Corlia Fourie
Chanette Paul Marinda van Zyl teken ’n aanhanger se kopie vir haar.
Valiant Swart en sy bekfluitjie
Valiant Swart Valiant Swart lees voor uit sy liriekbundel.
Madri Victor vertel die gaste meer oor Fransi Phillips se jongste roman Net ’n lewe.

 

Foto's: Maggie van Eeden