Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Nie sirkus of sielkundige nie, maar skrywer: Jaco Jacobs gesels met Naomi Meyer oor die monsters in sy kas

Nie sirkus of sielkundige nie, maar skrywer: Jaco Jacobs gesels met Naomi Meyer oor die monsters in sy kas


Jaco Jacobs - 2011-10-17
Untitled Document

Weerwolfprobleme
Jaco Jacobs
Uitgewer:
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799349603
Prys: R63.95

Klik hier en koop Weerwolfprobleme nou van Kalahari.net!

’n Kas vol monsters. Het die boeke een vir een na jou gekom, of het jy die geheel reeds voor jou gesien toe jy dit begin skryf het?

Ek het die boeke een-een aangepak. Omdat elke storie op sy eie bene staan en dit nie as ’n reeks gelees hoef te word nie, was dit nie nodig om (soos Rowling glo met die Potter-boeke gedoen het) die hele reeks vooraf te beplan nie. My idee was om om die beurt in elke boek die storie rondom een van die vyf monsters te laat draai. In Die groen hand besluit die titelkarakter om pad te gee omdat die ander monsters hom nie waardeer nie; in Vampierfoto’s sukkel Elvis die vampier om foto’s van homself te laat neem; in Hollywood-mummie besluit Toets die mummie sy wil die romantiese hoofrol in ’n Hollywoodfliek losslaan; en in Weerwolfprobleme het ek besluit om te kyk wat gebeur as ’n weerwolf vlooie kry. Die vyfde boek, wat volgende jaar verskyn, se titel is Die perfekte monster, en daarin besluit die lomperige monster Frank om internet dating te probeer. En in die sesde boek, Kinderspeletjies, maak ’n splinternuwe monster sy verskyning.

Ek hou van jou karakters en die humor van hulle name. Waar kom hierdie spulletjie vandaan: Denver en Meyer? En Toets? Is hulle fragmente van mense wat jy ken, deur jou aanmekaar ge-Frankenstein? Of bestaan hulle in ’n aparte folder in jou kop, ’n plek waar jy fiksiekarakters bêre?

Ek is só bly jy dink ek is goed met name uitdink! My uitgewer dink glad nie so nie. Sy raas gedurig met my omdat ek geneig is om name te herhaal, of bloot simpel name vir karakters gee. As ek ’n skooljuffrou skep, is haar van om een of ander duistere rede altyd geneig om Meyer te wees. En ek het nooit eens ’n juffrou Meyer op skool geken nie. My uitgewer het my in ’n stadium verbied om mense die van Meyer te gee. (Ek dink julle Meyers behoort amptelik beswaar te maak, Naomi!) Toe besluit ek om een van die karakters in die Kas vol Monsters-reeks sommer ’n dubbelloopnaam te gee – sy naam én sy van is Meyer.

Ek gebruik selde doelbewus mense wat ek ken as karakters, want ek probeer gewoonlik karakters skep wat opwindender is as die mense wat ek ken. Dis maar met elke nuwe storie ’n lang en moeilike proses om met nuwe karakters vorendag te kom. En omdat ek baie skryf en publiseer, kos dit nogal kophou om seker te maak jy herhaal jouself nie te veel nie.

Denver is nuut in die buurt. ’n Tegniek om jou storie aan die gang te skop, of ’n manier om kinders wat by nuwe omgewings moet aanpas, saam met jou karakters te help ontvlug - en so te laat tuis raak (“ek is nie alleen nie”)?

’n Bietjie van albei. Ek het op ’n klein Karoodorpie grootgeword (ek was Jaco Jacobs wat in Jacobsstraat gebly het – dit klink vergesog selfs vir ’n kinderboek, maar dit is die reine waarheid) en die eerste keer toe ek na ’n nuwe omgewing verhuis het, was eers ná skool, toe ek universiteit toe is. Ek het altyd baie jammer gevoel vir kinders wat nuut in ons klein skooltjie was en gesukkel het om aan te pas. Maar dis natuurlik ook ’n baie lekker manier om ’n nuwe reeks af te skop, met ’n hoofkarakter wat nuut in die buurt of dorp of skool is, want sodoende kan hy/sy nuwe plekke saam met die leser verken en nuwe maats ontmoet.

“Is jy dapper genoeg om in die kas te loer?” staan agterop jou Kas vol Monsters-reeks. Glo jy mens moet eers die flapteks of boekblurp skryf vóór die storie?

Nie noodwendig nie. Tradisioneel is dit glad nie die skrywer se taak om die flapteks of blurp te skryf nie. Omdat ek egter ’n uitgewer ook is, verkies ek soms om self by die skryf van die agterbladkopie of lokteks betrokke te wees. Gewoonlik gebeur dit eers agterna, maar met die Kas vol Monsters-reeks en die Stalmaats-reeks (laasgenoemde skryf ek onder die skuilnaam Lize Roux) begin ek dadelik aan die flapteks en titel skaaf sodra ek met die storie wegtrek – ek dink dit help my om met elke boek ’n sterk storie te ontwikkel.

Wil jy al wegkruip vir steelfotograwe, of sukkel jy nie met paparazzo nie?

Haha! Nee, ek vermoed ’n Afrikaanse kinderboekskrywer sal eers in ’n lekker sappige skandaal betrokke moet raak voordat die media hom begin jag. (Laat weet my gerus as jy voorstelle het vir lekker sappige skandale waarby ek betrokke kan raak!)

Ek onthou jy en Fanie Viljoen het verlede jaar weer Afrikaans-eksamen geskryf. Hoe verskil die fokus van die vraestel deesdae van dié in jou eie matriekjare?

Ek was baie verbaas om te sien dat die formaat en moeilikheidsgraad van die vraestel basies nog dieselfde is as toe ek in 1998 matriek geskryf het. Dit is nie lagwekkend maklik soos ’n mens geneig is om te vermoed nie. Ek vermoed ek het as dertigjarige “matrikulant” op my stertvel my A gekry, terwyl ek in matriek iewers in die 90 persent gekry het. En my arme hand was twee dae ná my en Fanie se kamma-eksamen nog seer – ek is nie meer gewoond daaraan om met ’n pen te skryf nie.

Hoe beïnvloed jou getroude lewe jou skryfwerk?

Dis vir my eerlikwaar moeilik om te sê. Aanvanklik het dit vir my gevoel ek maak moeiliker tyd vir skryf, of dat ek minder skryftyd het, maar in werklikheid skryf ek nog net soveel – of dalk selfs meer – as in my losloperdae. Ek skryf buitendien vroegoggend, terwyl my vrou nog rustig slaap.

Sjokolade of kaas? (En watter soort?)

Beslis kaas. Hoe skerper en blouer, hoe beter. Maar terwyl die getroude lewe nie noodwendig my skryfwerk beïnvloed nie, het dit beslis ’n invloed op my kaaseetpatrone gehad. Ter wille van my arme vrou probeer ek deesdae minder gereeld stink kaas eet.

Sal boeke in tegnologiese formaat (soos e-boeke) kinders motiveer om meer te lees, of is dit wensdenkery van volwassenes?

Ek is nie regtig seker nie. Aan die een kant sê my pensgevoel vir my dat die tegnologie moontlik jong lesers kan lok. Die Afrikaanse selfoonstories wat ek en Fanie Viljoen vroeër vanjaar gepubliseer het, het groot aftrek gekry. Maar aan die ander kant praat ons nog steeds van boeke en lees, al is dit in ’n tegnoslim formaat. Jy gaan nog steeds kinders moet oortuig dat dit meer pret is as rekenaarspeletjies en TV en flieks. En dit beteken skrywers en uitgewers sal steeds moet verseker dat die materiaal relevant en toeganklik en teikenmarkgerig is. Die nuwe tegnologie bied egter wel opwindende moontlikhede en geleenthede vir meer interaktiwiteit, en ’n groot voordeel is dat dit boeke makliker beskikbaar kan maak.

Hoe dink jy sal e-boeke met kinderillustrasies omgaan?

Dit gaan toenemend makliker word om geïllustreerde e-boeke te skep met interaktiewe volkleurillustrasies. Die e-boekuitgawe van Frank Cottrell Boyce se Chitty Chitty Bang Bang Flies Again het byvoorbeeld ’n geanimeerde voorblad, en daar verskyn al hoe meer kinderboeke in e-boekformaat met webskakels en video’s en sulke tegnobonusse. Uiteraard sal die nuwe tegnologie uitdagings aan kinderboekillustreerders en -uitgewers en -ontwerpers stel, maar dit is in daardie opsig ’n opwindende tyd wat voorlê.

Vertel ons lesers van jou eerste skooldag.

Ek het glad nie uitgesien daarna nie. Ek onthou my oupa het my vertel ’n mens kry pak as jy nie ’n sakdoek saamvat skool toe nie, en ek het seker duisend keer seker gemaak ek het wel ’n sakdoek. My eerste skooldag was in een opsig nes ek verwag het: ek het nie van die kinders of die gebou of die onderwysers gehou nie, en ek was doodbang vir alles. Al ligpuntjie was die feit dat ek geweet het die juffrou gaan my leer lees. Dáárvoor kon ek nie wag nie, want ek was mal oor stories. Groot was my teleurstelling toe ek ná die eerste skooldag uitvind ek kon nog nie lees nie. Ek was so vies daaroor dat ek die volgende dag skoolsiek gespeel het – en sodoende my tweede skooldag misgeloop het.

Jou boeke handel dikwels oor monsters, grillerighede, kos. Maar eintlik is dit onmoontlik om elke rympie of skribbel van jou te verpak – jy kry dit telkens reg om kinders (en die ouers wat voorlees) te verras. Kies jy soms doelbewus ’n tema, of hoe werk jou inspirasie?

Dis interessant hoe temas in ’n mens se skryfwerk opduik. Ek het nie besef ek skryf so baie oor kos nie, totdat iemand dit eendag vir my uitgewys het. Net aliens eet spinasie; Wurms met tamatiesous; Die beste toebroodjie; Ouens is nie pizzas nie; Liefde laat jou Rice Krispies anders proe; Suurlemoen! – jy kan maklik vergewe word as jy dink ek het ’n ligte obsessie met kos!

Ek skryf graag die soort boeke wat ek self kleintyd gelees het – grilstories, snaakse stories, stories wat jou verras. Daar is ’n suiwer kreatiewe deel aan my skryfwerk – dit is daardie “inspirasie” wat jy kry wanneer jy bloot sit en dagdroom, of gaan stap, of vreemde dinge in ’n winkelsentrum of koffiewinkel opmerk wat jou storievoelers orent laat staan. Maar daar is ook ’n ander, meer beplande deel, waar ek gaan sit en besluit vir watter teikengroep ek ’n nuwe reeks wil aanpak en dit met my uitgewer bespreek.

Kinderboeke is dikwels ouderdom-geteiken. Hoe beïnvloed dit jou skryfwerk? Laat jy byvoorbeeld die spanning korter oplaai na gelang van ’n kind se ouderdom, of is dit nie ’n bewustelike besluit nie?

Ek glo kinderboekskrywers moet teikenmarkgerig skryf. Maar as ’n mens die kinderboekmark goed leer ken, weet jy later byna instinktief hoe om die storielyn so te laat verloop dat dit die teikenleser se ouderdom, leesvermoë, aandagspan en dies meer in ag neem. Dit is nooit vir my ’n vreeslik bewustelike proses nie, hoewel ek vooraf besluit vir watter teikengroep ek skryf.

Ek sien op jou webwerf jy wou eers by ’n sirkus werk, toe sielkundige word. Wat is jou gunsteling-beroep wat enige van jou karakters al beoefen, of stokperdjie wat hul geïnteresseer het?

Hier’s ek weer terug by die Kas vol Monsters-reeks. In Hollywood-mummie is daar ’n karakter genaamd Brent van der Vent die Monsteragent. Ek het nie net van sy naam gehou nie; sy beroep is ook groot pret. Sy werk is om régte monsters te werf om as akteurs in flieks te speel waarvan die begroting te klein is om duur rekenaareffekte te bekostig.

Hier onder is ’n paar oulike grafsteen-benamings op jou blogwerf. Wat wil jy hê moet eendag op jóú grafsteen staan?

Grafstene

Hier lê die arme Sarel du Toit.
Mensvreters het hom vir ete genooi.

Hier rus die liefdevolle Lientjie du Preez.
’n Luislang het haar ’n drukkie gegee.

Hier lê die stomme Maria Mazwai.
Verdrink terwyl almal gedink het sy waai.

Hier lê die jong Hendrina Daneel.
Huiswerk het haar morsdood verveel.

Hier lê ’n seuntjie, sy naam was Frik.
Hy’t sy vinger in die muurprop gedruk.

Hier rus Martina Johanna Marais.
’n Olifant het bo-op haar kom lê.

In tere herinnering aan Sara Bermedie
(Daar was rottegif in die hoenderbredie.)

(c) Jaco Jacobs 2011 

Ek het onlangs vir my vrou gesê sy mag basies enigiets op my grafsteen sit, behalwe my volle doopname. Die mooiste grafskrif ooit is vir my in die fliek The Royal Tenenbaums, waar Royal daarvan droom om eendag die volgende woorde op sy grafsteen te hê:

Royal O’Reilly Tenenbaum
Died Tragically Rescuing His Family From The Wreckage Of A Destroyed Sinking Battleship

Ek gee eintlik regtig nie om wat eendag ná my dood oor my gesê of geskryf word nie. Wat ek wel kan onthou, is dat ek en my sussie kleintyd ’n makabere speletjie gespeel het waarvan die doel was om die beste manier te bedink om eendag dood te gaan. Ek is basies verslaaf aan tamatiesap, en myne was om in ’n swembad vol daarvan te verdrink. Dis die soort tienjarige wat ek was.