Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > LitNet Akademies: Braam Roux in gesprek met Renette Blignaut en Isabella Venter oor toelatingskriteria van Suid-Afrikaanse universiteite

LitNet Akademies: Braam Roux in gesprek met Renette Blignaut en Isabella Venter oor toelatingskriteria van Suid-Afrikaanse universiteite


Renette Blignaut - 2011-09-26

Braam Roux gesels met Renette Blignaut en Isabella Venter oor hulle artikel “’n Vergelykende studie van toelatingskriteria van ’n seleksie Suid-Afrikaanse universiteite” in LitNet Akademies. 

Enige ondersoek moet sekere parameters aanvaar. Die aanvegbaarheid van veronderstellings maak die ondersoek ook kwesbaar. Vir ’n beoordeling van die waarde van die ondersoek, moet, benewens aansprake en afleidings, enkele aannames dus ook by die debat betrek word.

1. ’n Effektiewe universiteit

a. Kan ’n universiteit as “effektief” beskryf word? Indien wel, hoe en waarom?

Die woord effektief is deur FinWeek gebruik om sekere maatstawwe van sukses by ’n universiteit te beskryf. Hierdie maatstawwe het hulle geïdentifiseer as “’n kombinasie van die volgende: voorgraadse sukseskoers; gegradueerdes as ’n persentasie van totale inskrywings; navorsingsuitset-eenhede en gekontrakteerde navorsing”. Of hierdie maatstawwe wel suksesvol is om “effektiwiteit” te beskryf is debatteerbaar, maar hulle is darem ’n metode om “effektiwiteit” te probeer kwantifiseer. Hierdie kwantifisering van maatstawwe stel ’n mens in staat om universiteite te vergelyk in terme van sekere kriteria. Dit is dus ’n enkele metode om effektiwiteit te meet.

b. Die beoordeling deur Finweek van Suid-Afrikaanse universiteite word nie in die artikel direk gebruik nie?

Dis korrek – ons het slegs die seleksie van universiteite van FinWeek gebruik om ons studie te beperk tot slegs ’n paar vergelykbare universiteite.

c. Die vermelding aan die begin maak dus stemming ’n gerustheid dat die universiteite wat in hierdie ondersoek betrek is, effektief is? Dit maak die verfyning van seleksiemiddele belangrik, want in “effektiewe” universiteite kan die “regte” studente nie anders as sukses behaal nie.

“Effektiwiteit” was hier nie die rede vir die keuse nie, maar eerder dat die studie meer haalbaar was deur die seleksiekriteria van slegs nege universiteite te bestudeer.

d. Hoe bepaal ons kriteria vir die effektiwiteit van ’n universiteit? U vind die Finweek-kriteria blykbaar aanvaarbaar. Waarom? Sou u dink hierdie kriteria beskryf ’n universiteit volledig?

Ons het nie die manier waarop FinWeek tot hierdie slotsom gekom het, bevraagteken nie. Duidelik is dit ’n baie vereenvoudigde manier om ’n universiteit te evalueer – maar dis ten minste kwantifiseerbaar. Ander kriteria, soos om byvoorbeeld te kyk of studente wel hul studie in ’n werksituasie kan toepas, is nie so maklik kwantifiseerbaar nie en sal ’n langdurige studie vereis, maar so ’n kriterium sou wel ’n mate van die doeltreffendheid van ’n universiteit aandui.

2. Mensbeeld

Dit wil voorkom of u met ’n masjien-model vir die mens werk – in die sin van Hume se siening van kousaliteit: “Like causes have like effects.” Kan gestandaardiseerde seleksiemiddele suksesvol wees ten spyte van menslike vryheid en feilbaarheid?

Definitief is daar geen waarborg dat ’n student wat met ’n sekere seleksiemetode toegelaat is tot ’n kursus, die kursus suksesvol gaan voltooi nie. Die metode dui slegs aan dat ’n student “waarskynlik” die kursus suksesvol sal kan voltooi.

3. Toelating

a. Vir u is die wyse van berekening van die toelatingspunte ’n belangrike (die belangrikste?) tekortkoming van die seleksiestelsel. Hoe seker is u dat die samestelling van die pakket (die vakke deur die kandidate geneem, gewoonlik met uitsluiting van LO), en die gewigte wat die samestellende dele kry (die syfer-simbool verwerf), reg is?

Ons is geensins van mening dat die berekening van die toegangspunt die tekortkoming van ’n seleksiemetode is nie! Tans word daar verskeie metodes (deur die verskillende universiteite) gebruik om hierdie toelatingspunt te bereken. Ons studie was daarop gerig om die metodes te vergelyk en om ’n vereenvoudigde metode voor te stel.

b. Watter gronde is daar om te sê dat ’n gestandaardiseerde metode om die toelatingspunte van aansoekers te bereken, tot beter resultate sal lei? Mag universitêre outonomie ’n plek hê in die seleksie van toekomstige studente?

Ons gevolgtrekking is nie dat ’n gestandaardiseerde metode beter resultate sal lewer nie. Die berekening van die punt sal net eenvoudiger wees en ’n gestandaardiseerde toelatingspunt sal leerders in staat stel om makliker te sien vir watter kursusse hulle by die verskillende universiteite kwalifiseer. Tans moet hulle vir elke universiteit ’n ander berekening doen.

c. Toelating kry ’n morele aspek deur die bybring van “potensiaal” in die toelatingsdebat. Behoort ’n universiteit met so ’n benadering te werk? Is die akademiese ondersteuning wat deur so ’n benadering vereis word, akademies en moreel regverdigbaar?

Ons voel – soos in die artikel gestel – dat “dit nie eties verdedigbaar is om akademies onvoorbereide studente vir tersiêre studie te keur sonder om uitgebreide bystand aan hulle te verskaf nie” – dis nou mits hulle wel die potensiaal het om ’n kursus te voltooi.

4. NNT

U verwerp die NNT as ’n hulpmiddel by keuring, maar sien moontlikhede in die algemene gebruik van wat in AARP aangewend is.
 
a. Sal dieselfde praktiese besware wat teen die NNT ingebring is, nie ook geld teen ’n algemene gebruik van AARP nie?

Dit is duidelik dat die NNT nie gebruik kan word as ’n alternatiewe maatstaf vir universiteitstoelating nie, omdat dit nie die student se potensiaal meet nie, maar eerder akademiese voorbereidheid soortgelyk aan wat die NSS toets. AARP was ontwerp om potensiaal te meet eerder as akademiese voorbereidheid.

b. Kan gereelde NNT-verslae universiteitsdosente wat verantwoordelik is vir eerstejaarsgroepe, nie baat nie? Die onderskeid wat julle tref tussen toets vir potensiaal en toets vir peil van voorbereidheid was in my agterkop met die stel van die vraag. Vir ’n dosent is peil van voorbereidheid baie belangriker as van potensiaal. As daar ’n klas beginnerstudente voor haar sit en sy weet hulle het almal die potensiaal om die kursus te slaag, dan het sy geen aanduiding van waarmee, en hoe, om die klas te begin nie, en dit is haar werk, sy moet begin. Sê dis ’n klas in statistiek, en sy weet hulle voorbereiding is sodanig dat hulle nie tafels ken nie, dan weet sy ten minste sy kan nie kennis van tafels veronderstel nie. Dit kan ’n aanduiding wees dat sy daar moet begin. Dit gee bruikbare inligting aan die dosent wat potensiaal nie doen nie. Ek het gedink dat dit ter sake moet wees by toelating, want universiteitsowerhede het ook ’n verantwoordelikheid teenoor hulle dosente wanneer hulle moet besluit op middele om oor toelating te besluit. Ek het beoog dat julle ten minste die probleem moet uitlig en dalk ’n gedagte gee oor hoe en wat gedoen kan word om peil van voorbereiding in die keuringsprentjie te kry.

Dit is heeltemal waar dat ’n dosent sy/haar lesings beter sal kan voorberei indien hy/sy weet wat die vlak van kennis van sy/haar studente is. Maar al sou ’n dosent toegang tot die NNT-uitslae kon kry, sal hy/sy nog steeds nie weet in watter afdeling van die NNT die student nie gepresteer het nie – byvoorbeeld dat die student sy tafels nie ken nie en daarom swak gevaar het.

Voorts is die NNT-toetse nie algemeen beskikbaar nie – en dus weet dosente nie presies wat getoets word nie.

Indien die toelatingspunttelling (TPT) gestandaardiseerd is (en dit op die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS) gebaseer is), kan die vlak van die TPT/NSS vergelyk word met die NNT deur slegs ’n steekproef van student die NNT te laat aflê. Dit sou baie onkoste bespaar.

c. Die NNT-bevindinge raak universiteite veral op een manier: onderwysers en onderwys-administrateurs en -adviseurs is vakkundig en professioneel deur universiteite opgelei. Ons skoolkrisis, soos dit uitkom in die NNT-bevindinge, reflekteer ook op universiteitsopleiding en behoort ook by universiteite tot selfondersoek aanleiding te gee. Moet keuring nie in so ’n wyer konteks ondersoek word en die keuringsdebat nie baie wyer gesitueer word nie?

Indien u hier bedoel dat die universitêre opleiding van onderwysers die rede is vir die skoolkrisis, dan moet ons sê: geensins. Nie alle onderwysers was heropgelei om die nuwe kurrikulum te onderrig nie. Ook is daar baie onderwysers wat in skole skoolhou wat swak toegerus is – die nuwe kurrikulum vereis byvoorbeeld internet-toegang, aangesien baie van die materiaal vir die onderskeie leerareas nie in handboeke beskikbaar is nie. Dit is dus nie ’n kwessie van swak opleiding nie, maar is meer kompleks as dit.