Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Chris Karsten gesels met Bibi Slippers oor sy ATKV-Woordveertjies, Abel-trilogie en obsessies

Chris Karsten gesels met Bibi Slippers oor sy ATKV-Woordveertjies, Abel-trilogie en obsessies


Bibi Slippers - 2011-09-21
Untitled Document

Hallo Chris, en baie geluk met jou twee ATKV-Woordveertjies vir Abel se ontwaking. Jy het in jou bedankingstoespraak by die Veertjie-toekenningsaand die beoordelaars bedank vir die feit dat hulle erkenning gee aan genreskrywers wat “te dikwels nog tot agterkamers verban is”. Dink jy die gety is besig om te draai in terme van die vooropgestelde idees oor die onderskeid tussen Grootse Letterkunde en genrefiksie?

Raymond Chandler (skepper van die onvergeetlike Philip Harlowe) word nou gereken as ’n belangrike figuur in 20ste-eeuse Amerikaanse hoofstroom-literatuur, maar, sê Stephen King, in “ernstige” literêre geselskap word Chandler nou nog, lank ná sy dood, tot onder aan die voet van die tafel gerelegeer terwyl oor hom gefluister word: “Came out of the pulp tradition, you know ... carries himself well for one of those, doesn’t he? A hack with pretensions ... the worst kind!” Self sê Chandler onder meer in sy bekende essay “The Simple Art of Murder”: “The detective story, even in its most conventional form, is difficult to write well. Good specimens of the art are much rarer than good serious novels.” Al eier wat ek hier te lê het, is dat Afrikaanse lesers blootgestel word aan goeie, gewilde spanningsfiksie, en hierdie (goeie) boeke hoef nie gekategoriseer te word as “literature of escape” asof dit van ’n laer kaste is as byvoorbeeld “literature of expression” nie – as daar hoegenaamd so iets bestaan.

Is dit reg om aan te neem dat jou agtergrond in die joernalistiek jou skryfwerk noodwendig beïnvloed? Daar is diegene wat van mening is dat die grieselrige besonderhede van moord en doodslag in Suid-Afrika tans beteken dat fiksie oorbodig is – niks wat enige skrywer kan opmaak, kan kompeteer met die waarheid nie. Wat is jou siening oor hierdie verhouding tussen feit en fiksie, spesifiek wanneer dit by spanningsverhale en verslaggewing oor “ware” misdaad kom?

Ja, ek dink skryfwerk spruit subjektief uit ’n skrywer se eie agtergrond en belangstellings. Joernaliste doen verslag oor al die “grieselrige besonderhede” van ’n moord. As fiksieskrywer stel ek nie dáárin belang nie, maar wel wat in die koppe aangaan van die moordenaar en die speurders wat hom jag. En om dit te kan doen, probeer ek by Truman Capote leer wat oor sy seminale misdaadboek In Cold Blood sê: “Journalism always moves along on a horizontal plane, telling a story, while fiction – good fiction – moves vertically, taking you deeper and deeper into character and events.”

Om aan te sluit by bostaande: Abel se grusame dade laat my dink aan die hoofstuk in JM Coetzee se Elizabeth Costello, waar Costello erg ontstel word deur die gebeure in Paul West se roman The Very Rich Hours of Count von Stauffenberg. Costello wonder of ’n skrywer nie self skade ly wanneer hy of sy hulself in soveel donker onderdompel nie. Voel jy soms of jou eie psige bedreig word deur Abel se aksies, of staan jy heeltemal verwyderd daarvan?

Al het ek afstand probeer behou, het die reeks boeke wat ek oor 60 ware Suid-Afrikaanse moordgevalle geskryf het, my dieper geraak as enige fiksie wat ek lees of skryf. Die werklike moorde is erger en gruweliker as wat selfs Abel in sy mees verwarde delusies kan bedink. In my Abel-boeke vermy ek doelbewus enige grusame beskrywing van hoe ’n moord gepleeg word en probeer eerder fokus op motiewe of geestelike afwykings wat een mens kan dryf om ’n ander se lewe te neem. Weer eens is ’n mate van afstand nodig, anders sou, soos Raymond Chandler sê, net ’n psigopaat so iets kon skryf of lees.

In Madri Victor se resensie van Abel se Ontwaking skryf sy dat dit “makliker” is om eerder die speurder jou protagonis te maak, maar dat jy hierdie resep met groot sukses in jou verhaal omdop. Waarom het jy gekies om op Abel sentraal te stel in hierdie reeks?

Abel is nie die argetipiese moordenaar wat deur die “gewone” motiewe gedryf word nie. Om die waarheid te sê, hy sou verkies om nié te moor nie. Maar hy ly aan sekere delusies en obsessies en dit maak hom ’n gekompliseerde karakter vol teenstrydighede. Teenoor hom staan die ongekompliseerde en toegewyde speurder Ella Neser, wat haar eie obsessies meer positief probeer uitleef. Eerder as ’n tradisionele speurverhaal uit die oogpunt van die speurder, is hier dus ’n sielkundige spel aan die gang tussen twee uiteenlopende persoonlikhede, en waarin moorde eintlik net deel van die “dekor” is.

Jy het ook tydens jou video-toespraak by die Woordveertjies die storie vertel van hoe James Joyce aan die einde van ’n suksesvolle skryfdag slegs sewe woorde geskryf het, maar nog nie seker was in watter volgorde hy die sewe woorde sou plaas nie. Is skryf vir jou ook ’n pynlike en stadige proses, of kom dit effe makliker as wat Joyce dit laat klink? Volg jy ’n spesifieke skryfroetine? (Ek vra jou nou eintlik vir die geheim van jou whiskies, à la Rachelle Greeff ... :)

Om die eerste betekenisvolle sin van ’n nuwe manuskrip neer te skryf is vir my ’n langsame, frustrerende en pynlike proses wat dae, selfs weke, kan duur. Dis waarskynlik daaraan te wyte dat ek teen daardie tyd min of meer my navorsing afgehandel het en my kop volgeprop is van woorde en beelde wat meeding om vrygelaat te word. Wanneer ek uiteindelik begin, is dit makliker om in ’n daaglikse skryfroetine in te val, omdat ek en my karakters gewoonlik al intieme vriende geword het, al bly ek deur die hele skryfproses nooit presies seker waarheen hulle my gaan lei nie.

Wie is die skrywers wat jou inspireer, en is daar enige spesifieke invloede van ander skrywers wat jy self in jou werk kan uitken?

Soos wat ek elke dag skryf, maak ek ook elke dag tyd om te lees. Ek volg die premis van: as jy nie lees nie, kan jy nie skryf nie. Ek is nie ’n vinnige leser nie, so een boek per week, maar dit hoop op tot 40, 50 boeke per jaar. Jy sit dus met ’n groot poel van inspirasie en invloede wat nie maklik gedistilleer kan word nie. Dit is daarom eerder ’n kombinasie van skrywers wat my inspireer, al probeer ek my eie stem laat geld. In die byna ’n jaar wat ek nou in Kanada woon, lees ek hoofsaaklik boeke van Noord-Amerikaanse skrywers, en so uiteenlopend soos van Elmore Leonard tot Mordecai Richler en Philip Roth.

By beide Abel en Ella Neser speel obsessie ’n belangrike rol in hul persoonlikhede. Ek het nog altyd gedink obsessie is een van die dinge wat groot kuns en letterkunde kenmerk. Is jy self obsessief oor iets, en sou jy wou sê waaroor, en hoe jy jou obsessie kanaliseer?

Ek het wel een of twee beskeie obsessies (as ’n obsessie beskeie kan wees), maar of dit in my geval “groot kunstenaarskap” kenmerk, betwyfel ek. Ter wille van stigtelikheid sal ek dit daar laat.

In die jongste aflewering in die Abel-trilogie, Abel se lot, speel geskiedkundige gebeure ook ’n belangrike rol. Het jy ’n persoonlike belangstelling in die geskiedenis van die Balkan, of is dit bloot “gerieflike” materiaal vir jou storie?

Die treurige geskiedenis van die Balkan deur die eeue het my nog altyd gefassineer, veral die menseslagting in Bosnië in die naam van etniese suiwering. Ten minste die motiewe daarvoor het my baie aan Suid-Afrika se onlangse geskiedenis laat dink, en veral aan die lot van kinders in sulke konflikte, en dikwels permanente geestelike skade wat hulle opdoen.

Weet jy reeds wat in die laaste aflewering gebeur, en is jy reeds aan die werk aan nommer drie?

Die derde en laaste Abel-boek se manuskrip behoort vroeg in die nuwe jaar by die uitgewer te wees. Ek het ’n vermoede dat Abel en Ella mekaar weer gaan ontmoet in ’n finale apokaliptiese botsing – of dit in Suid-Afrika gaan wees, of in Brugge, waar Abel hom nou bevind, is nog onseker. Brugge, met sy Middeleeuse kerke en argitektuur en atmosfeer, klink na ’n goeie plek vir so ’n rendezvous, veral nadat ek dit self besoek het om Abel se nuwe heenkome te gaan ondersoek.

Daar word tans oral gepraat oor die huidige opbloei in die Suid-Afrikaanse filmbedryf. Sou jy kon sien dat Abel moontlik ’n tweede lewe op die silwerdoek kan kry?

’n Filmmaker het die filmregte vir Abel se ontwaking reeds aan die begin van die jaar bekom, en is besig met die draaiboek-verwerking.