Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Cancer.vive: Onderhoud met Elise Fernandez

Cancer.vive: Onderhoud met Elise Fernandez


Nadine Petrick - 2011-09-13

Hoe het jy by Cancer.vive betrokke geraak?

Ek het betrokke geraak want toe ek self met borskanker gediagnoseer is, het ek nie geweet wat om te verwag of hoe om dit te hanteer nie! My lewe was op sy kop gekeer en ek is steeds besig om dinge weer op die regte pad te kry. Ek wil graag ander mense met kanker, of wat dit oorleef het, opvoed en “empower”; en hulp verleen aan mense wat sukkel om te cope.

Jy is nie net ’n borskanker-“survivor” nie, maar jy is nogal bekend in sekere kringe. Jy was Halle Berry se “body double” in haar jongste film. Maak dit jou werk as kankeraktivis makliker of dink jy mense is nog skaam om oor kanker te praat?

Ek gebruik nooit die Halle Berry-ding as ’n manier om die kankerbewusmakingsaak of ander social upliftment programme te beïnvloed of te boost nie. Ander mense vertel graag die storie vir ons ondersteuners, maar ek ry beslis nie die golf nie. Ek bou aan my eie nalatenskap en wil op niemand steun behalwe op God nie.

Wat het kanker jou geleer?

Kanker het my geleer dat die siekte al die grense van ras, kultuur, ouderdom en geloof oorsteek. Dit raak almal, en selfs mense wat dit nie self het nie, weet van mense wat hulle stryd daarteen verloor het of daarteen stry. Die impak op families en vriende van mense met kanker is ook massief. My hart gaan regtig uit na arm mense wat nie noodwendig die regte behandeling kan bekostig nie.

Jy het drie sinne om ’n boodskap van hoop aan ’n kankerlyer te gee ...

1. So maklik soos wat dit klink, so sensitief is ’n boodskap van hoop. Ek het ’n vriend en tannie wat albei ernstig siek is met kanker en soms het ek regtig nie trooswoorde nie. Maar ek is daar vir hulle en gee hulle al die ondersteuning wat ek kan.

2. Partymaal hoef mens net na iemand te luister, hulle te help bad, vir hulle in die hospitaal te gaan kuier of ’n SMS stuur. Dit gee hoop.

3. As ek my eie storie vir mense vertel, gee dit hulle hoop.

Hoe vier jy die lewe?

Ek dank God elke dag. As ek wakker word in die oggend, maak ek my gordyne oop, kyk op in die lug en sê dankie. Ek probeer ook om my lewenstyl en loopbaan te verander. So baie vroue vandag is oorambisieus en ons floreer op adrenalien en kompetisie. Glo dit of nie, maar kanker het my geleer wie ek regtig is, en daarom maak ek dit my prioriteit om die lewe te vier deur myself te gee aan my familie, vriende en lede van die gemeenskap.