Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Onderhoude | Interviews > Afrikaans > Cancer.vive: Onderhoud met Yolande Lubbe

Cancer.vive: Onderhoud met Yolande Lubbe


Nadine Petrick - 2011-09-08

Een van die groot projekte van Cancer.vive is ’n motorfietstoer deur die land vanaf 16 to 24 September. Hoekom motorfietse?

Girls op motorfietse maak definitief ’n statement. Net soos kanker, benodig motorfietsry baie dissipline, krag en konsentrasie om veilig op die pad te bly en sodoende veilig by jou bestemming uit te kom. Motorfietsry maak jou bewus van al die gevare rondom jou – net soos met kanker moet jy heeltyd op die uitkyk wees vir enige gevaartekens.

Waar gaan julle oral stop?

Wel, ons begin by UJ, wat vir my simbolies is van kennis (kennis oor die gevare van kanker). Ons eerste stop is in Heidelberg, ’n klein dorpie, maar daar is mense met hart. Ek ry baie verby die gemeenskapsdorpie Ratanda sonder om op te let oor die mense wat daar bly, nou sien ek uit daarna om nader kennis te maak met die mense.

Parys, vissermansparadys. Vir eens is die Vaalrivier se vissies veilig! Ons gaan ons stokke uitgooi na die mensies daar wat geraak word deur kanker.

Bloemfontein, die blommestad, of soms net die halfpadstad na en van die Kaap af. Hier waar kankerpasiënte van oral in die Vrystaat kom vir behandeling by die kankerhuis. Daar gaan ons die dorp verander in ’n kleurspel van blommeprag.

Richmond – hierdie dorpie gaan opgehelder word met die betowerende vrolikheid en inspirasie van mense wat ook eentyd maar stil was oor hulle omstandighede.

Beaufortwes, beautiful! Ek het nog nooit daar deurgery sonder dat iemand met my ’n geselsie aanknoop nie. Nou gaan ons geselsies daar aanknoop met die vriendelike plat-op-Gods-aarde-mense by die gemeenskappe en skole van hierdie droë karoodorp.

Ceres ... ek ken jou nie, drink net gewoonlik jou soet vars vrugtesappe wat ek hier in die stad koop. Ek kan nie wag om hierdie plek in my hart te “save” nie. Dis soos die einde van jou kankerbehandeling – mens kan nie wag om daar te kom nie!

Paarl, of sê mens nou Pêrel? Myle en myle se wynplase en die mense met die mooiste aksent.

Stellenbosch. Jy met jou studentelewe en eikebome. Die bekende wynlandgoed en wyn wat ons hier in Gauteng maar net op die wynrakke sien. Die rustigheid vanself. Dieselfde rustigheid wanneer ’n kankerpasiënt vrede gemaak het met sy/haar omstandighede.

Kaapstad, Tygerberg-hospitaal. In die media is dit gewoonlik die hospitaal waar baie ernstig-siek mense heen gaan. Maar net ’n kleintydbeeld wat my altyd sal bybly. Die Kasteel, wow – ek was laas daar voor ek my eerste tand gewissel het! Die groot vertrekke en sale in kontras met die een donker, klam tronkplekkie waar jy stilletjies die stemme van eeue heen hoor. Nou gaan dit anders wees: ons gaan lawaai, ’n statement maak en wys dat kankervrese nie in donker kamertjies opgesluit behoort te wees nie. Ons gaan dit op die punte hoog bo die kasteel uitblaker en kanonskote afvuur om die lewe te vier.

Atlantis ... klink of ons onder die seewater gaan kuier! Ek sien daarna uit om die gemeenskap te ontmoet.

V&A Waterfront. Waar ons eindig en waar die seevaarders die land inkom.

Hoekom het jy besluit om jou storie met ander mense te deel?

Ek het ’n baie alleenpaadjie gestap met my kanker, tot my spyt. Gehunker om dit met iemand te deel wat my vrese verstaan, iemand wat nie dink ek soek net simpatie nie, iemand wat raad kan gee hoe om die lang, eensame nagte makliker te maak, iemand na wie ek kon opsien wat reeds die paadjie geloop het. Daar is so baie mense in ons land, veral in die klein gemeenskappe, wat ook nie toegang tot so iemand het nie. Hulle moet weet dis oukei om bang te wees, maar dis nóg beter om dit met iemand te deel wat ook daardie paadjie geloop het. Die familie van ’n kankerpasiënt het net soveel ondersteuning nodig. Hulle verwag altyd die ergste en sien moeilik die reënboog anderkant die storm raak. Hulle moet ook die versekering kry dat ’n geliefde wat kanker het, ongelooflike krag van Bo kry om kaalvoet deur daardie storm te loop.

Wie of wat inspireer jou?

Daardie een dankie, drukkie of glimlag van iemand wat ek kon inspireer en ’n verskil aan kon maak terwyl hulle besig was met hulle eie innerlike stryd en vrese.

Hoe vier jy die lewe?

Met groot dankbaarheid. Elke aand as ek gaan slaap, elke oggend as ek my oë oopmaak, is ek dankbaar vir die klein dingetjies in die lewe – “That’s what memories are made of.” Ek maak die mense in my lewe my prioriteit. As ek tyd saam met hulle kan spandeer, gebruik ek elke minuut vir so lank as ek kan om saam met hulle te wees.

Ek doen dinge wat ek altyd gelos het vir “eendag ...”.

Ek lag meer, dan lag almal om my ook.

Ek haal die mooi uit elke dag uit.

Ek pak die dinge aan waarvoor ek altyd bang was.

As ek eendag my kop neerlê, wil ek nie spyt wees oor verspeelde tye nie. Dis soos ’n rivier: ’n mens kan nooit dieselfde water twee keer aanraak nie. As jy dit nie die eerste keer aanraak nie, kry jy nie ’n tweede kans nie.

<<< Lees Cancer.vive se onlangse persverklaring hier.