![]() |
![]() |
Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012) This is the LitNet archive (2006–2012) |
![]() |
||
![]() |
Gerrit Rautenbach - 2011-08-03 Skrywer: Gerrit Rautenbach Kopreis is jou eerste kortverhaalbundel en het pas op die rakke verskyn. Die titel dui reeds daarop dat jy reis ook as ’n metafoor in die teks aanpak. Vertel ons meer oor hoe jy onderskeid tref tussen lyfreis en kopreis en hoe jy die reise in jou bundel vir jou “rusbankreisiger”-lesers uitgekies het. ’n Mens kan nie regtig óór ’n “lyfreis”, of dan ’n fisiese reis, skryf nie, maar dit net béskryf. Dis daai “En toe”-ding: En toe’t ons begin ry. En toe het ons daar aangekom ... Die oomblik wanneer daar ’n storie by die beskrywing bykom, word dit in ’n mate ’n verbastering tussen ’n lyf- en kopreis. Dan is dit nie net meer die roete of bestemming nie, maar iemand se unieke en oorspronklike ervaring daarvan. Met ’n suiwer kopreis verander jou denke oor die lewe sonder dat jy noodwendig een tree beweeg. Die stories in dié bundel is ’n mengsel van die twee en het almal my lewe beïnvloed. In so ‘n mate dat ek dit graag aan soveel mense as moontlik wil vertel. In 1949 skryf Arthur R Schultz1 die volgende oor reisliteratuur:
Reisliteratuur het sedertdien op ’n ver paadjie diep spore getrap. Sou jy sê bostaande is steeds vandag van dié genre waar? Die meeste van die aspekte is nog daar, ja, maar die benaderings het baie verander. In 1949 was die wêreld nog relatief onontdek en inligtingstrome was baie beperk in vergelyking met vandag se internet, satelliettelevisie, e-boeke en dies meer. Met ander woorde, 62 jaar gelede kon jy bloot net ’n reis beskryf en genoeg nuwe inligting aan ’n honger leespubliek weergee. (In ’49 het mense nog oor ’n week oue koerant baklei). Vandag is daar nie meer nuwe bestemmings nie. Die reisskrywer moet dus ’n nuwe, anderse ervaring soek oor ou bekende plekke. Hy moet ’n unieke, oorspronklike storie skryf. ’n Kortverhaal met ’n begin, middel en einde. Sy eie ervaring. Wat is jou “prejudices or slants on affairs” wat jou stories inkleur? Om te reis is vir my die lekkerste ding op aarde en ek is van nature ’n ietwat emosionele mens. Dus is reis vir my ’n emosionele ervaring. ’n Heimwee, ’n lekker hartseer en goeie verlange. Ek skryf dit onwillekeurig in my stories in. Judith Adler beskryf in “Travel as Performed Art”2 dat reis as kuns beskou kan word wanneer reis die doel is, en nie net die middel tot ’n ander doel nie. Stem jy saam en waarin lê die estetika van reis vir jou? Die lewe is ’n reis. Maar wat is die doel van die lewe? Om te ontdek. Om jouself te verryk. Jou horisonne te verbreed. Antwoorde te soek en antwoorde te kry. Om ’n verskil te maak. Kortom, om voluit te lewe. Dan is reis mos die middel tot ’n doel. Maar om voluit te lewe is ’n kuns. Dan is reis mos ’n kuns. Met ander woorde, reis is alles. Alles is ’n reis ... Matthew Graves skryf3:
In vandag se post-postmoderne wêreld, waar dit maklik is om te dink alles is reeds vertel/gesê/gedoen, dink jy as reisskrywer is dit nodig om pal vir die nuwe in die oue te soek? Wend jy bewustelik ’n poging tydens jou reise aan om dit te doen? Dit is nie net nódig nie, dis die essensie van reisskryf. “Daar is geen nuwe oord om heen te gaan/ want kyk daar lê reeds spore op die maan,” het Koos Doep al dekades terug gesing. Maar jou spore is anders as enigiemand anders s’n. En dis die reisskrywer se verantwoordelikheid om oorspronklik oor sy nuwe spore rondom ’n ou bestemming te skryf. (Lees ook weer my antwoord by die tweede vraag.) Paul Fussell skryf (reeds in die tagtigerjare) in sy boek Abroad:
Stem jy saam met Fussel, en baie ander, dat kommersiële toerisme die moontlikheid van “eerlike”, outentieke reis nek omgedraai het? Eerlike, outentieke reis sal jy altyd kry. Dis wel nie meer alledaags vandag nie, want toerisme het baie reisroetes en -bestemmings in ’n sirkus verander. Tog is daar nog baie plekke en maniere oor. As jy net verby die ooglopende kyk. Jy kan byvoorbeeld reguit na die glinsterende Santorini toe neuk, of vir ’n uur per posboot verby hou tot by Hanafi, waar daar 300 locals bly wat vir jou sal voed en koester, maar daar is nie ’n enkele B&O, hotel of pension op die eiland nie. ’n Ander voorbeeld is om met ’n luukse, lugverkoelde trok ’n sogenaamde overland deur Afrika te doen. Met toegeruste kampeerplekke of chalets elke aand en ’n sjef wat vir jou kos maak en bedien. Of jy kan met plaaslike openbare vervoer – busse, treine en taxi’s vol bokke, hoenders en tien keer te veel passasiers - onder die vel van die rêrige Afrika kom. Dis daar waar jy die stories kry. >>> Koop Kopreis nou by Kalahari.net *** 1 “Goethe and the Literature of Travel” deur Arthur R. Schultz in The Journal of English and Germanic Philology 48:4, Okt 1949 (p 445-468). 2 “Travel as Performed Art” deur Judith Adler in American Journal of Sociology 94:6, May 1989 (p 1366-1391). 3 Matthew Graves: Nowhere Left to Go? The Death and Renaissance of the Travel Book. World Literature Today, 77(3/4):52–6, Okt–Des 2003.
|