Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Visueel | Visual > Foto's | Photos > Clover Aardklop Nasionale Kunstefees programbekendstelling

Clover Aardklop Nasionale Kunstefees programbekendstelling


2011-07-28
Untitled Document

Marguerite Robinson, die programbestuurder
Ousus
Andries Very, Mike Joyner, Dr Steve Booysen, Dr Chris Lerm, Prof Elain Vlok, Johan Botha
Hennie Jacobs en metgesel Karen Meiring, Saartjie
Mark Banks Dr Steve Booysen, voorsitter van die beheerliggaam


Clover Aardklop Nasionale Kunstefees van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word vanjaar van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom aangebied. Dié fees het ’n reputasie opgebou as ’n groot kunsinspuiting in die Noorde en vanjaar is daar weer verskeie opwindende produksies op die spyskaart.

Buiten vir produksies wat by Aardklop debuteer, soos ’n splinternuwe opvoering van Pieter Fourie se uitstaande Mooi Maria, kan gehore uitsien na trefferproduksies van ander feeste – onder meer Nicola Hanekom se Lot en Sylvaine Strike se The Table. Die fees word die Sondag op ’n hoë noot afgesluit – onder meer met ’n eksklusiewe solokonsert van die bekroonde pianis Petronel Malan.

  • Die program is beskikbaar op die webwerf en besprekings kan gedoen word deur Computicket.

 

Opwindende toneelprogram vir Clover Aardklop Nasionale Kunstefees vir 2011

Soos altyd bied vanjaar se program van die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees weer ’n sterk toneelaanbod met nie minder nie as 41 toneelproduksies wat te sien sal wees.

Dit sluit in trefferproduksies van ander feeste, maar lewer ook bewys van Aardklop se verbintenis daartoe om ’n platform te skep vir nuutgeskrewe Afrikaanse produksies en nuwe produksies van bestaande Afrikaanse en vertaalde dramas.

In die onthutsende Rooiland plaas jong dramaturg Tertius Kapp die kollig op bendestrukture in Suid-Afrikaanse tronke, geregisseer deur die bekroonde Jaco Bouwer. Bouwer is ook die skepper en regisseur van lig – ’n kombinasie van ruimtelike teater en kuns-in-uitvoering waarin oortuiginge rondom wetenskap, filosofie en teater naas mekaar gestel word.

In Aantrekkingskrag, Deon Opperman se splinternuwe drama, word daar gefokus op die verwikkeldheid van verhoudings, waarin onder andere Franci Swanepoel en André Odendaal te sien sal wees. Dramaturg Chris Vorster dra ’n satiries-komiese hoed met Buurtwag, terwyl Jan van Tonder van Roepman-faam die wêreld van die teater vir die eerste keer betree met sy prettige klug Die onbeholpe djin. Louise van Niekerk bekla die lot van ’n ouma in die snaakse en eerlike Ouma wys angel.

Een van Pieter Fourie se aangrypendste dramas, Mooi Maria, herleef in ’n nuwe produksie onder spelleiding van Albert Maritz. In die vertaalde Eendsonderend (David Mamet se Duck Variations) span die gevierde akteurs Marius Weyers en Louis van Niekerk kragte saam – ’n komedie-drama waarin twee bejaarde manne die wel en wee van die lewe in oënskou neem. Jon Fosse se Death Variations word aangebied as Doodsvariasies – ’n drama oor ’n egpaar wat probeer sin maak van hul tienerdogter se selfmoord. André Stolz is die regisseur.

Albert Pretorius is te sien in die titelrol van die Suid-Afrikaanse première van Will Eno se bekroonde tragi-komedie Thom Pain (based on nothing), terwyl hy saam met Gideon Lombard speel in die hoog aangeskrewe …miskien .

Trefferproduksies van ander feeste sluit in Sylvaine Strike se The Table; Charles Fourie se Agterplaas; Dis koue kos, skat met Elzabé Zietsman; Nag, Ma en Janneman (met Sandra Prinsloo wat in albei te sien is); Nicola Hanekom se veelbekroonde Lot; en die onthutsende Wees, geregisseer deur Hennie van Greunen. Voorgeskrewe werke soos Reza de Wet se Mis en Vaselinetjie (’n verwerking vanAnoeschka von Meck se boek) sal nie net byval vind by hoërskoolleerlinge nie.

Op die spyskaart is daar ook solovertonings van gewilde kunstenaars soos onder andere Marion Holm, Ben Kruger, Frank Opperman en Neels van Jaarsveld.

Die toneelprogram bied iets vir almal – van ontoerende en uitdagende dramas tot vermaaklike en komiese opvoerings.

  • Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket.

 

Intieme klassieke uitvoerings tot dawerende musiekkonserte by 2011 se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees se musiekprogram dek ’n wye spektrum: ligte musiek, klassieke musiek en dawerende konserte. Die musiekaanbod word vanjaar verstewig met drie lokale wat deur die week eiesoortige programme aanbied.

Optredes van gewilde rockgroepe en popkunstenaars word nou nie net meer tot Saterdag beperk nie. Dwarsdeur die week sal daar by die Vodacom/MK Bultfantasties etlike ure se musiek aangebied word waarin groepe en kunstenaars soos onder andere Van Coke Kartel, Karin Zoid, Jack Parow, The Parlotones, Locnville en veel, veel meer hul stemme gaan dik maak.

Die wie’s wie van die Afrikaanse ligte musiek-bedryf sal by die Clover-musiekarena (aangebied van Dinsdag tot die Saterdag) te sien wees. Dit sluit gewilde kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Gerhard Steyn, Nianell, Kurt Darren, Bok van Blerk, Juanita du Plessis en Robbie Wessels in – gans te veel om almal te noem.

Die amfiteater bied ’n andersoortige ervaring met Coenie en Evita; Classics & 70’s skud blad (Zanne Stapelberg en Joseph Clark); singende kitare en prettighede met The Good, The Bad and the Ugly; en Legendes sing legendes waarin bekendes soos Piet Botha en PJ Powers liedjies van talle kunstenaars sing wat hulle beïnvloed het of wat hulle reken van die beste is in die wêreld is.

Nataniël, Chris Chameleon, Mathys Roets, Lize Beekman, Myra Maud en Mel Botes bring splinternuwe vertonings na Clover Aardklop. Feesgangers kan ook uitsien na opvoerings van gunstelingkunstenaars soos Pedro Kruger, Amanda Strydom, pianis Rocco de Villiers en violis Annake de Villiers saam op die verhoog, en [Projek: Nuwe maan] met die interessante kombinasie van Laurinda Hofmeyr, Riku Lätti en Les Javan. En gly, gebasseer op die konsep van Glee, is ’n toonvenster van opwindende jong talent.

Op ’n ernstiger noot is wêreldbekende pianis Petronel Malan te sien in ’n ekslusiewe solovertoning wat spesiaal vir Aardklop saamgestel is; Ockie Vermeulen en Zorada Temmingh bied afsonderlik uiteenlopende orreluitvoerings aan; die Goldberg-kwartet gee lewe aan Beethoven se Opus 18-kwartete in drie uitvoerings; die Nederlandse barok-ensemble Furor Musicusis deel van Cantare et sonare en ’n konsertuitvoering van The Tempest; met Fagottisimo kry feesgangers die uitsonderlike geleentheid om vier fagottiste saam te beleef; en Magdalene Minnaar (korolatuursopraan), Liesl Stolz (fluit) en Mario Nell (klavier) is te sien in Vuurvoël.

Die Gugulethu-tenore maak vir die eerste keer ’n draai by Aardklop, die Tygerberg-kinderkoor kom wys hoekom hulle as van die beste in die wêreld gereken word en die Puk-koor onder leiding van Awie van Wyk hou ’n vroeë-Kersfees. Die Blondes (pianiste Zorada Temmingh en Elna van der Merwe) pak die musiek van Grieg en Gershwin aan.

Iets van alles is te sien op die musiekprogram – van die intieme tot aardskuddende konserte op groot skaal.

  • Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket.

 

Van visuele kuns tot kos – iets vir die siel én die liggaam deel van Clover Aardklop Nasionale Kunstefees se program vir 2011

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees spog vanjaar met ’n besondere visuele kuns-program. Oudergewoonte is daar ook indringende gesprekke, boekbekendstellings, kospraatjies, woordkunsproduksies, iets vir dansliefhebbers en die kinders word ook nie afgeskeep nie.

Feeskunstenaar Sam Nhlegethwa bring ’n spesiale uitstalling fees toe met van sy collage-, skilder- en drukkunswerk. Nhlegethwa is enersyds bekend daarvoor dat hy op jazz-musikante en die jazz-kultuur fokus, maar andersyds ook as sosio-politieke kommentator. Buiten dat feesgangers sy eie werk sal sien, is daar ook die bykomende bonus van ’n afsonderlike uitstalling van sy uitgebreide kunsversameling, wat werke van onder andere William Kentridge, Gerard Sekoto en Marlene Dumas insluit.

Solo-uitstallings van kunstenaars soos Frank van Reenen, Marie Stander, Rina Stutzer en Wendy Malan vorm deel van die program. Groepuitstallings sluit in die finaliste van die Absa L’Atelier; die jongste Rendezvous-kunsprojek waaraan kunstenaars van Suid-Afrika, Griekeland en Frankryk deelneem; kortrolprente wat die stedelike landskap verken; Rooftop III met verskeie kunstenaars; voormalige studente van UJ se visuele kuns-departement se interpretasie van die dialoog tussen liggaam en identiteit; ’n visuele woordkunsprojek met skoolkinders; en die uitsonderlike Leonard Cohen Tribute waarin verskeie kunstenaars visueel gestalte gee aan ’n liedjie van Cohen wat hulle geïnspireer het.

Op die dansfront maak die gevierde La Rosa-geselskap vir die eerste keer ’n draai by Aardklop met Flamenco Puro. Penumbra is ’n dansteaterstuk wat op die hartseerverhaal van Helen Martins fokus. Mimiekkunstenaar John Jacobs keer na etlike jare terug waarin hy bewys dat ’n mens sonder woorde boekdele kan spreek.

Die akteurspaar Carel Trichardt en Petru Wessels bring hulde aan digter en skrywer Uys Krige met Sol y Sombra en Chris van Niekerk lees voor uit PG du Plessis se uitmuntende Fees van die ongenooides. Kinders kan naderstaan vir Afrika-avonture, ’n nuwe aflewering van Boer Manie se plaaswedervaringe, ’n prettige (en leersame) storie oor klassieke instrumente en twee verhale van die nimlike Liewe Heksie.

Met die Diskoers-gespreksreeks word daar indringende debatte gevoer rondom die oorkoepelende tema van identiteit en oudergewoonte is daar vir boekliefhebbers boekgesprekke met ’n verskeidenheid skrywers.

| Spys en drank is ook op die spyskaart: Absa se kos-en-wynkonsert “Proe die beste”, Chris Koch wat whisky vanjaar met kos kombineer, Peter Veldsman wat oor ’n heerlike bord Boerekos sy kulinêre kennis deel, en die nou reeds gewilde Aardklop Lang Tafel waarmee die fees afgesluit word.

Van visuele kuns tot kos – Clover Aardklop bied iets vir siel én liggaam.

  • Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket.