Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Feeste | Festivals > Artikels | Features > Flicker en Wreckage verg "regterbrein-mentaliteit" bywoning

Flicker en Wreckage verg "regterbrein-mentaliteit" bywoning


Emma Kotze - 2011-07-07

As ons gaan aansit vir twee produksies waarin Andrew Buckland verskyn, is daar van nature ’n sekere verwagting by ons geskep. Ons kan ongelukkig nie sê dat hierdie twee produksies noodwendig al hierdie verwagtinge oortref het nie. Beide Flicker, met Anthena Mazarakiz en Craig Morris, en Wreckage het die gehoor met verskillende opinies laat wegstap.
Flicker

Regisseur: Gerard Bester
Rolverdeling:
Andrew Buckland, Athena Mazarakis, Craig Morris
Looptyd: 60 minute


Flicker
is ’n fisiese teaterstuk wat die effek van die verloop van tyd uitbeeld, beide in ’n mikro- en makrokonteks. Die stuk neem ’n baie interessante vorm aan met dié dat dit nie net fisieke teater behels nie, maar ook dialoog en digitale kuns. Dit is wonderlik om ou hande in die fisieketeaterbedryf te sien werk met uitmuntende tegniek en fisieke krag, wat grootliks bydra tot die kwaliteit van die produksie. Ongelukkig verskyn Buckland gedurende die produksie slegs in ’n digitale opname op die verhoog.

Flicker
is in sy eenvoud baie kompleks. Dit vra vrae oor die relatiwiteit van sake (“There comes a point when you ask yourself the question, what is the point?”) en oor verhoudings (“Have I got you, or have you got me?” vra die een akteur vir die ander terwyl hul in ’n bewegingsposisie verkeer). Ons is egter nie heeltemal oortuig dat die produksie in geheel genoeg “vleis” gehad het nie.



Wreckage
Looptyd: 70 minute

 

 

 

 

 

 

Wreckage is die eerste produksie wat gesamentlik geskep en op die planke gebring word deur UBOM! in samewerking met First Physical Theatre Company. Hul bespreek ’n interessante verhaal oor die aanlanding van uitlanders aan die wilde kus van Suid-Afrika ná hul skip in ’n storm verwoes is. Alhoewel die hoofstorielyn duidelik is, is die sub-storielyn effens verwarrend. Die mees steurende faktor is egter nie hierdie gebrek aan begrip van die logiese ontvouing van die storie nie. Dit is liewer hul poging om dit ten slotte aan die gehoor duidelik te maak met ’n uitgebreide monoloog. Alles wat dan vroeër aan die verbeelding oorgelaat was, word nou uitgespel, moontlik om die gehoor van hul ongemak te red, dié slag met ’n politieke agenda daarby. Daar kan egter min negatiewe kritiek gelewer word oor die tegniek, ontwerp en algehele kwaliteit van die produksie. Soos altyd bestaan dié toneelgeselskap uit vele talente, beide ouer en jonk.

As ’n geheel maak die produksie gebruik van ’n interessante mengsel van mediums. Hierdie element dra by om dit ’n eg Suid-Afrikaanse produk te maak. Die verhaal spring oor tyd en plek, wat die produksie ryk maak, en terselfdertyd moeilik om te begryp. Wreckage is ’n interessante benadering tot die geskiedenis van baie Suid-Afrikaners. Dié geskiedenis word vanuit die oogpunt van verskeie etnisiteite vertel.

Beide hierdie produksies is genotvol. ’n Mens moet egter nie gaan aansit met die verwagting om alles volledig te begryp nie, of om noodwendig emosioneel daardeur vervoer te word nie. Die vertonings moet bygewoon word met “regterbrein-mentaliteit”, waar jy jouself oorgee aan die kreatiewe en nie noodwendig  probeer om met normale logika sin daaruit te maak nie.

 

Klik op die skakels en lees nog resensies van teaterstukke by die Grahamstad Nasionale Kunstefees: